Griepinspuiting is vanjaar uiters belangrik

(Foto: Pixabay)

Prof. Marietjie Venter, hoof van die soönotiese arbo- en respiratoriese virusprogram by die Universiteit van Pretoria se departement mediese virologie, sê dit is vanjaar met die Covid-19-pandemie belangrik om jou jaarlikse griepinspuiting te kry.

Afgesien daarvan dat die Covid-19 baie van ons se gesondheid bedreig, is Suid-Afrika besig om in sy griepseisoen in te beweeg, wat toestande kan vererger.

“Dit is belangrik om vanjaar veral te voorkom dat jy griep kry, omdat jy die risiko loop om aan mense met Covid-19 blootgestel te word by die dokterspreekkamers,” sê Venter.

“As jy griep en Covid-19 opdoen, sal jou simptome soveel erger wees en jou kanse om gehospitaliseer te word groter wees. Daarom is dit noodsaaklik dat jy vanjaar jou griepinspuiting kry.”

Venter sê daar is talle respiratoriese virusse wat deur die jaar sirkuleer, maar dat dit die influensa-virus is, wat dodelik kan wees.

“Influensa-pandemies kom jaarliks tussen Mei en Augustus in Suid-Afrika voor. Die meeste mense wat influensa kry, het slegs ligte simptome, wat koors, hoes, hoofpyn, seer spiere, ʼn loopneus en seer keel insluit, maar hulle kan steeds sleg genoeg voel om ʼn tyd by die werk af te neem.”Sommige van dié mense kan erger laer respiratoriese siektes ontwikkel wat asemhaling moeilik maak, brongitis of anemie kan ontwikkel en selfs kan sterf.

Die tekens van griep kan dus baie soortgelyk wees aan Covid-19-simptome en daarom is dit moeilik om die twee van mekaar te onderskei. Volgens Venter sal dit veroorsaak dat meer mense mediese hulp soek, maar dat daar ook meer mense sal wees wat siek genoeg raak om gehospitaliseer te word.

“Ouer mense se risiko is groter om erge influensa of Covid-19 op te doen, en om daarvan te sterf. Griep kan ook erge siektes by kinders veroorsaak, wat in teenstelling met Covid-19 is, wat nog tot baie min sterftes onder kinders gelei het.

Wie moet die griepinspuiting kry?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel voor dat die volgende hoërisikogroepe jaarlikse ingeënt moet word:

  • Swanger vroue in enige fase van die swangerskap
  • Kinders tussen die ouderdomme van ses maande en vyf jaar
  • Bejaarde mense (ouers as 65)
  • Individue met kroniese mediese toestande
  • Gesondheidswerkers

Venter sê wel dat mense van alle ouderdomme voordeel daaruit kan put om hierdie winterseisoen teen influensa ingeënt te word.

Kan die griepinspuiting my siek maak?

“Nee, die griepinspuiting maak jou nie siek nie,” sê Venter. “Die inenting word in eiers geproduseer en dan doodgemaak; dit bevat dus slegs die dooie griepvirus.

“Daar is mense wat ʼn allergiese reaksie toon teen die eierproteïne in die inenting, en hulle moet eerder nie die inenting kry nie, maar dit is baie skaars. As jy voorheen siek geword het, is dit waarskynlik as gevolg van ʼn ander virus wat op dieselfde tyd as griep sirkuleer,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lorette ·

Ek stem nie saam NIE. Twee keer in my lewe dodelik siek geword van ‘n griep inspuiting. Laaste keer dubbel longontsteking, vir die afgelope 4 jaar nie die inspuiting gekry nie, en nie eers ‘n verkoue op gedoen NIE. Sal nooit weer ‘n mediese dokter of Prof glo nie. Ek vermy dit nou soos die pes.

Anel ·

Lorette, ek stem 100% met jou saam. Het 25 jaar gelede besluit ek moet die inspuiting kry wsnt kon nie bekostig om van die werk weg te wees nie. Was so siek soos ‘n hond. Het vir ‘n week nie geweet wat om my aan gaan nie. Was nog nooit weer siek nie, maar het slegte nagevolg. Het sinus ontwikkel, wat ek nooit voorheen gehad het nie. So NEE vir die inenting vir my.

summie ·

Die griepinenting kan jou NIE siek maak nie al staan jy op jou kop ! Dit is soos hulle sê ‘n dooie virus. Jy was dalk reeds siek toe jy die Griep insp gevat het, dan blameer die mense mos alte graag die insp daarvoor. Dit vat in elk geval eers 2 weke vir die griep inspuiting om behoorlik te begin werk vandag jy dit gevat het.

OW ·

Die begin van die 5 de paragraaf moet eerder lees,influensa – pandemies kom jaarliks tussen Mei en Augustus voor in die Suidelike Halfrond.’n Pandemie is ‘n epidemie wat wêreldwyd versprei is.’n Endemie is ‘n siekte of aansteeklike siekte wat in ‘n sekere gebied voorkom.’n Epidemie is die uitbreek van ‘n siekte van dieselfde aard onder ‘n groot aantal mense,op dieselfde tydstip en in ‘n bepaalde omgewing.

Juffrou ·

Dit help veel om dit só te adverteer. Dis vir weke al onverkrygbaar. Orals glo uitverkoop! Nou wat nou? Hele gesondheidsisteem het ingetuimel!

summie ·

Die rede hoekom mens nie meer die Griepinspuiting kan kry nie is omdat daar jaarliks net ‘n sekere hoeveelheid die land inkom. Daar word jaarliks bepaal hoeveel griepinspuitings bestel moet word, afhangende van hoeveel gegee was die vorige jaar. Toe die bestelling lankal reeds geplaas is deur lande, het hulle nog op verlede jaar se statisiteke gewerk. Dit was dus nog lank voor die Corona virus. Niemand kon voorspel dat almal nou ewe skielik die griepinenting wil hê nie. Die beste was maar om te spring en dit te kry toe dit uitgekom het einde Maart. Ek glo dat al die lande wêreldwyd met dieselfde tekort aan Griepinspuitings sit hierdie jaar. Daar is egter nog die Longinenting nl: Prevenar 13 beskikbaar vir hoë risiko gevalle en voorkomend tot Longontsteking ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.