Hakkel se uitwerking op manlike identiteit

Argieffoto. (Foto: Shutterstock)

“Om as ’n hakkelaar groot te word, is nie die maklikste ervaring nie. Ek is afgeknou, teen gediskrimineer en moes verskeie sosiale en sielkundige uitdagings deurmaak.”

Só sê dr. Dane Isaacs, navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, wat met sy navorsingstudie die stremmende en manlikheidservaring van jong volwasse mans wat hakkel ondersoek.

Om te hakkel kan verlammend en frustrerend wees. As iemand wat self hakkel, moes Isaacs verskeie hindernisse oorkom en moes hy sy hele lewe lank nog onderdrukking en diskriminasie hanteer.

“My gehakkel het ook ’n negatiewe uitwerking op my manlike identiteit gehad. As ’n man wat hakkel, het ek al dikwels swak en ontman gevoel en nie in staat om aan die samelewing se verwagting van wat dit beteken om ’n man te wees, te voldoen nie. Hierdie ervarings het my altyd laat wonder oor die stremmende en manlikheidservaring van mense wat hakkel.”

Ondanks hierdie uitdagings het Isaacs die toppunt van akademiese sukses bereik toe hy onlangs sy doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch met sy navorsingstudie behaal het.

As deel van sy navorsing het Isaacs sy eie ervaring van diskriminasie, onderdrukking en ongeskiktheid by die kerk, skool, universiteit en in die werkplek (outo-etnografie) beskryf.

Hy het ook onderhoude gevoer en fokusgroepbesprekings gehou met jong volwasse mans van Kaapstad en Stellenbosch tussen die ouderdomme van 20 en 39 jaar wat hakkel om meer te wete te kom oor hulle ervarings.

Kwesbaar

Dr. Dane Isaacs. (Foto: Verskaf)

Isaacs sê sy bevindings toon dat dié mans hoofsaaklik op hegemoniese of dominante norms en praktyke van manlikheid staatgemaak het om hul eie manlike identiteite te vorm.

“Vir hulle het manwees tipies ’n posisie van mag of beheer, om die voorsiener en heteroseksueel te wees en om fisieke krag uit te oefen, behels. Vir verskeie mans was hakkel heeltemal teenstrydig met wat dit beteken om ’n man te wees. Die uitoefening van beheer oor spraak het vir hulle manlikheid beteken,” verduidelik Isaacs.

“Die gevolg was dat hulle deurgaans ’n laer selfbeeld en minder selfvertroue gehad het en dat hulle, as mans wat hakkel, swak, kwesbaar, ontman en skaam gevoel het.

“Vir sommige het hulle gemarginaliseerde posisies as mans wat hakkel hulle aangespoor om beheer oor hul hakkel te kry en om hul vertoning van hegemoniese manlikheid te verbeter. Vir ander het die gemarginaliseerde posisie van hakkel tot gevolg gehad dat hulle dominante idees van manlikheid verwerp het en toe manlike identiteite waarvolgens hul hakkel aanvaar word, geskep het.”

Isaacs voeg by dat sommige van die mans, veral studente wat uitermatig gehakkel het, geglo het dit is ’n gestremdheid om te hakkel.

Hy sê hoewel professionele jongmense saamgestem het dat hakkel ’n gestremdheid is, het hulle nie hulself as gestremde mans beskou nie.

“Interessant genoeg het sommige van hierdie mans aangedui dat hulle vroeër in hul lewe weens hul hakkel gestremd was. Die feit dat hulle egter beheer oor hul hakkel kon uitoefen en sukses in hul loopbane kon behaal, het hulle in staat gestel om die identiteit van ’n gestremde man te verwerp – iets wat hulle tipies met swakheid en kwesbaarheid geassosieer het.

“Hulle het ook die idee van voorspraak vir die redelike tegemoetkoming in die werkplek vir mense wat hakkel verwerp.”

Isaacs noem ook dat sommige mans die idee van hakkel as ’n gestremdheid heeltemal verwerp het en dit eerder gesien het as ’n spraakontwikkelingsteuring wat met behoorlike tegnieke beheer kan word.

Volgens hom blaas drie goed die diskriminasie en onderdrukking aan wat hierdie mans en ander mense wat hakkel ervaar.

“Eerstens is dit onkunde en mites oor hakkel. Tweedens is dit die oorheersende siening van hakkel as ’n spraakproduksieversteuring wat reggestel, bestuur of beheer kan word. Deur hakkel op hierdie manier te beskou, word die verantwoordelikheid van hakkel heeltemal op die persoon wat hakkel geplaas, terwyl die samelewing se rol in die onderdrukking en diskriminasie heeltemal weggesteek en onaangespreek bly.

“Derdens diskrimineer mense wat hakkel ook teen mekaar en onderdruk hulle mekaar. Wanneer mense wat hakkel die identiteit van ’n persoon met ’n gestremdheid verwerp, is hulle ook huiwerig om kampvegters te word vir die gestremdheidsregte van ander soos hulle en om die uitdagings wat hulle moet oorkom, aan te spreek,” verduidelik hy.

Ondersteuning

Isaacs sê meer moet gedoen word om mense wat hakkel te ondersteun. Hulle moenie bloot net geakkommodeer word nie, maar moet as waardevolle lede van die samelewing behandel word.

“Hoewel daar verenigings asook ondersteuning- en selfhelpgroepe bestaan met die doel om mense wat hakkel se volle deelname in alle sfere van die samelewing te verseker, fokus baie van hierdie organisasies hoofsaaklik op die herstel, bestuur of beheer van hakkel, eerder as om die kwessies van gestremdheid, diskriminasie en onderdrukking aan te spreek.

“Ons moet beleide ontwerp wat die behoeftes en gestremdheidsregte van mense wat hakkel bevorder en wat hulle toelaat om ten volle in opvoedkundige ruimtes soos skole, universiteite en die werkplek deel te neem, aangesien dit van die mees onderdrukkende en verlammende plekke vir hulle kan wees. Hulle moet ook geraadpleeg word oor die ontwerp van beleide, programme, kursusse en kurrikula wat ten doel het om hul volle deelname te verseker.”

Isaacs voeg ook by dat ’n gestremdheidstudiebenadering deel van spraakterapie moet word.

“Ek glo dat mense wat hakkel net ten volle sal kan deelneem indien hakkel deur ’n gestremdheidstudielens benader word. Hierdie benadering sal die aandag op die sosiale en politieke aspekte van hakkel vestig, wat belangrik is om die onderdrukking, ongeskiktheidstelling en diskriminasie aan te spreek wat mense wat hakkel ondervind.”

Isaacs sê hy sal voortgaan om innoverende maniere te ondersoek om die gestremdheidsregte van mense wat hakkel, te bevorder.

“Ek is vasbeslote om toe te sien dat die diskriminasie en onderdrukking van mense wat hakkel in my leeftyd uitgeroei sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.