Een uit 28 vroue in SA deur borskanker geraak

(Foto: Pixabay)

Borskanker is die algemeenste soort kanker onder vroue in Suid-Afrika en een uit 28 vroue word daardeur geraak. Volgens die Nasionale Gesondheidslaboratorium is die voorkoms in stedelike gemeenskappe so hoog as een in agt vroue.

Vroegtydige sifting en diagnose van die siekte kan vroue se kanse op oorlewing egter dramaties verbeter en verminder die behoefte van aggressiewe en indringende behandeling.

Oktober is Borskanker-bewustheidsmaand en die Breast Imaging Society of South Africa (Bissa) doen ’n beroep op vroue om gereeld selfondersoek te doen en om van die ouderdom van 40 jaarliks vir ’n mammogram te gaan.

“Borskanker raak vroue van alle ouderdomme, rasse en sosio-ekonomiese omstandighede. So skrikwekkend as wat ’n kankerdiagnose is, is die goeie nuus dat moderne mediese vooruitgang en vroegtydige sifting en diagnose daartoe lei dat meer pasiënte oorleef, en dat pasiënte kanker kan klop met minder aggressiewe en indringende behandeling.”

“Die behoefte aan vroegtydige en akkurate diagnose kan eenvoudig nie oorbeklemtoon word nie,” sê Professor Jackie Smilg, voorsitter van Bissa.

“Vroegtydige borskankerdiagnose verminder sterftes, verleng lewensverwagting en verbeter lewensgehalte. Die vroegtydige diagnose deur mammografie maak dit ook moontlik dat minder uitgebreide chirurgie, minder mastektomieë en minder gereelde of aggressiewe chemoterapie nodig is.”

Die doel van sifting vir borskanker is om die siekte te identifiseer voordat dit simptome veroorsaak. Smilg sê die goue standaard bly die mammogram, wat borsveranderinge kan opspoor jare voordat enige fisieke simptome ontwikkel.

Gereelde sifting verhoog die kanse dat borskanker geïdentifiseer kan word terwyl die gewas nog klein en beperk is tot die bors.

“Gereelde mammogramme kan dikwels help om borskanker in ’n vroeë stadium op te spoor, wanneer behandeling waarskynlik suksesvol sal wees,” sê Smilg.

Bissa moedig alle vroue aan om van die ouderdom van 40 met gereelde mammografie te begin, en om dit jaarliks te doen tot op die ouderdom van 70, ongeag hulle simptome of ’n abnormaliteit het of nie.

Vroue moet gereeld hul borste ondersoek vir enige onreëlmatighede en moet minstens een keer per jaar ’n kliniese borsondersoek deur hul huisdokter of ginekoloog ondergaan. Enige abnormaliteit, ongeag ouderdom of familiegeskiedenis, vereis ’n onmiddellike mediese konsultasie met ’n professionele gesondheidswerker.

“Baie knoppe kan skadeloos wees, maar dit is noodsaaklik dat almal ondersoek word,” sê Smilg.

Vroue wat ’n hoë risiko het, gewoonlik as gevolg van ’n geskiedenis van borskanker by ’n nabye familielid, moet met jaarlikse mammogramme en MRI’s begin vyf jaar voor die ouderdom waarop hul familielid gediagnoseer is met borskanker, of vanaf die ouderdom van 40, wat ook al eerste kom.

Hoë risiko word gedefinieer as ’n lewenslange risiko groter as 20-25%. Jou risiko kan deur ʼn dokter of hier aanlyn bereken word.

Wat verhoog jou kanse om borskanker te ontwikkel?

Elke vrou het die potensiaal om borskanker ontwikkel. Sekere faktore sal hulle egter in ’n hoër risikokategorie plaas, insluitend:

  • agt indringende soorte borskanker word by vroue jonger as 45 gediagnoseer.
  • Familiegeskiedenis: Borskankerrisiko is hoër by vroue by wie se nabye bloedfamilielede die siekte gediagnoseer is. Een eerstegraadse familielid (ouer, broer, suster, kind of ouma) verdubbel ʼn vrou se risiko om borskanker te ontwikkel. Met twee eerstegraadse familielede verhoog haar risiko ongeveer drievoudig.
  • Persoonlike geskiedenis: ’n Vrou met kanker in een bors het ’n drie tot vier keer verhoogde risiko om ook kanker in die ander bors te ontwikkel, of in ’n ander deel van dieselfde bors. Dit verskil van ’n herhaling (terugkeer) van die eerste kanker.
  • Digte borsweefsel: Vroue met digte borsweefsel (soos geïdentifiseer op ’n mammogram) het meer klierweefsel en minder vetweefsel, en dus ’n hoër risiko vir borskanker. Ongelukkig maak digte borsweefsel dit ook moeiliker vir dokters om probleme op mammogramme te sien, wat gereelde selfondersoek en sifting nog belangriker maak.
  • Oorgewig vroue of vroue met vetsug: Navorsing het in die verlede getoon dat vetsug die risiko van bors- en ander soorte kanker verhoog. Meer onlangs het ’n groter studie daarop gedui dat oorgewig en vetsugtige vroue wat gediagnoseer word met vroeë stadium, hormoon-reseptor-positiewe borskanker ’n hoër risiko het dat hul kanker sal terugkom (herhaal) en hulle het ’n kleiner kans om die siekte te oorleef.  Gesonde eetgewoontes en gewigsbestuur is dus veral belangrik.
  • Leefstylfaktore: Die oormatige gebruik van alkohol, geen fisieke aktiwiteit, rook, en diëte hoog in versadigde vette verhoog die risiko van borskanker.
  • Bestraling aan die bors voor die ouderdom van 30: Bestraling aan die bors om ’n ander kanker te behandel (nie borskanker nie), soos Hodgkin se siekte of nie-Hodgkin-limfoom, lei tot ’n hoër as gemiddelde risiko vir borskanker.
  • Ras/etnisiteit: Wit en Asiatiese vroue is effens meer geneig om borskanker te ontwikkel as swart en bruin vroue. Borskanker is die algemeenste soort kanker onder wit en Asiatiese vroue en die tweede mees algemene kanker onder swart en bruin vroue.
  • Hormonale omgewing: Vroue wat nog nie ’n vol termyn swangerskap gehad het nie, of wat hul eerste kind gehad het na die ouderdom van 30, het ’n hoër risiko van borskanker in vergelyking met vroue wat geboorte gegee het voor die ouderdom van 30. Borsvoeding kan borskankerrisiko verlaag, veral as ’n vrou vir langer as ’n jaar borsvoed.

Vroue wat begin menstrueer voor die ouderdom van 12 het ’n hoër risiko van borskanker later in hul lewe. Dieselfde geld vir vroue wat deur menopouse gaan wanneer hulle ouer as 55 is. Huidige gebruikers of die wat tot onlangs nog hormoonvervangingsterapie (HRT) gebruik het, het ’n hoër risiko om gediagnoseer te word met borskanker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae