Die twee kante van essensiële olies

Essensiële olies (Foto: Unsplash/Nathan Dumlao)

Essensiële olies is ʼn bekende produk in die handelsmark – of dit nou ʼn geleentheid is om geld te verdien, gebruik word om jou huis lekker te laat ruik, of ʼn poging is om ʼn siekte in die kiem te smoor – essensiële olie is al lank op ons radar en dit lyk of dit hier is om te bly.

Jy het waarskynlik al van essensiële olies gehoor by vriende of bure wat deur middel van ʼn multivlakbemarkingskema ʼn ekstra geldjie probeer verdien met die verkoop van dié olies. Dikwels beloof die olies om jou te help met spanning, slaaploosheid, hardlywigheid en velprobleme. In ekstreme gevalle beloof dit om jou teen kanker te beskerm en om selfs die impak van outisme te verlig.

Aan die ander kant is die wetenskaplike navorsing oor dié olies egter uiters beperk. Die resultate van hierdie studies is te klein om noemenswaardig te wees en die olies is dikwels nie so indrukwekkend soos wat die verkoper jou wil laat glo nie.

Wat is essensiële olies?

Hierdie soort olies vang die plant se geur en reuk vas – dus die “essens” van die plant (vandaar die naam).

Die olies word onttrek deur middel van ʼn distillasieproses deur meganiese metodes soos om die plant koud te pers om die olie te onttrek. Sodra die aromatiese chemikalie onttrek is, word dit gemeng met ander olies om die produk vir gebruik gereed te maak.

Essensiële olies word nie gemaak om in te neem nie, maar eerder om op die vel te smeer, om in te asem of om te ruik. ʼn Paar druppels olie kan ook in ʼn lugbevogtiger gegooi word om ʼn vertrek lekker te laat ruik.

Gewilde geure van essensiële olies is laventel, denne, peperment, ilang-ilang, teeboom, jasmyn en suurlemoen.

Wat kan essensiële olies doen?

ʼn Paar klein studies is al gedoen om die uitwerking van essensiële olies te toets en goeie resultate het na vore gekom vir die behandeling van slaaploosheid, spanning en hoofpyne.

Spanning en angs

ʼn Paar studies het getoon dat die reuk van ʼn essensiële olie soos roosmaryn en laventel saam met medisinale behandeling kan help vir die verligting van angs en spanning. ʼn Massering met die gebruik van hierdie olies kan dus help om spanning te behandel, hoewel die voordele van die olie slegs vir die duur van die massering bly.

Hoewel meer as 200 studies al oor hierdie onderwerp gedoen is, sê Healthline slegs tien daarvan was sterk genoeg om ʼn goeie analise te kon doen. Meer studies is dus nodig om die bewerings te ondersteun.

Hoofpyn

ʼn Handjievol studies kon suksesvol toon dat pepermentolie kan help om hoofpyn te verlig wanneer dit aan die slape gevryf word, maar verdere hoëgehalte studies is nog nodig.

Slapeloosheid

Laventelolie kan hospitaalpasiënte help slaap, en die meerderheid studies toon dat die reuk van laventel ʼn positiewe uitwerking op mense se slaapgewoontes kan hê.

Wat kan essensiële olies nie doen nie?

Hoewel ʼn moedelose ma enigiets sal probeer om haar kind se probleem op te los, lyk dit of die essensiële olie-mark dikwels meer van ʼn geldmaakstorie is, eerder as wat dit werklik siektes en toestande kan behandel.

Mense word aangemoedig om altyd ʼn gekwalifiseerde gesondheidswerker te spreek, eerder as slegs ʼn verkooppersoon, voordat dié olies gebruik word. Sekere olies kan nadelig wees vir swanger vroue, babas, diere en algemene gebruikers. Uitslag, brandplekke op die vel, braking, en selfs stuipe kan gevolge wees wanneer essensiële olies nie veilig gebruik word nie.

ʼn Onlangse studie deur VSA se Nasionale Instituut vir Omgewing- en Gesondheidswetenskappe het selfs bevind dat die oordrewe gebruik van laventel- en teeboomolie kan lei tot abnormale borsgroei by jong seuns, omdat hierdie olies eienskappe het wat estrogeen aanmoedig en testosteroon onderdruk.

Daar is ook geen onweerlegbare studies wat kan bewys dat essensiële olies kan help om outisme of kanker te behandel nie.

Gevolgtrekking

In samewerking met ʼn opgeleide gesondheidswerker kan essensiële olies help om verligting te bied vir kleiner en minder ernstige kwessies  soos hoofpyn, slapeloosheid en spanning. Essensiële olies kan nie gebruik word as die enigste oplossing vir ernstige mediese toestande nie en ʼn dokter moet altyd geraadpleeg word voordat die olies gebruik word om veiligheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Aikie

Die Amerikaners het ‘n goeie naam vir mense wat jou goed wil verkoop met byna onmoontlike magiese kragte: “Snake oil salesman.”