Die uitwerking van geestelike welstand op vrugbaarheid

(Foto: Pixabay)

Een uit elke vyf paartjies in Suid-Afrika sukkel met onvrugbaarheid. Hoewel daar verskeie biologiese redes daarvoor is, is daar toenemend gevalle wat nie medies verklaar kan word nie. Daarom is dit belangrik om nie net die fisieke welstand te behandel nie, maar ook die geestesgesondheid.

Volgens ʼn studie in die International Journal of Urology is bevind dat vroue met ʼn geskiedenis van depressie ʼn groter risiko loop om onvrugbaar te wees. Depressie en sekere antidepressante kan wel ʼn negatiewe impak op manlike vrugbaarheid ook hê.

Terselfdertyd is onvrugbaarheid opsigself ʼn stresvolle situasie en kan dit gevoelens van isolasie, hartseer, angs en depressie meebring, sowel as konflik in verhoudings en families veroorsaak.

“Daarom is sielkundige ondersteuning uiters belangrik in enige paartjie se onvrugbaarheidsreis – voor en wanneer vrugbaarheidbehandeling begin word. Want goeie geestesgesondheid het ʼn groot impak op die sukses van die vrugbaarheidsbehandeling,” sê prof. Renata Schoeman, sielkundige en lid van die Suid-Afrikaanse raad vir sielkundiges.

Schoeman sê onvrugbaarheid is iets wat mans en vroue raak, maar vroue is veral kwesbaar vir negatiewe sosiale implikasies soos om gestigmatiseer, verstoot en selfs mishandel te word.

“Dit is wel moontlik dat geestesgesondheidprobleme bloot minder deur mans aangemeld word of nie ondersoek word nie aangesien manlike onvrugbaarheid dikwels met diep skaamheid gepaard gaan. Dit kan mans daarvan weerhou om behandeling daarvoor te kry.”

Onvrugbaarheid word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gedefinieer as “die mislukking om kliniese swangerskap te bereik na 12 maande of langer van gereelde, onbeskermde omgang”, en dit raak 8%-14% van paartjies – 48 miljoen paartjies wêreldwyd.

In Afrika sukkel 30%-40% van paartjies met onvrugbaarheid weens verskeie faktore wat swak gesondheidsorg, infeksie en die gebrek aan toegang tot vrugbaarheidbehandeling insluit.

Schoeman sê daar is talle biologiese redes vir onvrugbaarheid, maar dat daar wêreldwye ʼn toename in onvrugbaarheidsgevalle is wat nie medies verklaar kan word nie. Dit is hoekom dit belangrik is om na onderliggende psigiatriese probleme te kyk.

“Risikofaktore wat bydra tot onvrugbaarheid sluit in reeds-gediagnoseerde depressie, angstigheid, lae vlakke van geluk en algemene swak gesondheid. Terwyl sterk geestesgesondheid, insluitende selfaanvaarding, onafhanklikheid, positiewe verhoudings en goeie sosiale vaardighede, bydra tot beter uitkomste vir vrugbaarheidsbehandeling.”

Schoeman meen gesondheidswerkers moet op die uitkyk wees vir psigiatriese newe-effekte van sekere medikasie wat vir vrugbaarheid gebruik word, want dit kan dikwels lei tot depressie, angstigheid, verandering in eetlus, probleme om te slaap en moegheid.

So ook kan antidepressante die vrugbaarheidsbehandeling beïnvloed. Daarom is dit uiters belangrik om vrugbaarheidsbehandeling holisties aan te pak en net soveel op hul geestesgesondheid te fokus as wat op hul fisieke gesondheid gefokus word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan ·

Wonder of ‘n mens nie hierdie kondisie kan terug voer na die entstowwe wat ons toegedien word as kinders nie, my pa hulle se generasie was nie so onvrugbaar nie, het ook omtrent geen kinders met outisme in hulle generasie gehad nie.

tweeling ·

So wanneer gaan julle rubriek skrywers ophou om geestes gesondheid en psigiese gesondheid te meng in julle argumente. Dit is 2 fasette wat hemels breed van mekaar verskil. Daar is niks met jou gees fout nie, dit is jou psige wat beinvloed word en dan ‘n invloed op jou liggaam het. Jou gees is die middel waarmee jy met God kommunikeer nie jou psige nie dws jou gees is gesond. Die artikel gaan oor psigiatriese probleme kyk na die 4de paragraaf van onder af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.