Dié maaltye en medisyne nie maats

Sommige medikasie kan glad nie saam met maaltye, sekere kossoorte of drank geneem word nie. (Foto: iStock)

Het jy al sommer ’n pilletjie met jou koffie of ’n glas melk afgesluk? Dan moet jy jou ore spits. Sommige medikasie wat saam met andersins “gesonde kos” of jou gunstelingdrankie geneem word, kan ’n nadelige uitwerking op jou liggaam hê óf die werking van die medisyne teenwerk.

Dié maaltye en medisyne is nie maats nie:

Pomelo’s en pomelosap. (Foto: Verskaf)

Pomelo’s en pomelosap: Pomelo’s kan die opname van sekere medisyne deur die dermkanaal in die liggaam verhoog en die afbreek van medisyne in die lewer onderdruk, wat tot gevolg het dat te veel medisyne deur jou liggaam beweeg. Dit beteken jy kan jou vergiftig met ʼn normale dosering.

Alkohol (Foto: Verskaf)

Alkohol: Alkohol kan jou bloeddruk gevaarlik laat daal, of dit kan die risiko om lewerskade te kry of pankreatitis te ontwikkel, verhoog indien jy dit saam met sekere soorte medikasie neem. Onthou: sekere soorte medisyne bevat ook alkohol en saam met ’n sopie kan dit jou meer onder die invloed laat as wat jy besef.

Kafeïene (Foto: Verskaf)

Kafeïenryke drankies/voedsel: Kos of drankies met ’n hoë kafeïeninhoud wat saam met kafeïenryke medikasie geneem word, kan ʼn drastiese toename in die uitwerking van kafeïen in jou liggaam veroorsaak. Dit kan aanleiding gee tot verhoogde wateruitskeiding, slaaploosheid, bewerigheid en ʼn onegalige hartklop. Dit is ook nadelig as jy medisyne vir asma of antihistamien gebruik.

Melk en suiwelprodukte. (Foto: Verskaf)

Suiwel: Sommige suiwelprodukte met ʼn hoë kalsiuminhoud, soos melk, jogurt en kaas, kan die opname van medikasie soos sekere soorte antibiotika in die liggaam vertraag. Die antibiotika kan aan die kalsium bind, wat ‘n onoplosbare stof in die maag en die dunderm vorm wat nie deur die liggaam geabsorbeer kan word nie.

Drop of “licorice”. (Foto: Verskaf)

Drop (“licorice”): Dit kan die kalium in jou bloed verlaag. In kombinasie met sekere soorte medikasie kan dit lewensgevaarlik wees omdat lae kaliumvlakke hartaritmieë kan veroorsaak.

Spinasie en ander groen blaargroente. (Foto: Verskaf)

Vitamien K-ryke voedsel: Eet gerus daardie groen groente, maar oppas om medisyne saam met blaarryke groente soos broccoli, spinasie en selfs aspersies te neem. Dit kan die werking van middels wat die bloed verdun en bloedklonte voorkom, soos Warfarin, teenwerk, omdat dit die teenoorgestelde uitwerking op die bloed het.

Vitamiene E kom in sekere neute voor. (Foto: Verskaf)

Vitamien E: Die neem van vitamien E (grondboontjies, sonneblomsaad en ander neute en sommige olie is ryk hieraan) saam met bloedverdunners kan ook die stolling van bloed teenwerk en die risiko van bloeding verhoog.

Vesel (Foto: Verskaf)

Veselryke kos: Voedsel wat veselryk is, beïnvloed sommige antibiotika, soos penisillien. Aangesien vesel die tempo wat die maag leeg word, vertraag, word die opname van medikasie ook vertraag, wat jou ’n laer dosis gee.

Avokadopere (Foto: Verskaf)

Kos wat tiramien bevat, soos sjokolade, bier, wyn, avokado, sommige verouderde kaas en verwerkte vleis, kan ʼn interaksie hê met monoamien-oksidase (MAO)-inhibeerders, ʼn soort antidepressant, asook medisyne wat vir Parkinson-lyers voorgeskryf word. Wanneer jy hierdie kossoorte in oormaat saam met dié medisyne eet, kan jou bloeddruk die hoogte in skiet.

 Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en/of apteker oor die moontlike newe-effekte of interaksie wat medisyne (voorskrif- én oor-die-toonbank-medisyne) met enige aanvullings of voedselprodukte kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

Wat is die “moral of the story” – sluk maar jou pille met water af

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.