Fiksheidsroetines só tydens pandemie versteur

Argieffoto (Foto: Rob9040/Pixabay)

Getroue fiksheidslawe wat graag hul oggendroetine in die buitelug kafdraf, sal onthou hoe oefengroepe voor die pandemie sommer so saam-saam in woonbuurte met ingemaakte perskes in blikke vir gewigte geoefen het.

Daar bestaan geen twyfel dat die inperkingstyd ʼn dramatiese uitwerking op die fiksheidsbedryf self gehad het nie, en so ook op die fiksheidsroetines van duisende Suid-Afrikaners.

Die professionele atleet Protas Mbambo sê sy grootste uitdaging was om binnenshuis te bly en alleen te oefen. “Dit was soms so vervelig, maar as ʼn professionele fiksheidsatleet het ek geen ander keuse gehad as om te oefen en myself te verbeter nie.”

Hier is die maniere waarop Shower to Shower se handelsmerkambassadeurs voel die pandemie fiksheidsroetines beïnvloed het:

  • Meer aktiewe mense tuis

Oor die afgelope 18 maande moes mense noodgedwonge tuisbly of na ʼn werk-van-huis-leefstyl oorskakel. Om tuis te bly het ʼn algemene gebrek aan beweging beklemtoon en dit het mense wat dalk nie voorheen gereeld geoefen het nie, gedwing om meer te beweeg.

Adam Deane, ʼn kenner van kamergimnastiek, meen egter dat mense heelwat slegte gewoontes weens die inperking aangeleer het, soos om meer as gewoonlik te eet.

“Om by die huis te oefen was die enigste manier om fiks te bly en aangesien die wêreld baie stadig herstel het, was dit wonderlik om ná die maande lange inperking weer buite en saam met ander mense te oefen,” sê Deane.

  • Verlaagde fiksheidsvlakke

Daar is ook net soveel roetes in en om die huis. Weens die gebrek aan behoorlike ruimte om te oefen, het fiksheidsvlakke oor die hele land tydens die inperking gedaal.

Deane sê met die eise van werk, persoonlike lewe, werk van die huis af en die koronavirus, het hy self ʼn gebrek aan energie ervaar en moes hy regtig diep delf vir motivering om te oefen. “Ek het nie so hard gewerk soos ek al 20 jaar lank gedoen het om dit nou binne ʼn jaar weg te gooi nie. Maar dit was moeilik!”

  • Oefening vir geestesgesondheidsondersteuning

Oefening is ʼn noodsaaklike bron in die hantering van angs en stres. Om jou liggaam vir 30 minute per dag te beweeg, hou direk verband met verlaagde stresvlakke en verbeterde buie. Die inperking het mense beslis gehelp om die verband tussen dié twee faktore te sien en hul eie “terapie deur oefening”-skedules in te stel.

Atleet Yusuf Jajbhay sê dat hy weens die emosionele uitdagings van die pandemie nie so voluit soos gewoonlik geoefen het nie. “My fiksheid het beslis ʼn knou gekry, maar toe ek uiteindelik weer in die roetine van my oefenprogram gekom het, het dit my gehelp om die situasie beter te hanteer.”

  • Die opkoms van aanlyn fiksheidsondersteuning

As daar een ding is wat die pandemie ons geleer het, is dit dat jy nie ʼn gimnasium nodig het om te oefen nie. Trouens, jy hoef nie eens jou huis te verlaat om ʼn oefenprogram te volg nie.

Die pandemie het gelei tot ʼn meteoriese toename in die aantal fiksheidspersoneel wat oor ʼn wye verskeidenheid van oefendissiplines aanlyn opleiding, ondersteuning, mentorskap en leiding aanbied.

Deane stem egter nie heeltemal saam nie en sê dat hy verlig is daaroor om terug te keer na “normale” maniere van oefen. “Om kreatief te raak met dinge by die huis was pret, maar ek mis dit nie regtig noudat ek weer behoorlike oefengeriewe kan gebruik nie.”

  • Die wêreld word ʼn gimnasium

Jajbhay sê dat hy aanvanklik sy huishoudelike toerusting moes aanpas om te oefen, maar hy het nou besef dat “die wêreld ʼn gimnasium is”. Hy sê alles om jou kan gebruik word om jou te help oefen – ʼn parkbank, jou eie meubels, ʼn lamppaal.

“Ek het kamergimnastiek gebruik as ʼn manier om sterk te bly. Dit is ʼn vorm van opleiding waardeur jy jou liggaam as ʼn gewig gebruik,” verduidelik hy.

Jajbhay volg al etlike jare lank hierdie oefenmetode en hy het dit ook tydens die inperking ingespan. “Ek het my fiksheidsdoelwitte meer doeltreffend bereik as om gimnasium toe te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.