Gesondheidslim met salm

(Foto: iStock)

Of jy dit in soesji, slaai of gebraai verkies, salm is een van die gesondste kossoorte ter wêreld. Dié veelsydige vis is nie net propvol voedingstowwe nie, maar dit is allerweë bewys dat salm jou risiko vir verskeie siektetoestande verlaag.

Voedsame vis

  • Salm is ryk aan omega-3-vetsure, wat help om inflammasie te verminder, bloeddruk te verlaag en risikofaktore vir siektes te verminder.
  • Salm is ’n uitstekende proteïenbron. Proteïene help die liggaam onder meer om ná ’n besering te genees, bevorder beengesondheid en handhaaf spiermassa tydens gewigsverlies en soos jy ouer word. Sowat 100 g salm bevat tot 25 g proteïene.
  • Salm is ’n uitstekende bron van veral B-vitamiene soos vitamien B12, B6, niasien, riboflavien, pantoteensuur, tiamien en foliensuur. Dit help nie net met energieproduksie nie, maar ook inflammasiebeheer en bevorder hart- en breingesondheid.
  • Salm bevat meer kalium as ’n gelyke hoeveelheid piesang en help om bloeddruk in bedwang te hou. Dit verminder ook jou risiko vir beroerte en verhinder dat vog in die liggaam teruggehou word (vogretensie).
  • Selenium is nog ’n mineraal wat in salm voorkom. Studies het getoon dat dit beengesondheid bevorder, skildklierfunksie verbeter en beskerming teen kanker kan bied.
  • Meer salm by jou dieet kan jou help om jou gewig te bestuur deur jou eetlus te verminder, jou metabolisme en insuliensensitiwiteit te verhoog en maagvet te verminder.
  • Baie kenners glo dat inflammasie die hoofoorsaak is van die meeste chroniese siektes, waaronder hartsiektes, diabetes en kanker. Salm en ander vetryke vis kan help om inflammasie te verminder, wat die risiko vir verskeie siektes verlaag.
  • Verskeie studies beweer dat salm breinfunksie kan verbeter. Gereelde inname van salm kan help om die simptome van angs en depressie te verminder, fetale breingesondheid tydens swangerskap te beskerm en die risiko vir ouderdomsverwante geheueprobleme te verlaag. Navorsing het ook die voordele uitgelig vir toestande soos alzheimersiekte en veelvuldige sklerose.
  • Salm se kenmerkende kleur is aan astaxantien te danke, wat deel is van die karotenoïedfamilie van antioksidante. Dié antioksidant help om kardiovaskulêre, immuun-, inflammatoriese en neurodegeneratiewe siektes te voorkom.
  • Die antioksidante, omega-vetsure en vitamien A in salm bevorder sig, beskerm teen ouderdomsverwante sigverswakking en hou jou vel soepel en gesond.

(Foto: iStock)

Vyf vinnige feite

  • Salm word as “anadroom” beskou, wat beteken dat hulle in vars- en soutwater leef. Hulle word in varswater gebore waar hulle ’n paar maande deurbring voordat hulle see toe swem.
  • Wanneer dit tyd is om eiers te lê (net sowat 10% van dié eiers oorleef eindelik), keer hulle terug na die stroom of rivier waar hulle gebore is. Wetenskaplikes is nie seker hoe om dié geheimenis te verklaar nie, maar daar word geglo dat salm die aarde se magnetiese veld of hul baie sterk reuksintuig as kompas gebruik.
  • Baie mense glo dat die woord salm van die Latynse woord salmo of salire kom, wat “spring” beteken. As jy al ooit gesien het hoe salm met stroomversnellings en sterk strome stoei terwyl hulle rivierop op pad is om eiers te lê, weet ’n mens dié naam is heel gepas.
  • Salm kan deur hul lewe drie verskillende kleure hê. ’n Jong salm het ’n ligte kleur en is gespikkeld, en het tydens volwassenheid ’n silwerblou kleur. Wanneer dit tyd is om eiers te lê, is ’n salm se lyf rooi en kop groen.
  • Die meeste salm hou op eet wanneer hulle na varswater terugkeer en het geen energie oor vir ’n terugreis na die see nadat hulle die sowat 5 000 eiers gelê het nie. Hulle gaan dood en word ander diere se kos, of ontbind en stel broodnodige voedingstowwe in die rivier of stroom vry. Atlantiese salm gaan nie dood nie en kan die heen-en-weer-reis om eiers te lê ’n paar keer herhaal.

Salm swem stroomop in Katmai Nasionale Park in Alaska, VSA. (Foto: iStock)

Bykomende bronne: healthline.com; wwf.ca; justfunfacts.com; bbcgoodfood.com; webmd.com; health.com; en safebeat.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.