Goed, beter, beet

(Foto: iStock)

Benewens die feit dat jy ʼn vaal bord kos in ʼn japtrap met beet kan opvrolik, is dié kleurvolle knol baie voedsaam en propvol noodsaaklike vitamiene en minerale. Beet is nie net laag in kalorieë nie, maar ryk aan folaat, ʼn vitamien wat ʼn sleutelrol in groei, ontwikkeling en hartgesondheid speel.

Die mangaan in beet bevorder beenvorming en gee jou metabolisme en breinfunksie ʼn hupstoot. Koper is op sy beurt ʼn belangrike mineraal wat benodig word vir energieproduksie en die vervaardiging van sekere neuro-oordragstowwe. Jy sal ook ʼn gesonde dosis van die daaglikse aanbevole hoeveelheid vitamien A, C en kalium in beet aantref.

Hier’s nog vyf redes waarom jy dié neef van spinasie in jou dieet moet insluit (sommer blare en al):

  1. Bloeddrukbeheerder

Hoë bloeddruk is ʼn groot risikofaktor vir hartsiektes en beroerte. Verskeie studies toon dat beet net die regte medisyne is om bloeddruk in bedwang te bring. Trouens, navorsing toon dat beetsap die vlakke van veral sistoliese, maar ook diastoliese bloeddruk, kan verlaag. Sistoliese druk is wanneer die hart saamtrek en diastoliese bloeddruk is as die hart ontspan. Beet is propvol nitrate en folaat (vitamien B9). Nitrate word deur die liggaam in stikstofoksied omgeskakel, wat die bloedvate laat ontspan en uitsit, terwyl folaat bloeddruk verlaag.

  1. Inflammasievegter

Beet is hoog in vesel en bevorder die groei van goeie bakterieë in die ingewande. Dié gesonde bakterieë in die spysverteringstelsel help om siektes te beveg en ons immuunstelsel te versterk. Vesel help voorts om die risiko vir hardlywigheid, kolonkanker, hartsiektes en tipe 2-diabetes te verminder. Beet se anti-inflammatoriese eienskappe (danksy betalaïene) help om chroniese inflammasie te stuit wat tot vetsug, hartsiektes, lewersiekte en kanker kan lei. ʼn Ander studie, onder mense met osteoartritis, het bevind dat beet pyn en ongemak kan verlig.

  1. Flinkdinker

Kognitiewe funksionering neem af met ouderdom, wat die risiko vir neurodegeneratiewe afwykings soos demensie verhoog. Die nitrate in beet verbeter breinfunksie deur die bloedvate wyer te maak en bloedvloei na die brein te verhoog. Daar is gevind dat beet veral bloedvloei na die frontale lob van die brein verbeter. Dit is die deel van die brein waar besluitneming plaasvind en die geheue gehuisves word. ʼn Studie onder mense met tipe 2-diabetes het voorts ʼn verbeterde reaksietyd in ʼn kognitiewe funksietoets gevind by diegene wat daagliks 250 ml beetsap vir 2 weke gedrink het.

  1. Sportpresteerder

Verskeie studies het bevind dat dieetnitrate, soos dié wat in beet voorkom, sportprestasie kan verbeter. Nitrate beïnvloed fisieke prestasie deur die doeltreffendheid van mitochondria te verbeter, wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van energie in ons selle. Navorsers meen beetsap verbeter uithouvermoë deur uitputting te vertraag en kardiorespiratoriese werkverrigting te verbeter. Daar is byvoorbeeld bevind dat fietsryers se suurstofverbruik met tot 20% verhoog. Bloednitraatvlakke bereik ʼn hoogtepunt binne 2 tot 3 uur nadat beet of beetsap ingeneem is.

  1. Gewigtemmer

Beet se voedingseienskappe maak dit ʼn uitstekende toevoeging tot ʼn gebalanseerde dieet. Die feit dat dit laag in vet en kalorieë, maar hoog in water is, help om jou energie-inname te balanseer. ʼn Verhoogde inname van kossoorte met min kalorieë is ʼn kampioen as dit by gewigsverlies kom. Die proteïene en vesel in beet help om die ideale gewig te bereik en te handhaaf, ondersteun spysverteringsgesondheid, verminder eetlus en laat jou langer versadig voel. Of jy dit in ʼn slaai geniet, versap, of bottel en bêre, verbeter die gehalte van jou dieet en gesondheid deur beet in te sluit.

Waarskuwing: Beet is hoog in oksalate, wat tot nierstene en jig (ʼn soort artritis) kan lei. As jy ʼn hoë risiko hiervoor is, of al nierstene gehad het, hou eerder verby of hou matigheid voor oë. Moet ook nie skrik as die ringsitting in Witbank skielik ʼn bloedrooi kleur het nie. Dit is heeltemal skadeloos en is bloot die dieprooi beetpiment wat deur die liggaam uitgeskei word.

Bykomende bronne: WebMD, Healthline, BBC Good Food en Medical News Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WILLEM ·

Die natuur verskaf baie hulp middels vir jou gesondheid.
Beet is net net gesond nie maar smaak ook baie lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.