Gesondheid uit die mond uit

September is Mondgesondhiedsmaand. (Foto: iStock)

September is Mondgesondheidsmaand in Suid-Afrika. Met twee van die algemeenste gesondheidsprobleme wat in die mond voorkom, naamlik tandbederf en tandvleisontsteking, is die tyd vir tande tel verby.

Mondsiektes raak minstens 3,58 miljard mense wêreldwyd (44% van die wêreldbevolking), terwyl 2,4 miljard mense tandbederf aan hul permanente tande het. Sowat 90% van alle Suid-Afrikaners sal op een of ander stadium tandvleisontsteking ervaar. Die Mondkankervereniging sê voorts dat daar jaarliks 450 000 nuwe gevalle van mondkanker aangemeld word.

Tien tandsorgwenke

Behalwe om jou tande minstens twee keer per dag te borsel en elke ses maande die tandarts te besoek, moet jy ook hierdie voorkomende tandsorgwenke volg. (Foto: iStock)

Behalwe om jou tande minstens twee keer per dag te borsel en elke ses maande die tandarts te besoek, moet jy ook hierdie voorkomende tandsorgwenke volg:

  • Tem jou tong. Borsel jou tong elke dag. Dit is ’n broeiplek vir bakterieë wat jou boonop ’n slegte asem kan gee.
  • Probeer probiotika. Natuurlik is daar ook voordelige bakterieë wat in die mond voorkom. Verhoog die teenwoordigheid van dié goeie bakterieë deur mondelikse probiotika-aanvullings te gebruik. Dit beveg slegte asem en help om tandvleissiektes te keer.
  • Vlos vir ’n vale. Vlos elke dag om daardie lastige stukkies spinasie tussen jou tande te verwyder. Spoel met ’n goeie mondspoelmiddel nadat jy gevlos het.
  • Keer die krake. Vermy suur kos wat jou tandemalje (die buitenste beskermende laag van die tand) kan beskadig en kou versigtig aan harde lekkergoed en kos met sade, bene of pitte wat jou tande kan kraak of breek.
  • Sit ’n wag ín jou mond. Gebruik ’n mondskerm wanneer jy aan sport deelneem en vra jou tandarts vir ’n pasgemaakte bytplaatjie as jy geneig is om snags op jou tande te kners (bruksisme). Dit sal keer dat jou tande verslyt.
  • Skop suiker uit. Gebruik xilitol as ’n natuurlike versoeter. Deur die pH-vlakke in jou mond te neutraliseer en suur te verminder, verlaag die risiko vir emaljeskade en keer die groei van skadelike bakterieë.
  • Kou hieraan. Suikervrye kougom help om tandbederf (gaatjies) te keer. Dit stimuleer die mond om meer speeksel te maak, wat help om sure te neutraliseer en stukkies kos weg te spoel.
  • Destruktiewe drinkgoed. Selfs koeldrank en vrugtesap wat suikervry is, is sleg vir jou tande. Die suur in koeldrank vreet die emalje, wat sensitiwiteit veroorsaak. Die gesondste alternatiewe om jou liggaam gehidreer te hou, is water, groentesap en melk.
  • Konsentrasie-konsternasie. ’n Kind met tandpyn as gevolg van tandbederf sukkel om op skool te konsentreer en eet meer kos wat makliker is om te kou, maar wat minder voedsaam is. Orale komplikasies gekombineer met ’n swak dieet kan bydra tot vetsug asook kognitiewe en groeiprobleme.
  • Navorsing het bevind dat swanger vroue se dieet ’n regstreekse invloed op die tandontwikkeling van die fetus het. Swak voeding tydens swangerskap kan veroorsaak dat jou kind meer geneig is tot tandbederf.

Dit is nie waar dat jou tande skitterwit word deur harder te borsel nie. (Foto: iStock)

Vyf tandmites

  • A+ vir aspirien. Aspirien kan tandpyn tydelik verlig as die pyn van jou tandvleis afkomstig is, maar as die pyn van die binnekant van die tand kom, sal aspirien nie doeltreffend wees nie. Te veel aspirien kan boonop die tandvleis brand en ander gesondheidskomplikasies veroorsaak.
  • Hoe harder, hoe beter. Dit is nie waar dat jou tande skitterwit word deur harder te borsel nie. Trouens, deur té hard te borsel, kan jy bloeding en skade aan jou tande en tandvleis veroorsaak. Dit kan veroorsaak dat jou tande baie sensitief raak vir koue en dat jou tandvleis terugtrek (resessie van die tandvleis).
  • Hoe vinniger, hoe beter. Moet nooit onmiddellik nadat jy geëet het borsel nie. Dit is omdat jou tande swakker sal wees as gevolg van die verandering in die suurvlak (pH) in jou mond. Deur te gou ná ete te borsel, kan jou tande se emalje beskadig.
  • Slegte tande is húlle skuld. Die spasiëring, posisie en grootte van jou tande, asook die grootte van jou kakebeen, is aan jou familie te danke. Slegte tande, swak tandvleis of ’n geneigdheid om tande te verloor, kan egter nie voor die familie se deur gelê word nie. Gesonde tande en tandvleis hou regstreeks verband met hoe goed jy dit daagliks versorg.
  • Swart maak wit. Houtskooltandepasta is ’n Instagram-modeneiging wat in werklikheid skade aan jou tande kan aanrig. Die belangrikste bestanddeel in tandepasta is fluoried, wat noodsaaklik is om tandbederf te keer, maar talle houtskooltandepasta bevat nie genoeg fluoried nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.