Covid-19: ‘Ses maande later weet ons dit van die virus’

(Foto: Virginia Mayo/AP)

Dr. Mark Holliday, ʼn algemene praktisyn by ʼn groot groepspraktyk in Suid-Afrika, het vroeër die week sy insigte oor Covid-19 op die plaaslike koronavirus-webwerf gedeel. Holliday is uiters positief en hoopvol oor die stryd teen Covid-19.

Na ʼn halfjaar van inperking in Suid-Afrika is ons steeds daagliks besig om meer te wete te kom oor die virus wat die wêreld siek gemaak het. Sommige pasiënte sukkel om simptome af te skud en ʼn betroubare entstof teen die virus ontwyk ons nog, maar ons kinders is oor die algemeen veilig.

Dit is wat medici tans met sekerheid van die virus weet:

Kan jy Covid-19 ʼn tweede keer opdoen?

Ja, ʼn handjievol gevalle wêreldwyd het dit bevestig en die media berig gewoonlik oor hierdie gevalle asof dit ʼn krisis vir die voorblaaie is. Immunoloë en viroloë is dit eens dat die algemene menslike immuunrespons teen Covid-19 heeltemal normaal is, soos wat ʼn mens sou verwag met die meeste virusinfeksies.

Wetenskaplikes sê ʼn daling van teenliggaampies na afloop van ʼn infeksie beteken nie dat jou immuunstelsel die virus vergeet het nie. Enige verdere ontmoeting met die virus sal jou immuunstelsel vinniger laat optree om jou te beskerm. Dit beteken ʼn tweede infeksie sal waarskynlik nie so erg wees as die eerste keer toe jy die virus opgedoen het nie, of jy kan dalk selfs glad nie sleg voel nie.

ʼn Mens kan ook op ʼn ander manier na alles kyk: Veronderstel ʼn klein aantal mense doen wel Covid-19 ʼn tweede keer op, byvoorbeeld 0,1% of een uit ʼn 1 000 mense. Met die wêreldgetalle vir infeksies wat tans op om en by 29 miljoen staan, beteken dit dat net 29 000 mense ʼn tweede keer positief vir die virus sou toets. ʼn Mens sou al van hierdie getalle gehoor het as dit wel die geval was, in stede van die handjievol mense met wie dit wel al gebeur het. In die 0,1%-scenario beteken dit natuurlik ook dat 28 971 000 mense nie ʼn tweede infeksie sou opdoen nie.

Help maskers?

Ja. ʼn Opname toon dat daar ʼn skerp afname is in die infeksiesyfers in gemeenskappe wat wel maskers gebruik. Verder het toetse vir teenliggaampies getoon dat daar ʼn toename in asimptomatiese persone in die betrokke gemeenskappe was. Dit beteken dat alhoewel maskers jou nie ten volle teen die virus beskerm nie, jy ʼn verdunde aantal virusse in lae hoeveelhede in jou boonste lugweë kry wat ʼn immuunrespons sonder die duidelike simptome van die siekte veroorsaak.

Goeie nuus oor kinders

Die Universiteit van Liverpool het die pediatriese syfers van 260 hospitale in Engeland, Skotland en Wallis bestudeer. Van die 69 500 Covid-19-pasiënte in die hospitale, was net 651 jonger as 19 jaar oud en 225 van die pasiënte was onder die ouderdom van ʼn jaar.

Geen kinders wat nie ernstige onderliggende siektes (komorbiditeite) gehad het nie, het gesterf en ook geen kinders tussen die ouderdom van ʼn maand en 15 jaar oud wat dié virus opgedoen het nie. Kinders se simptome is soortgelyk aan die van volwassenes, maar kinders wat in hoësorgeenhede opgeneem is, het ook simptome van verwarring, veranderde bewussyn en konjunktivitis getoon. Dit word egter vermoed dat die kinders wat wel in hoësorgeenhede beland het, die virus in die hospitaal opgedoen het.

“Langasems” –mense wat langer aan simptome ly:

ʼn Nuwe kommerwekkende tendens van hierdie siekte is die aantal mense wat vir langer aan simptome ly nadat hulle die aanvanklike virusinfeksie oorwin het.

Algemene statistieke oor die herstelproses toon dat 20% van die mense wat Covid-19 opgedoen het vir ongeveer 30 dae aan die simptome van die virus ly en 10% het na 45 dae nog simptome getoon. Dit beteken langtermynpasiënte kan letterlik maande lank siek voel.

Hierdie sogenaamde langasems (long-haulers) toon baie van die simptome van yuppie-griep wat die eerste keer in die laat 1980’s gerapporteer is. Die siekte se fisieke oorsaak kon nooit regtig bevestig word nie, en baie van die pasiënte is na psigiaters verwys.

Daar is nou ook ʼn hernude belangstelling in webwerwe met inligting oor mialgiese enkefalomiëlitis (ME), yuppie-griep en chroniese moegheidsindroom (CFS) omdat baie van die simptome met die van die sogenaamde langasems ooreenstem. Daar is tans meer as 60 000 mense in die Verenigde Koninkryk wat klagtes hieroor aangemeld het.

Simptome is baie en uiteenlopend, maar hoofsaaklik:

  • Uiterste moegheid, wat vererger word deur selfs die ligste oefeninge
  • Asemloosheid
  • Swak konsentrasie en fokus
  • Hoofpyn
  • Spier- en gewrigspyne
  • Slapeloosheid
  • Hoes en borspyn
  • Duiseligheid
  • Geheueverlies en angs
  • Ander simptome wat eenvoudig net nie die wyk wil neem nie soos ʼn gevoel van oormatige lomerigheid, smaak- en reukverlies, dorsheid en pynlike vingers en tone.

Hierdie pasiënte se probleme word vererger omdat hulle geen energie het om te werk nie en dit gaan gewoonlik met ʼn verlies aan inkomste gepaard. Akademici sukkel om die oorsaak van die sindroom te bewys en laboratoriumkenners kan ook nie die teenwoordigheid daarvan bewys nie, terwyl daar al gevind is dat werkgewers geneig is om al minder simpatiek teenoor ME- en CFS-lyers op te tree en dit as luiheid af te maak.

Behandeling is hierdie stadium grootliks ondersteunend van aard met ʼn verskeidenheid van aanvullings wat voorgestel word.

Holliday is bevrees dat hierdie toestand kan meebring dat pasiënte die prooi van onetiese alternatiewe praktisyns kan word. “Hulle kan maklik desperate pasiënte afpers met enige iets van energiedruppels, onbeproefde aanvullings tot osoonbehandelings. Tog kan die verskynsel nou ook ernstige wetenskaplikes meer gefokus na die ME-sindroom laat kyk om dit fisiologies te help verklaar.”

Sal ons hierdie jaar ʼn veilige entstof teen Covid-19 sien?

Nee, Holliday vermoed dit sal waarskynlik eers teen middel 2021 beskikbaar wees.

ʼn Groep entstofontwikkellaars wat Pfizer, Moderna, J&J, GSK en Sanofi insluit, het onlangs ʼn ooreenkoms onderteken om geen entstof uit te reik nie alvorens dit aan streng standaarde voldoen.

“Ek vermoed dit was om enige politieke druk voor die Amerikaanse verkiesing te voorkom.”

Die Oxford/Astra Zeneca-groep het toetse vir ʼn entstof gestaak nadat hulle ʼn geval van spinale infeksie gehad het. ʼn Ondersoek het getoon die pasiënt het ʼn geval van onderliggende veelvuldige sklerose gehad en die toetse is nou weer op dreef.

Dit is insiggewend om te onthou dat entstowwe vir varkgriep, veral in ʼn uitbreking in 1976 in die VSA, sonder voldoende toetse uitgerol is. Hierdie besluit het tot ʼn duisend gevalle van Guillain-Barre-verlamming gelei.

Sal ons ʼn tweede golf van die Covid-19-infeksies sien?

Waarskynlik, sê Holliday, en terwyl daar daagliks meer inligting hieroor aan die lig kom, is dit ʼn onderwerp wat hy graag in ʼn opvolgartikel in besonderhede sal wil bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Hou verby dankie soek nie die entstof naby my of my gesin nie!!!

Anoniem ·

Ek is ook nie bereid om my te laat inent met hierdie vaksiene nie. Dit is net te onbekend en ek gaan my nie blootstel aan hierdie risiko nie.

OW ·

As ‘n virus entstof ontwikkel word,word gebruik gemaak van lewendig verswakte virusse.Dieselfde soos griep entstof ontwikkel is.Jy kan ligte simptome ontwikkel, maar moet geen verkoue of griep onderlede het tydens toediening nie.Indien wel kan mens baie siek word.

Chris ·

Wat is die Covid -19? Die afgelope ses maande in afsondering, het ons hoofsaaklik ervaar, gesien en geleer en dus weet ons nou baie meer van die mense in beheer, bedrog, misdaad, hare, diskriminasie en dat sekere lewens, eintlik nie saak maak nie.

Neestemmer ·

Covid sal terug wees volgende jaar net soos elke jaar se seisonale griep , dis al wat Covid is. O ja, lapmaskers help niks vir beskerming teen virus nie, jy het ‘n Hazmat suit daarvoor nodig. Alles twak hierdie is ‘n plandemie, hoekom is daar niemand die jaar aan griep dood nie? Elke jaar sterf 11800 mense aan griep in SA, maar die jaar nie? Maar wel aan Covid….dis wat mens noem Plandemie.

OW ·

Daar sterf elke jaar mense van griep in SA.Griep is lankal nie meer aanmeldbaar nie en entstowwe bestaan al dekades lank om griep te beheer.Griep is endemies en Covid 19 epidemies(groot verskil tussen endemies en epidemies.Covid 19 oorheers omdat geen voorkoming nog bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.