Dís hoe jy asmasnellers vermy

Foto ter illustrasie. (Foto: verskaf)

Asma beïnvloed meer as 300 miljoen mense deur wêreldwyd en is een van die kroniese siektes wat die meeste onder mense gediagnoseer word.

Dr. Morgan Mkhatshwa, operasionele hoof van Bonitas- mediese fonds, werp lig op asma, die voorkoming daarvan en die bestuur van moontlike aanvalle.

“Asma is ’n siekte wat onder kinders en volwassenes gediagnoseer word en het ’n impak op die lugwegkanaal. Die gevolge hiervan kan waargeneem word wanneer iemand hoes, hyg, kort van asem is en ’n stywe gevoel in hul bors beleef,” verduidelik Mkhatshwa.

“Dié simptome kan met tye vererger, veral snags en wanneer ’n asmalyer oefen.”

Ongeveer 1 uit 10 kinders en 1 uit 20 volwassenes word deur dié siekte geraak en kan op enige ouderdom by mens gediagnoseer word. Meeste asmalyers begin al voor die ouderdom van vyf jaar simptome ervaar.

“Sommige kinders ontgroei die siekte in hul tienerjare, maar onder normale omstandighede skud mens dit nie maklik af nie.”

Asma is ’n siekte wat as ondergediagnoseerd en onderbehandeld beskou word. Dit lei tot moegheid, onderbroke slaappatrone en swak konsentrasie.

Die gevaar van ongediagnoseerde asma is dat dit dikwels tot asma-aanvalle kan lei, wat in ’n noodlottige situasie kan ontaard.

Asma kan dikwels uit verskillende oorde voortspruit, insluitend allergieë, gene en blootstelling aan sekere omgewings. Rook, sterk seep en parfuum kan ook snellers vir asma wees.

Koue en droë lug, fisieke aktiwiteite, stres en sekere medikasie kan ook tot asma lei.

“Asma in Suid-Afrika gaan dikwels gepaard met die geneigdheid om oorgewig te wees, ’n stedelike leefstyl, respiratoriese infeksie en blootstelling aan tabakrook.”

Alhoewel dié respiratoriese siekte vir talle mense lewensgevaarlik kan word, kan dit nie genees word nie. Wanneer die regte medikasie egter gebruik word, is dit moontlik vir asmalyers om ’n doodnormale, aktiewe lewe te hê.

“Mense wat aan dié siekte ly het dikwels hulpmiddels soos ’n asmapompie nodig. Hul behandeling hang af van hoe gereeld hulle asmasimptome ervaar en hoe erg dié simptome is.”

Asmapompies word dikwels ingespan om asmasimptome te verlig.

Om snellers vir asma-aanvalle te voorkom, stel Mkhatshwa voor dat asmalyers situasies kan vermy waartydens stuifmeelvlakke hoog is. Voorbeelde van dié tye is vroegoggend en op droë, winderige dae.

Dit word ook aanbeveel word om nie te veel tyd buite deur te bring nie, veral nie wanneer take soos grassny verrig word nie.

Mkhatshwa stel ook voor dat die lugverkoeler aangeskakel en die vensters toegehou moet word wanneer stuifmeelvlakke hoog is.

Beddegoed moet ook een keer ’n week gewas word en die vloere moet met ’n stofsuier skoongemaak word. Wanneer ouers weet of vermoed dat hul kinders aan asma ly, moet teddiebere ook uit die kamer verwyder word.

“Indien jy asmasimptome ervaar of vermoed dat jy asma het, moet jy ’n besoek aan jou dokter aflê. Dit sal help om vas te stel of dit wel asma is en of dit iets anders is wat die probleme veroorsaak,” sluit Mkhatshwa af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.