Covid-19: Verskerp jou waaksaamheid in piektydperk

Maande het verloop sedert die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het, en baie mense begin nou toelaat dat krake in hul beskermingplan teen dié virus wys.

Deesdae word foto’s van familiekuiers, braais saam met vriende en verjaarsdagpartytjies vrylik op sosiale media gedeel, wat daarop dui dat Suid-Afrikaners nie meer so versigtig vir die virus is soos voorheen nie.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê tot dusver het voorsorgmaatreëls,  soos om ʼn masker te dra, jou afstand te hou en jou hande gereeld te reinig, veroorsaak dat die land beduidend minder gevalle van griep en verkoue gehad het.

“Influenza-gevalle piek gewoonlik tydens April in Suid-Afrika, maar vanjaar was daar amper geen teken daarvan nie,” sê sy.

Dit is wel belangrik om die risiko van griep en verkoue, en nie net Covid-19 nie, laag te hou ten einde nie bykomende druk op die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel te plaas nie.

Jennings maan mense om nie hul gesondheidsmaatreëls te verslap soos die vlak van inperking in Suid-Afrika verlaag word nie.

“Almal is teen die tyd al moeg vir sosiale afstand en isolasie, maar moenie jou gesondheid op die spel plaas nie. Mense smag na normaliteit, maar die realiteit is steeds dat hoe meer ons met mekaar in kontak kom – self al dra ons maskers en handhaaf ʼn sosiale afstand – hoe groter is jou risiko vir infeksie,” sê Jennings.

Hier is maniere waarop mense hulself kan beskerm in die tyd waarin Covid-19-gevalle na verwagting ʼn piek kan bereik:

  1. Die eerste ding wat jy moet doen, is om goeie higiëne te handhaaf. Was jou hande met seep en water voordat jy met kos werk en nadat jy genies, gehoes, of die badkamer gebruik het.
  2. ʼn Gesonde dieet bly belangrik wanneer dit kom by ʼn sterk immuunstelsel. Kies so ver moontlik vars, plant-gebaseerde kos. Bevrore groente en vrugte is ook goeie keuses. Ten minste twee derdes van jou bord moet uit groente, volgraanprodukte en vrugte bestaan. Die oorblywende derde kan ʼn bron van proteïne soos maer vleis of afkomstig van plante wees.
  3. As dit nie vir jou moontlik is om ʼn gebalanseerde dieet te volg nie, maak seker jy neem ʼn multivitamien om jou immuunstelsel ʼn hupstoot te gee.
  4. Of jy by die huis of by die kantoor werk, maak seker jy neem gereeld blaaskanse – veral as jy die meeste van die tyd sit. Maak seker om ten minste een keer per uur op te staan en te strek.
  5. Bly goed gehidreer deur 6 tot 8 glas water per dag te drink.
  6. Doen gereeld oefeninge om stres en angstigheid onder beheer te hou. Probeer om te stap of te draf, of enige ander oefening wat jy by die huis kan doen. Jy sal baie idees op YouTube kry vir oefeninge by die huis sonder enige apparaat en vir enige fiksheidvlak.
  7. Sluit jou dag af met ʼn goeie nagrus. Gesonde slaapgewoontes help om ʼn sterk immuunstelsel te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duck

En moet asb tog nie rook nie……:)

Juls

Julle vergeet die voordele van ‘n glas rooiwyn……maak drankverkope oop!

marius

Verduidelik presies waneer is die piek tydperk ?