Dit is hoekom jy sukkel om te slaap

(Foto: Twinsfisch/Unsplash.)

As jy in die vroeë oggendure op enige sosialemediaplatform inskakel, sal jy heel waarskynlik ’n klomp mense aanlyn aantref. Sedert die land weke gelede as gevolg van Covid-19 die staat van inperking betree het, sukkel Suid-Afrikaners om aan die slaap te raak.

Volgens prof. Pieter Kruger, ʼn kliniese sielkundige en direkteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sentrum vir gesondheid en menslike prestasie (CHHP), is dit geen verrassing dat mense sukkel om te slaap met al die onsekerheid, spanning en angs wat met Covid-19 verband hou nie.

“Ons brein hanteer eenvoudig nie die onsekerheid baie goed nie,” sê hy.

Kruger sê dat ’n gedeelte van die brein genaamd die dorsale gesinguleerde korteks in tye van onsekerheid, die onsekerheid as ’n fout of ’n gaping registreer, wat vir die brein sê om besonder waaksaam te wees omdat iets verkeerd kan wees.

“Dié onsekerheid word deur ons brein as ʼn die moontlikheid van ʼn dreigende gevaar in die omgewing geïnterpreteer, wat op sy beurt weer die brein na ’n selfbeskermingsmodus laat oorskakel. Wanneer dit gebeur, aktiveer dit die brein se emosionele verwerkingsentrum wat ook die limbiese stelsel genoem word. Die stelsel skei die streshormoon kortisol en adrenalien af, wat die liggaam voorberei om te veg of te vlug.

“Die basiese doel van hierdie stowwe wat in die liggaam afgeskei word, is om ons wakker en gereed te hou om potensiële bedreigings te hanteer. Gevolglik meng dit in met ons vermoë om aan die slaap te raak, of aan die slaap te bly.”

Die gevolge van te min slaap

Kruger sê dat die gebrek aan slaap beduidende biochemiese en sielkundige gevolge kan hê. Een van die meer bekende korttermyngevolge van slaapdeprivasie is vergeetagtigheid.

“As jy nie genoeg slaap kry nie, beïnvloed dit nie net jou werkende geheue nie, maar dit beïnvloed ook die mens se aandagstelsel, wat jou help om te fokus en te verstaan wat voor jou aan die gang is.”

Hy voeg by dat die gebrek aan slaap ook ’n mens se kognitiewe verwerkingspoed en regulering van jou gemoedstoestand beïnvloed, en slaapdeprivasie kan op die lang duur ’n invloed op die testosteroonvlakke van mans en viriliteit by vroue uitoefen. Hy sê dat dit belangrik is om te probeer om op ’n gereelde basis ’n gemiddeld van sewe tot agt uur per nag se slaap in te kry.

Hier is Kruger se wenke om tydens die staat van inperking beter te slaap:

  1. Leer hoe om angs te hanteer en dit te ontlont:Kry vir jou ’n goeie selfhelpboek of praat met ’n sielkundige.
  2. Handhaaf goeie slaaphigiëne en ’n aandroetine:Moenie nuus lees of kyk voordat jy bed toe gaan nie – dit maak jou onseker en skep angs.
  3. Vermy blouspektrumlig voordat jy bed toe gaan:selfone, tablette en skootrekenaars versprei hoë vlakke van blouspektrumlig. Blootstelling aan hierdie soort lig kul jou brein om te dink dat dit nog dag is.
  4. Struktureer jou dag: Probeer om elke aand min of meer op dieselfde tyd te gaan slaap en dieselfde tyd soggens op te staan.
  5. Bly fisiek aktief: Probeer om elke uur vir drie tot vyf minute te stap.
  6. Moenie paniekerig raak as jy nie kan slaap nie:Selfs al lê jy net in die bed, is jou liggaam en brein steeds besig om te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Stem saam met die blou lig stres . Weet nie of hulle kom help of kom roof nie .

Riaan

Dag dit is nog die heeltyd oor my dop klaar is.

Eish

Ek het geen verskil in my slaap patrone agtergekom nie – ek slaap normaalweg nie baie goed nie.