Damprook: Nuwe generasie in verslawing verstrengel

(Foto: iStock)

Die gebruik van damprooktoestelle (vaping) versprei vinniger as ʼn veldbrand, veral onder tieners. Sommige is so klein soos ʼn geheuestokkie of pen en maklik om in jou skoolbaadjie of -trui se mou te verberg; dit het nie ʼn stankwalm wat talm nie; en wie hou nou nie van die smaak van vanielje en vla, koekies en kersies, spookasem of aarbeie en room nie?

Net soos die sigaretadvertensies van destyds (teen die agtergrond van eksotiese vakansiebestemmings en op die maat van polsende wysies) rook as iets “cool” bemark het wat deur modelmooi mense gedoen word, net so veroorsaak die vryelike beskikbaarheid, kleurvolle verpakking en meer as 7 000 vloeistofgeure dat ʼn nuwe generasie in verslawing verstrengel raak.

Ten spyte daarvan dat die heel eerste e-sigaret (wat die weg vir sy moderne, kleiner damprookboeties gebaan het) presies 20 jaar gelede in 2003 deur die Chinese apteker Hon Lik ontwikkel is, is navorsing oor die gesondheidsgevare van damprook nog in sy kinderskoene.

Ofskoon gewilde argumente is dat dit ʼn gesonder en goedkoper alternatief op sigaretrook is, en die ideale “brug” tussen sigaretrook en ophou rook bied, toon al meer studies dat jy nie deur die afwesigheid van teer in dié toenemende tendens getroef moet word nie.

Só lyk die syfers

(Foto: iStock)

Volgens organisasies en bronne soos die Wêreldgesondheidsorganisasie, Euromonitor en The Lancet, het die getal damprokers sedert 2011 van 7 miljoen tot nagenoeg 60 miljoen toegeneem. Dit is gelykstaande aan bykans die totale Suid-Afrikaanse bevolking! Dié gebrekkig gereguleerde bedryf blom met verkope van bykans $30 miljard (R540 miljard) per jaar – ʼn syfer wat na verwagting tussen 2023 en 2030 tot $183 miljard (of sowat R3,3 biljoen) gaan opskiet.

Die mees skokkende syfer is sekerlik die beraamde toename van 1 800% in damprook onder kinders so jonk soos 15 jaar. Die argument dat damprook jongmense teen sigaretrook skerm, hou nie steek nie, met tot 30% van tieners wat hul geurige wolkbolle binne ses maande vir tradisionele sigarette verruil omdat die smagting na ietsie sterker hulle al dieper in die nikotiendryfsand laat sink.

Navorsing deur die Universiteit van Kaapstad het verlede jaar bevind dat 25% van matrieks in ʼn studie damprooktoestelle gebruik om spanning en angs te verlig, en boonop dat bykans die helfte van dié leerders se ouers salig bewus is van dié gewoonte. Die persentasie plaaslike damprokers het luidens dié studie in slegs ses jaar meer as tienvoudig (vanaf sowat 2%) toegeneem.

Met Wêreldteentabakdag wat op 31 Mei gevier word, pleit aktiviste vir die implementering van die beplande strenger rookwetgewing, wat e-sigarette en damprooktoestelle insluit, in Suid-Afrika.

Die nuwe wetsontwerp (Control of Tobacco Products and Electronic Delivery Systems Bill) maak onder meer voorsiening vir ʼn verbod op sigaretverkope deur muntoutomate en die uitstal daarvan by verkooppunte, ʼn algehele verbod op rook in bepaalde openbare plekke, asook rook in voertuie waarin kinders jonger as agtien of ander passasiers is. Jou huis- of tuinwerker kan jou ook voor stok kry as jy in hul teenwoordigheid ʼn dampie maak. Duidelike waarskuwings op verpakking is ook damprokers se voorland.

Vervaardigers sal vanaf Junie vanjaar ook aan aksynsbelasting onderworpe wees. Nikotien- en nikotienvervangingsoplossings vir damprookprodukte sal vanaf 1 Junie 2023 ook deur die belastingnet ingekatrol word met ʼn vaste aksynsbelastingkoers van R2,90/ml.

Geen gevaar? Twak, sê kenners

(Foto: iStock)

Damprooktoestelle werk amper soos ʼn nebuliseerder, maar pleks van ʼn medisinale mis, dring damprook die longe as ʼn mengsel van potensieel skadelike stowwe binne. Hier’s vyf bewese redes waarom dampstokkies en sigaretstompies oor dieselfde gesondheidskam geskeer (kan) word:

  1. Die meerderheid e-sigarette of damptoestelgeure bevat nikotien. Nikotien is hoogs verslawend (dit neem slegs 10 sekondes vir nikotien om die brein te bereik), plaas ʼn demper op tieners se brein- of sinapsontwikkeling en die smagting na die euforiese gevoel wat nikotien veroorsaak, bereik nooit versadigingspunt nie. Daar is trouens bevind dat tieners ná ʼn paar proetjies ʼn al sterker “gevoel” soek en mettertyd na vloeistof (“juice”) wat meer nikotien bevat óf selfs sigarette oorskakel.
  2. Nikotien en onttrekkingsimptome loop hand aan hand en daarom is damprooktoestelle allermins die antwoord as jy wil ophou rook. Nikotien verhoog bloeddruk en laat jou adrenalienvlakke soos ʼn perd galop, wat hartklop en die waarskynlikheid van ʼn hartaanval verhoog.
  3. Navorsing het bevind dat die langtermyngebruik van e-sigarette of damprooktoestelle die funksie van die liggaam se bloedvate aansienlik belemmer, wat die risiko vir kardiovaskulêre siekte verhoog.
  4. Die damprookdeeltjies wat jy inasem, kan inflammasie (swelling) en irritasie in jou longe veroorsaak. Dit kan lei tot longskade soos littekens en vernouing van die buise wat suurstof na en van jou longe vervoer.
  5. Damprook stel ʼn mens wel aan veel minder skadelike stowwe as die sowat 7 000 chemikalieë in sigarette bloot (waarvan minstens 69 bewys is om kanker te veroorsaak), maar is alles behalwe blote waterdamp. Dit kan steeds (verskuilde en vreesaanjaende) skadelike stowwe soos die volgende bevat:
  • Asetaldehied en formaldehied – wat kanker en DNS-skade kan veroorsaak.
  • Akroleïen – ʼn Onkruiddoder wat onomkeerbare longskade kan veroorsaak.
  • Bensien – ʼn Verbinding wat in motoruitlaatgasse gevind word en op die langtermyn kanker soos leukemie kan veroorsaak. Dit kan ook irritasie van die oog, neus en keel veroorsaak, asook hoofpyn en naarheid, en die lewer, niere en senuweestelsel beskadig.
  • Kadmium – ʼn Giftige stof (dink batterysuur) wat die risiko van asemhalingsprobleme soos chroniese obstruktiewe longsiekte en emfiseem verhoog. Dieselfde stof kom in sigarette voor.
  • Diasetiel – ʼn Chemiese verbinding wat gebruik word om kos ʼn bottergeur te gee. Studies verbind die inaseming daarvan met ʼn longsiekte genaamd bronchiolitis obliterans, ook bekend as “springmielie-long”.
  • Dieetileenglikol of propileenglikol – ʼn Helder, reuklose vloeistof met ʼn soet smaak wat in produkte soos teenvriesmiddels voorkom. Dit word as basis in e-vloeistowwe gebruik en verander in damp wanneer dit verhit word, maar kan propileenoksied, ʼn bekende karsinogeen, produseer, en ernstige longsiektes veroorsaak.
  • Nikkel, tin, lood en ander swaar metale – Swaarmetaaltoksisiteit kan die funksionering van die longe, brein, lewer, niere en ander organe beskadig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kragaap ·

Rook, in watter vorm ookal, bly maar ‘n irriterende en ongesonde gewoonte. Veral vir diè wat blootgestel word aan die tweede handse vrot.

Erika ·

Elke keer wat ek agter iemand ry wat hierdie “vaping” – toestel – wat ookal rook, lyk dit kompleet of hulle bye uitrook uit hulle voertuig, is net rook dampe. Belaglik, lagwekkend, al hierdie dampe rook om jou, nee wat, nie vir my nie! Elke persoon seker vir hom of haar self.

Susanna ·

Nee, maar daai soet reuk is soms so erg dat dit jou naar maak en jou maag brand., veral as jy kuier by mense wat damprook of die hubbly ding doen. Weet nie wat is die ergste nie, gewone sigaret rook of daai aaklige soet reuk. Weet nie hoe mense heelaand aan daai goed kan suig nie, Ek dink tog ek kan sigaret rook eerder hanteer as daai walms.

Roelof ·

“Alhoewel damprook dalk nie 100% veilig is nie, is meeste van die chemikalieë wat rookverwante siektes veroorsaak afwesig en die chemikalieë wat teenwoordig is, hou beperkte gevaar in. Daar is voorheen beraam dat damprook ongeveer 95% veiliger is as rook. ” Volgens navorsing van Engeland se departement van gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.