Dr. Ledivia Strauss wil vroue sien floreer

Dr. Ledivia Strauss (Foto: Verskaf)

Dr. Ledivia Strauss wil vroue laat goed voel deur hulle te help om van binne na buite ʼn gesonde lewe te leef.

Strauss is die skoonsus van Rolene Strauss, die voormalige Mej. SA en Mej. Wêreld. Saam bestuur hulle die RevitaHealth-gesondheidsentrum in die Paarl in die Wes-Kaap.

RevitaHealth fokus op geïntegreerde, estetiese medisyne, asook die vroeë opsporing van gesondheidsrisiko’s sodat ʼn probleem voorkom, eerder as opgelos, kan word.

Strauss het in Keimoes in die Noord-Kaap grootgeword, waarna sy by die Stellenbosch Universiteit medies studeer het met die plan om ʼn narkotiseur te word. Sy het toe met die voormalige rugbyspeler Retief Uys getrou en hulle het Frankryk toe getrek vir Uys se rugby-loopbaan.

Holistiese gesondheid

“Dit is in daar [in Frankryk] wat ek met estetiese, funksionele en holistiese medisyne te doen gekry het,” vertel sy.

“Soos wat ek vroue behandel het, het ek agtergekom vroue voel hulle word nie gehoor deur ʼn dokter nie. Vroue het baie vrae, veral oor goed soos hormone, wat nie deur konvensionele medisyne en dokters aangespreek word nie.”

Rolene en Ledivia het in 2018 RevitaHealth saam begin (Foto: Verskaf)

Daarom fokus Strauss nou eerder op holistiese medisyne, om by die wortel van die pasiënt se probleem uit te om, eerder as om simptome met konvensionele medisyne te behandel.

Strauss verduidelik dat hulle in holistiese medisyne ʼn pad stap saam met hul pasiënte waar hulle ʼn kans kry om hul storie te vertel oor waar hulle werk, wat hulle eet, watter tipe mense om hulle is, hul oefen- en slaapgewoontes, hul ervarings, aanvullings wat hulle gebruik, familiegeskiedenis, ensovoorts.

“Al hierdie goed speel ʼn rol in hoekom hulle dokter toe kom. Ons wil vasstel hoekom hulle daardie hoofpyn kry, wanneer dit begin het, in watter situasie hulle was toe dit begin het en wat die omstandighede is wanneer dit opvlam.

“Met holistiese gesondheid strewe ons daarna om gesonde mense gesonder te maak – om hul beste self te wees. Ons wil pasiënte se siekte voorkom of die bestaande siekte omkeer. Ons help om ʼn leefstylplan vir die pasiënt uit te werk sodat hulle ʼn gewone lewe kan leef.”

Strauss verduidelik verder dat sy sewe pilare vir ʼn gesonde leefstyl aan haar pasiënte uitlig. As ʼn goeie balans en goeie gewoontes in hierdie sewe fasette van die lewe gehandhaaf kan word, sal dit jou help om die beste weergawe van jouself te word.

Dr. Ledivia Strauss by RevitaHealth se eerste vroue-konferensie (Foto: Verskaf)

Die sewe pilare is:

  • Eetgewoontes
  • Slaapgewoontes
  • Beweging
  • Konneksie met mense om ons
  • Detoks
  • Ontspanning
  • Aanvullings

 

“Ons as vroue moet deesdae so baie dinge hanteer. Meeste van ons het kinders, ’n huwelik, ʼn beroep én buitemuurse aktiwiteite om aan aandag te gee. Ons moet so baie goed hanteer dat ons onsself afskeep. Doen alles ten koste van onsself.”

Strauss moedig vroue aan om in hul eie gesondheid te belê, want dit sal uiteindelik daartoe lei dat hulle beter ma’s, vroue en vriendinne kan wees.

“Sowat 80% van vrou wat my kom sien, is op die rand van uitbranding of reeds daar. My doel is om mense te kry om voor uitbranding reeds ʼn gesonde lewe te begin lei. Dan is dit baie makliker want ons hoef nie eers die uitbranding te behandel nie.”

Dr. Ledivia Strauss (Foto: Verskaf)

Gesond en gelukkig op enige ouderdom

Coco Chanel het eenmaal gesê: “Jy kan pragtig wees in jou dertigs, sjarmant in jou veertigs en onweerstaanbaar vir die res van jou lewe.”

Dit is dié woorde waaraan Strauss gestalte wil gee. Strauss self is 40 jaar oud en ʼn ma van ʼn 9-jarige dogtertjie. Sy het ook talle rolle om te vul, en daarom weet sy wat ʼn vrou se belange is.

“Ons hoef nie afgemat te voel net omdat ons ouer word nie. Wanneer ons balans het, kan ons vir die res van ons lewe onweerstaanbaar wees.

Strauss sê perfekte gesondheid gaan nie daaroor om een drastiese verandering in jou lewe te maak nie, maar eerder om ʼn klomp klein dingetjies gereeld te doen. Sy moedig haar pasiënte aan om doenbare gewoontes aan te leer om jou lewe te verbeter, eerder as om oplossings daarvoor in ʼn bottel pille te gaan soek.

Hier is Strauss se drie stappe vir ʼn gesonder leefstyl:

  1. Begin vandag en moenie verskoning maak of uitstel nie.
  2. Maak ʼn kopskuif. Jy moet glo jy kan dit doen.
  3. Leer om kosetikette te lees. Dit sal dit soveel makliker maak om gesonde koskeuses te maak.

 

Strauss moedig mense aan om RevitaHealth se aanlyn kursusse by te woon om ʼn gesonder leefstyl te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.