Gloukoom: Die stil sigdief

(Foto: iStock)

Dit kom soos die spreekwoordelike dief in die nag – ongesiens en onbehandeld die grootste oorsaak van voorkombare, onomkeerbare blindheid wêreldwyd. Dié sluimerende sondaar? Gloukoom.

Wêreldgloukoomweek, wat vanjaar van 6 tot 12 Maart gevier word, is ’n unieke inisiatief wat die soeklig op gloukoom laat val en bewusmaking skep dat die vinnige diagnose en behandeling daarvan onnodige siggestremdheid kan voorkom. Tot 90% van mense in ontwikkelende lande is onbewus daarvan dat hulle dié oogsiekte het.

Volgens die Wêreldgloukoomvereniging (WGV) het sowat 78 miljoen mense gloukoom, oftewel een uit elke 200 mense ouer as 40 jaar en een uit elke agt mense ouer as 80 jaar. In Suid-Afrika het ongeveer 5% van mense ouer as 40 jaar gloukoom en 23% van alle mense wat blind is, is weens gloukoom. Die WGV raam dat sowat 112 miljoen mense teen 2040 met gloukoom gediagnoseer sal word.

Wat is gloukoom presies?

Gloukoom is ʼn oogsiekte wat die optiese senuwee, wat beelde na jou brein stuur, beskadig. Dit veroorsaak geleidelike sigverlies en dit is dikwels eers wanneer die siekte op ʼn gevorderde stadium is dat ’n verlies van visie voorkom. Teen dié tyd is die skade meestal permanent.

Die oog is soos ’n ballon en behou sy vorm danksy interne drukking. Dié interne drukking word beheer deur die produksie van ʼn waterige oogvog (aqueous humour) wat deur die oog sirkuleer. Die vloeistof dreineer in die bloedstroom in. Met gloukoom word die uitvloei van dié vloeistof geblokkeer, wat ʼn toename in oogdrukking veroorsaak en uiteindelik die optiese senuwee beskadig. Wanneer die oogdrukking vinnig styg, ervaar ’n mens simptome soos rooi oë, dowwe sig of jy sien ringe, en jy ervaar naarheid, erge hoofpyn of oogpyn.

Wat veroorsaak gloukoom?

Hoewel die presiese oorsaak van gloukoom soms nie vasgestel kan word nie, kan dit oorerflik wees asook die gevolg van ’n besering aan die oog, erge ooginfeksie, geblokkeerde bloedvate in die oog en inflammatoriese toestande. Dit is skaars, maar oogchirurgie om ’n ander toestand reg te stel, kan dit ook soms veroorsaak. Gloukoom raak gewoonlik albei oë, maar dit kan erger wees in die een oog as die ander.

Jy is meer geneig om gloukoom te kry as jy:

  • Van Afrika-afkoms is;
  • ouer as 40 jaar is;
  • ’n familiegeskiedenis van gloukoom het;
  • bysiende of versiende is;
  • swak visie het;
  • sekere steroïedmedikasie asook sekere middels vir blaasbeheer of toevalle, of sekere oor-die-toonbank‑verkouemiddels neem;
  • ’n oogbesering opgedoen het;
  • korneas het wat baie dun is; en
  • hoë bloeddruk, ’n hartsiekte, diabetes of hoë oogdruk het.

Hoe word vir gloukoom getoets?

Om vir gloukoom te toets, is pynloos en baie vinnig, ’n Optometris gebruik ʼn masjien om lug vinnig in die oog te blaas om die intra-okulêre of oogdrukking vas te stel. Sou die optometris ʼn onreëlmatigheid vind, sal jy na ’n oftalmoloog, wat in oog- en visiesorg spesialiseer, verwys word. Die oftalmoloog sal onder meer toets vir skade aan die optiese senuwee, verdikking van die kornea en die verlies van periferale visie.

(Foto: iStock)

Hoe word gloukoom behandel?

Die meerderheid van gloukoomgevalle kan suksesvol bestuur en beheer word. Behandeling kan die volgende insluit:

  • Oogdruppels word dikwels met medikasie gekombineer om die intra-okulêre drukking te verminder. Dit sal help om óf die hoeveelheid vloeistof wat geproduseer word te verminder, óf om die uitvloei van vloeistof uit die oog te verhoog.
  • Laserbehandeling word gebruik om die dreineringshoek oop te maak om die oogdrukking te verminder.
  • Chirurgie word gewoonlik as laaste uitweg gebruik om ʼn nuwe gang vir vloeistofdreinering te skep en word gewoonlik gedoen in gevalle wat nie met medisyne behandel kan word nie.

Beskerm jou oë só

Hoewel gloukoom nie voorkom kan word nie, kan die vroegtydige diagnose daarvan jou risiko op oogskade en sigverlies beperk. Hierdie stappe kan help om jou visie te beskerm:

  • Gaan vir gereelde oogondersoeke. Hoe gouer jou dokter die tekens van gloukoom opmerk, hoe gouer kan jy met behandeling begin. Alle volwassenes moet elke een tot vyf jaar vir gloukoom getoets word. As jy ouer as 40 is en ’n familiegeskiedenis van die siekte het, moet jy elke een tot twee jaar vir ’n volledige oogondersoek gaan. As jy gesondheidsprobleme soos diabetes het, ’n hoë risiko vir ander oogsiektes het of ouer as 65 is, moet jy jou oë elke ses maande laat toets.
  • Leer meer oor jou familiegeskiedenis. Vra jou familielede of enige van hulle met gloukoom gediagnoseer is.
  • Volg jou dokter se instruksies. As hy of sy vind dat jy hoë oogdruk het, kan druppels voorgeskryf word om gloukoom te voorkom.
  • Doen matige oefening soos stap of draf ten minste drie keer per week. Oefening kan help om diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholesterol te voorkom of te beheer – alles risikofaktore om oogsiektes te ontwikkel.
  • Volg ’n gebalanseerde dieet en handhaaf ’n gesonde gewig. Jou dieet moet baie vrugte en groente insluit, asook vis soos salm en tuna wat propvol omega-3-vetsure is. Oorgewig of vetsug verhoog jou risiko om diabetes te ontwikkel. As jy diabetes het, het jy ’n groter risiko om diabetiese retinopatie of gloukoom te kry.
  • Beskerm jou oë. Dra ’n beskermende bril wanneer jy aan sport deelneem of huisverbeteringsprojekte aanpak en ’n goeie sonbril wat jou oë teen gevaarlike UV-strale beskerm.
  • As jy baie tyd voor die rekenaar deurbring, kan jy vergeet om jou oë te knip en jou oë kan moeg word. Om oogspanning te verminder, probeer die 20-20-20-reël: Kyk elke 20 minute vir minstens 20 sekondes so 20 meter voor jou weg van die rekenaar of selfoon af.
  • Hou op rook. Rook verhoog die risiko om ouderdomsverwante oogsiektes soos makulêre degenerasie en katarakte te ontwikkel. Dit kan voorts oogdrukking verhoog en die optiese senuwees beskadig.
  • As jy kontaklense dra, maak seker jy gebruik dit reg om ooginfeksies te voorkom. Was jou hande goed voordat jy jou kontaklense insit of uithaal. Volg ook die instruksies oor hoe om dit behoorlik skoon te maak, en vervang dit wanneer nodig.

Bykomende bronne: sags.co.za; webmd; healthline.com; allaboutvision.com; medlineplus.gov

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.