Futloos en nie gefokus? Hier is raad

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Wanneer die energievlakke daal, is die meerderheid van ons geneig om na sjokolade, koffie en energiedrankies te gryp om ons die nodige hupstoot te gee om ons oë vir die res van die dag oop te hou.

Wat jy egter nodig het, is ʼn meer langdurige, gesonde manier om die energievlakke te laat styg, sonder om jou liggaam vol suiker en kafeïen te prop.

Hier is ʼn paar maniere hoe jy kan sorg dat jy dwarsdeur die dag ʼn huppel in jou stap het:

Eet jou ontbyt

Mense wat ontbyt eet, is minder moeg en ly aan minder spanning as diegene wat die eerste maaltyd van die dag misloop.

Kosse wat met vesel, byvoorbeeld hawermout, gelaai is, hou jou langer versadig en energiek as ʼn soet pastei. Deur die regte ontbyt te eet kan jy ook verhoed dat jy vinnig weer honger word.

Doen joga

Studies toon dat die beoefening van joga en ander strekoefeninge, wat van verskillende liggaamshoudings gebruik maak vir oefening en om asemhaling te reguleer, goed werk in die stryd teen futloosheid.

Indien jy nie by ʼn jogaklas kan aansluit nie, laai apps soos Down Dog of Asana Rebel op jou foon af en doen daagliks ʼn paar joga-oefeninge.

Drink water

Dehidrasie kan ʼn groot bron van uitputting wees en kan jou afgemat en moeg laat voel. Jy hoef nie noodwendig die “agt glase per dag”-reël te volg nie, maar jy moet seker maak jy drink genoeg water om jou liggaam gehidreer te hou.

Jou liggaam is goed gehidreer as jy nie dors voel nie en jou urine ʼn ligte kleur het. Probeer om elke paar ure by die yskas of waterverkoeler uit te kom vir ʼn paar groot slukke water.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Eet neute

ʼn Handjievol grondboontjies of amandels is hoog in magnesium en foliensuur en is noodsaaklik vir selproduksie en energie.

ʼn Afname in dié nutriënte kan jou moeg en futloos laat voel.

Gryp ʼn kaneelstokkie of peperment

Vir sommige mense kan selfs net die reuk van kaneel hulle ʼn hupstoot gee en hulle wakkerder laat voel. As jy nie ʼn kaneelstokkie of kaneel byderhand het nie, gryp na ʼn peperment. Net die aroma van dié suiglekkertjie kan jou energievlakke ʼn hupstoot gee.

Deur ʼn bietjie verdunde peperment essensiële olie aan jou polse te smeer en dit in te asem kan jy ook die voordele van peperment se energieke eienskappe geniet. Sitrusolies soos pomelo of lemoen kan jou ook ʼn hupstoot gee.

Beweeg

Oefening is ʼn natuurlike manier om jou energievlakke ʼn hupstoot te gee. Deur te oefen bereik suurstof jou hart, spiere en brein en selfs ʼn oefensessie van slegs tien minute kan uiters voordelig vir jou energievlakke wees.

 Sit in die son

Deur ʼn paar minute per dag in die son deur te bring, is ʼn goeie manier om jou energievlakke te verhoog. Op dié manier verbeter jy jou geheue, bui en vermoë om nuwe inligting te absorbeer.

As jy regtig nie tyd kry om buite rond te stap nie, maak ten minste die gordyne oop.

Eet iets

Jou brein en liggaam het sowat elke vier ure voedsel nodig om op sy beste te funksioneer. Wanneer jou bloedsuikervlakke daal, daal jou energievlakke en kan jou kop dof begin voel. Maak seker jy het altyd ʼn gesonde peuselhappie soos ʼn piesang, grondboontjiebotter of vars bessies byderhand om jou liggaam te voed.

Stadig met die koffie

Gooi jy in die oggend ʼn tripelskeut espresso in jou keel af om jou aan die gang te kry? Jy is dalk eintlik besig om jouself in ʼn groter energiegroef te laat verval.

Een van die gesonde maniere om jou energievlakke te verhoog, is deur jou kafeïeninname te beperk en nie noodwendig heeltemal te staak nie. Navorsing deur Harvard Medical School het bevind dat kleiner dosisse kafeïen, soos die hoeveelheid wat in 50 ml, deur die dag meer doeltreffend is as minder groter dosisse.

Gaan slaap vroeër

Probeer om elke aand net 15 minute vroeër in die bed te klim totdat jy die regte hoeveelheid slaap vir jou liggaam vind. Jy sal weet as jy die regte hoeveelheid gevind het wanneer jy verfris voel as jy in die oggend opstaan.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Bronne: WebMD, Best Health Mag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.