Groen lig vir rooiligterapie

(Foto: iStock)

Rooiligterapie word reeds vir jare in velbehandeling gebruik om plooie, ouderdomsvlekke, littekens en rekmerke te verminder, kollageenproduksie en bloedsirkulasie te verhoog, en inflammasie te verminder. Dit word ook as behandeling vir veltoestande soos psoriase, rosacea, aknee en ekseem ingespan.

Die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa het oorspronklik met rooiligterapie op plantegroei in die ruimte geëksperimenteer en daarna om wonde by ruimtevaarders te help genees. Soos baie ontwikkelings, het studies na ander potensiële gebruike uitgebrei.

Rooiligterapie gebruik lae-golflengte rooi lig of naby-infrarooi lig om ʼn spesifieke deel van die liggaam met behulp van ʼn laser of ander toestel te teiken. Die rooi lig dring die vel binne en help die mitochondria in die liggaam se selle om meer energie te genereer, wat beter selwerking en selherstel in die hand werk.

Oor die afgelope paar jaar ondersoek wetenskaplikes ook dié soort terapie as ʼn moontlike behandeling vir toestande soos artritis, tendinitis, alopecia, demensie, en verskeie oogsiektes. Studies toon voorts dat rooiligterapie kan help om die newe-effekte van sommige kankerbehandelings te verminder.

(Foto: iStock)

Lig in diabetestonnel

Luidens belowende bevindings van ʼn nuwe studie wat in die Journal of Biophotonics gepubliseer is, kan rooiligterapie mense help om hul bloedsuikervlakke te bestuur. Hoewel dié studie deur navorsers van die City, University of London slegs op ʼn klein groepie gesonde mense uitgevoer is, glo die span dat dit ʼn deurbraakbehandeling vir mense met tipe 2-diabetes kan wees.

Daar word beraam dat die getal mense met diabetes wêreldwyd teen 2030 op 643 miljoen te staan kan kom en teen 2045 tot 783 miljoen gaan toeneem. Tussen 90% en 95% van gevalle is tipe 2-diabetes. Anders as tipe 1-diabetes, wat ʼn outo-immuunsiekte is, is tipe 2-diabetes behandelbaar en soms omkeerbaar deur middel van medikasie en leefstylveranderings wat die persoon help om sy of haar bloedsuikervlakke te bestuur.

Volgens dr. Michael Powner, senior lektor in neurobiologie aan die City, University of London se skool vir gesondheid en sielkundige wetenskappe, word rooi lig deur die mitochondria geabsorbeer om meer energie te produseer. “Dit is soos olie vir die liggaam se energieratte. Om meer energie te produseer, word glukose benodig wat uit die bloedstroom gehaal word.”

(Foto: iStock)

Die helfte van die studiegroep van 30 mense het vir 15 minute lank rooiligbehandeling ontvang – 45 minute voordat hulle 75 g suiker wat in 150 ml water opgelos is, gedrink het. Die ander helfte van die groep het ook die suikeroplossing gedrink, maar nie rooiligterapie ontvang nie. Die hele groep se bloedsuikervlakke is elke 15 minute oor die volgende twee uur gemeet.

Die wetenskaplikes het bevind dat die deelnemers wat die rooiligterapie ontvang het, se piekbloedsuikervlak asook hul totale bloedsuikervlakke gedurende die twee uur verminder het, in vergelyking met diegene wat nie die ligterapie ontvang het nie.

“Dit is duidelik dat rooi lig die manier waarop die mitochondria funksioneer, beïnvloed,” het Powner gesê. “Dié studie het getoon dat ʼn enkele blootstelling van 15 minute aan rooi lig doeltreffend kan wees om bloedsuikervlakke ná etes te verlaag.”

Gevaarlike blouligbrigade

Die ander kant van die munt is die nadelige gevolge wat die langtermynblootstelling aan blou lig vir die mens inhou. Ongeveer een derde van alle sigbare lig word as blou lig beskou. Sonlig is die grootste bron van blou en rooi lig.

“Ons moet beslis tyd in die son deurbring omdat dit aandag, reaksietyd en gemoed verbeter, maar ons blootstelling aan blou lig (ná sonsak) moet drasties ingeperk word,” meen Powner.

Langtermynblootstelling aan blou lig, soos dié wat deur televisie-, rekenaar- en slimfoonskerms afgegee word, ontwrig die liggaam se natuurlike sirkadiese ritme, wat slaapprobleme veroorsaak. Studies verbind blouligblootstelling ook met ʼn verhoogde risiko vir ouderdomsverwante oogsiektes, hartsiektes, tipe 2-diabetes, vetsug, asook velkanker en borskanker.

  • Bykomende bronne: Medical News Today, Cleveland Clinic en Harvard Health Publishing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.