Covid-19: Hoe om ligte gevalle tuis te hanteer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Ligte gevalle van die koronavirus (Covid-19) kan tuis soos griep behandel word deur goed na jou gesondheid om te sien en jouself te isoleer.

Maroela Media het vroeër berig dat mense op sowat die vyfde dag nadat die virus opgedoen is, simptome begin voel en teen sowat die agtste dag sal weet of dit ʼn ernstige geval is of nie. Mense wat die virus slegs in ʼn ligte graad opgedoen het en wat oor die algemeen gesond is, kan tuis, in isolasie, behandel word.

Dr. Hantie Nienaber, algemene praktisyn van die mediese sentrum @Health in Centurion, sê die belangrikste ding wat jy kan doen as jy tuis die virus beveg, is om jouself van jou gesin te isoleer.

“ʼn Nies kan ses meter ver trek, ʼn hoes trek drie meter ver en gewone uitaseming bereik mense wat selfs twee meter ver is,” sê Nienaber.

As dit onvermydelik is om ander mense in die huis te hê, stel sy die volgende maatreëls voor:

  • Bly ten alle tye ten minste twee meter van ander mense af. Moet aan niemand raak nie.
  • Slaap in ʼn aparte kamer, alleen in ʼn bed.
  • Niemand moet toegelaat word om in jou kamer in te gaan nie.
  • Gebruik jou eie badkamer, wat niemand anders mag gebruik nie.
  • Gebruik jou eie eetgerei waaruit niemand anders mag eet of drink nie. Of gebruik eetgerei wat jy kan weggooi nadat jy dit gebruik het.
  • Moenie saam met jou gesin opskep vir ete nie.
  • Moenie saam aan tafel sit en eet, behalwe as jy ʼn tafel het wat julle twee meter uit mekaar hou nie.
  • Maak alle oppervlaktes waaraan jy vat gereeld skoon, maar probeer om so min as moontlik aan enigiets te vat.
  • Almal in die huis moet hul hande gereeld was en gesond eet om hul immuunstelsel sterk te hou.

Nienaber stel voor dat gewone griepbehandeling vir Covid-19 toegepas kan word as jy ʼn ligte geval het en nie ʼn risiko het om ernstig siek te word nie. Besoek jou dokter om te weet of jy ʼn hoë risiko geval is of nie.

Volg hierdie maatreëls tuis as jy die koronavirus het:

  • Drink genoeg vloeistof
  • Neem medikasie om jou simptome te verlig
  • Slaap genoeg
  • Moenie oefening, of enigiets doen wat jou hartklop gaan versnel nie.
  • Rus baie
  • Eet gesond
  • Vermy alkohol, kafeïen en geprosesseerde kos

Hoewel bogenoemde jou kan help om beter te voel, sê Nienaber dit is uiters belangrik om voorsorg te tref om niemand anders aan te steek nie, aangesien ʼn mens nie weet wie ʼn hoërisikogeval sal wees nie. Dit is belangrik om vir minstens 14 dae in isolasie te leef.

Healthline stel voor dat jy kos eet wat jou liggaam die nodige energie en voedingstowwe gee wat dit nodig het om te funksioneer. Kos soos:

  • hoendersop
  • knoffel
  • jogurt
  • vrugte met vitamien C soos tamaties, aarbeie en sitrusvrugte
  • groen groentes soos spinasie en broccoli
  • hawermout

Lees hier oor nog gesonde kos wat jou immuunstelsel versterk.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.