Eet met intuïsie

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

In ʼn samelewing waar dieetkultuur aan die orde van die dag is en ons voortdurend in die gesig gestaar word deur verskillende dieetgiere, is dit nie so maklik om terug te keer na die basiese beginsel van om eenvoudig net te eet wanneer jy honger is en op te hou wanneer jy versadig is nie.

Wêreldwyd volg mense dieetgiere soos die keto-dieet en banting, wat onder meer behels dat alle kos wat stysel en suiker bevat, vermy moet word en meer vet en proteïene by die dieet gevoeg word. Ander glo weer dat die detoks‑dieet, wat behels dat jy vir ʼn sekere tydperk slegs water, sap, vrugte en groente mag inneem, die regte manier is om die syfer op die skaal af te bring.

So ook is die onderbroke vas-dieet (intermittent fasting), wat behels dat jy slegs tussen sekere tye van die dag eet, en die alkaliese dieet, waar kossoorte wat suur in die liggaam veroorsaak vermy moet word, dieetgiere wat deur bekendes en sosiale media bemark word.

Intuïtief eet (intuitive eating)

Ons word egter almal gebore om met instink te eet. Deur intuïtief te eet, of om jou intuïsie te gebruik om jou gewig en eetgewoontes te reguleer, staan algemeen bekend as intuïtiewe eet.

Dit is ʼn manier om gesondheid en kos te benader wat niks te doen het met diëte, eetplanne, dissipline of wilskrag nie. Deur intuïtief te eet, leer jy hoe om in voeling te bly met die tekens van hongerte, versadigheid en tevredenheid wat jou liggaam vir jou gee.

Jy leer ook om weer jou liggaam te vertrou oor kos en om die siklus van chroniese diëte te verbreek en om jou verhouding met kos te genees.

Volgens die webwerf The Original Intuitive Eating Pros, is dié beginsel ontwikkel deur voedingskenners Evelyn Tribole en Elyse Rench. Tribole is die skrywer van die topverkoper Intuitive Eating, wat tien basiese beginsels uiteensit om dié leefstyl te volg.

Die tien beginsels van intuïtief eet is as volg:

  • Verwerp die dieet-mentaliteit

Gooi die dieetboeke en tydskrifartikels wat jou vals hoop gee om vinnig, maklik of permanent gewig te verloor weg. As jy êrens in jou agterkop steeds aan die hoop vasklou dat ʼn dieet of eetplan wat gaan werk vir jou om die draai is, sal jy nie ten volle vry wees om met jou intuïsie te eet nie.

  • Eer jou honger

Eet wanneer jy honger is. Hou jou liggaam biologies versadig met die regte hoeveelhede energie en koolhidrate. Wanneer jy uitgehonger is, sal dit soveel moeiliker wees om slegs die hoeveelheid te eet wat nodig is vir jou liggaam.

  • Maak vrede met kos

Gee jouself onvoorwaardelik toestemming om te eet. As jy jou weerhou van sekere kosse, kan dit lei na ʼn intense gevoel dat jy jouself ontneem en dit kan weer tot gevolg hê dat jy later ooreet.

  • Daag die ‘kos-polisie’ uit

Sê hard en duidelik nee vir gedagtes in jou kop wat verklaar dat jy “goed” is omdat jy min kalorieë ingeneem het of dat jy “sleg” is wanneer jy ʼn stukkie sjokolade geëet het. Vergeet van die onredelike reëls wat deur die dieetkultuur geskep is om jou skuldig te laat voel oor wat jy eet.

  • Ontdek die tevredenheidsfaktor

As gevolg van die dieetkultuur begin ons die plesier wat eet kan verskaf, miskyk. As jy eet wat jy regtig wil, in ʼn omgewing waar jy goed voel, sal jy tevrede voel met wat jy geëet het en instinktief weet wanneer jy genoeg gehad het.

  • Voel jou versadigheid

Jy moet jouself vertrou om die kosse te eet wat jy wil eet. Luister na die tekens van jou liggaam dat jy nie meer honger is nie. Stop halfpad tydens jou ete en vra jouself af hoe die kos smaak en hoe versadig jy is.

  • Hanteer jou emosies met deernis

Angstigheid, eensaamheid, verveeldheid en woede is emosies wat ons almal ervaar en elkeen word deur iets anders ontketen. Kos gaan nie enige van hierdie emosies herstel nie. Dit mag dalk vir ʼn kort rukkie jou aandag van die emosie af trek, maar deur te emosioneel te eet kan jou slegter laat voel op die lang duur. Soek die oorsaak van jou emosie en hanteer dit met deernis.

  • Respekteer jou liggaam

Moenie krities wees oor jou liggaamsbou nie. Almal se liggaamstipes verskil en alle liggaamstipes verdien respek.

  • Beweeg

Vergeet streng oefenprogramme wat jy nie kan volhou nie en begin eenvoudig beweeg. Verskuif jou fokus na hoe dit voel om jou liggaam te beweeg, eerder as om kalorieë te tel met elke tree wat jy gee.

  • Eer jou gesondheid

Maak voedselkeuses wat jou gesondheid en smaakknoppies eer terwyl dit jou goed laat voel. Jy hoef nie perfek te eet om gesond te wees nie. Dit is wat jy eet oor ʼn lang tydperk wat uiteindelik die verskil maak. Vordering is wat saak maak, nie perfeksie nie.

“Dit word so in ons breine ingeëts deur die samelewing om een of ander vorm van ʼn dieet te volg. Deur met jou intuïsie te eet leer jy om na jou liggaam te luister. Navorsing het bewys dat jou gedrag en gewoontes ʼn baie groter uitwerking het op jou gesondheid as jou gewig. ʼn Syfer op die skaal bepaal nie jou waarde nie,” sê dieetkundige Beatri Coetzee.

“Ons moet meer bewus raak van dieetkultuur, sosiale media en hoe ons met mekaar praat. Om obsessief en angstig te raak oor wat en hoe jy gaan eet, is nie gesond nie. Kos moenie jou lewe beheer nie. Selfbeheersing is dieet op sy eie. Die syfer op die skaal moenie jou gemoed vir die res van die dag bepaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

My leuse in die lewe is “ek eet om te lewe en nie lewe om te eet nie”. Het geen probleem met my gewig nie en moet partykeer myself dwing om te eet want is nie lus vir kos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.