Diabete en alkohol: Hoe om veilig te bly

(Foto: Pixabay)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) neem die gemiddelde Suid-Afrikaner 11 ℓ alkohol per jaar in. Dit is byna twee maal die wêreldgemiddelde hoeveelheid.

Die Internasionale Diabetesfederasie (IDF) het bygevoeg daar is 3,5 miljoen diabete in Suid-Afrika, en moontlik tot twee miljoen ongediagnoseerde diabete.

Omy Naidoo, ’n dieetkundige by Newtrition Wellness Dieticians, sê die grootste probleem met alkoholinname vir diabete is dat die simptome van hipoglisemie, wat deur lae bloedsuikervlakke veroorsaak word, baie soortgelyk is aan wanneer ʼn mens te veel gedrink het.

“Die persoon se tong sleep dalk, hy of sy voel onstabiel of moeg. So, as jy saam met mense uitgaan en jy het lae bloedsuikervlakke, kan hulle dalk dink jy het te veel gedrink wanneer jy eintlik ʼn mediese noodgeval is,” sê Naidoo.

Wanneer lae bloedsuikervlakke, of hipoglisemie, nie behandel word nie, kan dit veroorsaak dat jy ʼn epileptiese toeval kry, jou bewussyn verloor, en in die ergste gevalle kan dit jou lewe eis.

As diabeet is dit belangrik om die risiko wat met alkoholinname gepaardgaan te beperk. Hou die volgende wenke in gedagte:

  • Drink alkohol matig: Dit beteken nie meer as twee alkoholiese drankies per dag vir mans en een drankie vir vroue nie. Een drankie is gelykstaande aan een skeut sterk alkohol, ʼn 330 ml-blikkie bier of ’n mediumgrootte glas wyn.
  • As jy medikasie soos insulien of tablette moet neem op ʼn aand wanneer jy alkohol gaan drink, maak seker daar is ʼn nugter persoon wat jou kan help. Mense wat te veel gedrink het, is geneig om meer insulien te gebruik as wat hulle gewoonlik moet inneem.
  • Oefeninge verlaag jou bloedsuikervlakke, so op ʼn aand wanneer jy dalk meer gaan drink en moontlik baie gaan dans, sal jou kans op hipoglisemie toeneem.
  • Werk saam met ʼn dieetkundige ʼn plan uit oor hoe om alkohol in jou dieet in te werk sonder om jou gesondheidsdoelwitte te benadeel.
  • Belê in ʼn mediese armbandjie wat aandui dat jy ʼn diabeet is, sodat mense om jou sal weet dat jy moontlik ʼn mediese noodgeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.