Drie goue gesondheidsreëls vir ’n tuiskantoor

(Foto: Dillon Shook/Unsplash.)

Mense soos John Lennon en Winston Churchill was berug daarvoor dat hulle in hul slaapklere in die bed gewerk het, maar navorsing dui daarop dat om met jou skootrekenaar op die bank of uit die bed te werk, beslis nie ideaal vir jou gesondheid is nie.

Met die aanvang van die Covid-19-pandemie is talle werkers onkant betrap toe hulle skielik hul dagtake vanuit die huis moes verrig. Baie mense het nie die nodige lessenaar of ʼn aparte studeerkamer gehad vir ʼn tuiskantoor nie. Skielik is die kombuistafel, strykplanke, wasgoedmandjies of selfs die bokant van ʼn yskas as lessenaar ingespan.

Daar is egter drie reëls wat jy moet volg om jou gesondheid te verseker as jy van die huis af bly werk:

  1. Kry ʼn behoorlike stoel.
  2. Moenie by jou lessenaar eet nie.
  3. Geen selfone in die badkamer nie.

(Foto: FlexJobs.com)

Hoe stel ek my tuiskantoor op?

As jy jou kantoor by die huis ergonomies kan opstel, sal jy onnodige druk op jou spiere verminder terwyl jy ook lae rugpyn en tendonitis sal vermy. Jou spiere sal nie so moeg voel nie en jou produktiwiteit sal terselfdertyd ʼn hupstoot kry.

Indien jy nie ʼn lessenaar het nie, kan ʼn plat oppervlak as jou werktafel dien, maar jy gaan ʼn behoorlike ergonomiese stoel nodig hê. Sommige werkgewers het hul personeel toegelaat om hul kantoorstoele huis toe te neem; vra dus jou werkgewer of dit moontlik is.

Verder het enige tuiskantoor genoeg vars lug en natuurlik lig nodig. Onthou fisieke beweging en gereelde pouses sal ook help om jou liggaamlike en geestelike welstand te bevorder. Bly gehidreer deur gereeld water te drink, gaan stap buite en strek gereeld. Moenie ure aaneen sit nie, wat maklik kan gebeur as jy eindelose Zoom-vergaderings op ʼn dag geskeduleer het.

Moenie dat jou koffiebekers in jou tuiskantoor opgaar nie. (Foto: Lex Sirikiat/Unsplash.)

Hou jou werkplek tuis higiënies

Jy werk nooit alleen nie: jou werkplek is ʼn toevlugsoord vir mikrobes en die gewone kantoortafel het op enige tydstip meer as 10 miljoen soort bakterieë wat daar woon.

Jou monitor, sleutelbord, rekenaar, muis, kantoorlêers, stoel en persoonlike items is alles reservoirs vir mikrobes, wat hoofsaaklik van jou hande, vel en hare afkomstig is.

Aangesien ons almal in leunstoelviroloë met die aanvang van die Covid-19-pandemie verander het, sal jy sekerlik weet dat hierdie mikrobes virusdeeltjies insluit, veral as jy ʼn infeksie opgedoen het en aangehou het om te werk.

Met enige virusinfeksie is dit belangrik om mediese raad te kry en tyd af te neem om te herstel. Weerstaan die versoeking om aan te hou werk, selfs al is jy tuis. As jy wel besluit om aan te hou werk, kan jy kieme oor jou werktafel versprei, maar die bykomende stres kan ook jou immuunstelsel verswak wat jou vermoë verminder om die infeksie te beveg.

Siek of gesond, dit is altyd belangrik om goeie higiëne te handhaaf en goeie handhigiëne bly een van die doeltreffendste maniere om die oordrag van kieme te verminder.

Onthou om jou tuislessenaar gereeld op te ruim en met ʼn gewone skoonmaakmiddel af te vee. Indien jy jou sleutelbord, monitor en ander toerusting wil skoonmaak, is dit belangrik om dit eers te ontkoppel. Stof dit dan af met ʼn sagte mikrovesellappie en maak die toerusting met ʼn bietjie alkohol, of ʼn produk wat daarvoor ontwerp is, skoon.

Moenie by jou tafel eet nie. Vee en ontsmet jou telefoon gereeld en weerstaan die versoeking om jou selfoon saam met jou na die badkamer te neem, veral as jy dit geniet om met middagete jou gunstelingsosialemediaplatform te besoek.

Laastens is dit ook belangrik om seker te maak jou koffiekoppies en koffiemasjiene word gereeld skoongemaak.

Alhoewel dit nie moontlik is om alle mikrobes uit te roei nie, sal goeie higiëne en die gereelde skoonmaak van jou werkplek jou beslis gesonder hou.

Onlangse opnames het getoon dat die meeste werknemers na die pandemie steeds ten minste ʼn deel van hul werksweek van die huis af wil werk. ʼn Veilige en higiëniese werkomgewing tuis is noodsaaklik om die voordele van tuiswerk te optimaliseer en die risiko’s van beserings en siektes te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack Russ1

Werk waar dit vir jou gemaklik is en jy produktief kan wees. Churchill is oorlede op 89 en as hy nie die ongesonde gewoonte gehad het nie, dan het hy seker oor die 100 jaar oud geword