‘Eet jou kaas, bra’ (want suiwel is goed vir jou)

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Suiwel is die belangrikste bousteen van alle voedselgroepe aangesien dit al drie die makronutriënte (koolhidrate, vet en proteïen), asook ʼn verskeidenheid mikronutriënte en voordelige, bioaktiewe verbindings bevat wat alles saamwerk om gesondheidsvoordele te bevorder.

Dié multifunksionele voedselgroep help onder meer ook om ouderdomsverwante beenverlies te voorkom en kan ook gewriggesondheid verseker.

Maretha Vermaak, ʼn geregistreerde dieetkundige by Rediscover Dairy, sê bros bene en pynlike gewrigte hoef nie deel te wees van veroudering nie.

“Hoewel 60% van jou piek beendigtheid geneties bepaal word, kan die res deur leefstylfaktore bepaal word. Deur veranderinge aan dié faktore te maak, kan jy jou been- en gewriggesondheid drasties verbeter,” sê Vermaak.

Die mens se bene is lewende weefsel wat voortdurend afgebreek en weer opgebou word. Dit is goeie nuus, want dit beteken daar is ʼn geleentheid om osteoporose te voorkom in die kinderjare sowel as in vroeë volwassenheid (voor die ouderdom van 30). Dit is boonop nooit te laat om ʼn verbetering te bewerkstellig nie.

“Suiwel bevat meer beengesondheidsnutriënte per eenheid van energie as enige ander voedselgroep, en bied in wese die rou materiale vir jou beenstruktuur,” sê Vermaak.

Suiwel is ‘n multifunksionele voedselgroep wat help om onder meer ouderdomsverwante beenverlies te voorkom en kan ook gewriggesondheid verseker. (Foto: Verskaf)

Kalsium, anorganiese fosfaat en proteïen werk alles saam met vitamien D (wat ons van die son, sommige voedselsoorte en aanvullings kry) om aktief beenverlies weens ouderdom te voorkom.

Osteoartritis is ook een van die hoofoorsake van pyn in die gewrigte en kan voorkom word deur die inname van genoeg suiwelprodukte. Osteoartritis lei tipies tot die afbreking van die kraakbeen van die gewrig, verandering in die beenvorm wat beenspore vorm en ʼn toename in die hoeveelheid inflammasie in die been.

“Sodra dit gebeur, moet die inflammasie aktief bestuur word, die spiere rondom die gewrig moet versterk word en die vooruitgang van die siekte moet gestuit word,” sê Vermaak.

Suiwel hou ook die volgende voordele in:

* Suiwelprodukte word dikwels as anti-inflammatories beskou, met die mees konsekwente bewyse wat gesentreer is rondom jogurt en lewende kulture. Voeg vrugte en neute, wat ryk is aan anti-oksidante daarby en jy het in ʼn japtrap ʼn heerlike ontbyt wat inflammasie beveg.

* Wanneer jy suiwelprodukte inneem en die regte weerstandsoefeninge doen, het jy ʼn wenresep om jou spiere te versterk en spiermassa te vermeerder. Hoe sterker die spiere is wat jou gewrigte ondersteun, hoe minder geneig is hulle om verder beskadig te word.

* Melk kan ook help om die vordering van siektes by vroue met knie-osteoartritis te voorkom. Die vernouing van die gewrigspasie is ʼn teken dat die osteoartritis vererger en hoe meer melk vroue drink, hoe minder vernou die gewrigspasie.

Almal behoort drie porsies suiwel per dag in te neem as deel van ʼn gesonde, gebalanseerde dieet. As jy by hierdie aanbeveling kan hou, kan jy ʼn goeie dosis kry van al die been- en gewrigsnutriënte wat jy benodig.

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

ʼn Enkele porsie suiwel is byvoorbeeld:

  • een glas (250 ml) melk of amasi
  • twee klein houertjies (200 ml) jogurt
  • twee snye of twee eetlepels (40 g) gerasperde kaas

Dit is nooit te laat om jou dieet op te gradeer en gesonde veranderinge aan jou leefstyl aan te bring nie. Deur meer suiwel by jou dieet in te sluit is ʼn heerlike manier om aan die daaglikse aanbevelings te voldoen en jou gesondheid te bevorder.

Besoek Rediscover Dairy se webwerf vir meer inligting oor been- en gewriggesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wonderlike goeie raad! Ek sal beslis na dese met meer bewondering na die koeie kyk (behalwe die twee oues in die sloot….).

Alfonso ·

Die wetenskap is baie omstrede. Baie noversers meen dat die kombinasie van sout, vet, laktose en diere hormone in suiwel bydra tot talle gesondheidsprobleme.

Suiwel verhoog kanse vir gewig optel, hoë bloeddruk, asma, parkinsons en kanker.

Indien jy regtig móét suiwel inneem, maak seker jy doen meer oefeninge.

Daar is beter bronne van kalsium: groen groente soos kale en spinasie. Die kalsium van dié bronne word 2x so maklik opgeneem as dié in melk. En daar is n bonus: jy kry vesel, yster, antioxidante en vitamin K (wat belangrik is vir been gesondheid) ook in.

Chris dupreez ·

Nou ja twee uiteenlopende verskille, ek sal nou maar n bietjie van alles eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.