Hartsiektelyers soek nie hulp weens vrese oor Covid-19

(Foto: Unsplash)

Terwyl Suid-Afrikaners daagliks herinner word aan die gevare wat Covid-19 vir mense inhou, waarsku ʼn kardioloog dat die gevaar van sterftes weens hartprobleme nie agterweë gelaat moet word nie.

Kardiovaskulêre siektes is plaaslik en internasionaal een van die grootste oorsake van sterftes en tot 18 miljoen mense wêreldwyd sterf jaarliks daaraan – in tot 85% van gevalle weens ʼn hartaanval en beroerte.

“Tydens die Covid-19-afsonderingstyd word talle Suid-Afrikaners se hartsiektes en ander gesondheidstoestande soos hoë bloeddruk en diabetes nie nagegaan en behoorlik behandel nie, wat hulle blootstel aan ernstige gesondheidsgevare,” sê dr. Trishun Singh, ʼn kardioloog by die Netcare St. Augustine-hospitaal in Durban.

Singh sê dit is verstaanbaar dat mense dit in dié stadium soveel moontlik vermy om uit te gaan, maar hulle moet nietemin in verbinding met hul dokter bly omdat toestande soos dié deurlopende kliniese monitering benodig. Medikasie moet geneem word presies soos voorgeskryf.

“Mense loop ook onnodig die gevaar, weens vrese dat hulle moontlik Covid-19 kan opdoen, om nie mediese hulp in ʼn ernstige mediese noodgeval, soos wanneer ʼn hartaanval vermoed word, te soek nie,” sê hy.

Luidens ʼn internasionale studie soek tot 50% minder mense tydens die Covid-19-pandemie mediese hulp vir ʼn hartaanval.

“In Suid-Afrika lyk die prentjie soortgelyk en dit is tragies om te dink dat dit waarskynlik reeds lewens gekos het – ondanks beskikbare behandeling wat lewens kan red. Ek wil mense wat enige simptome van ʼn hartaanval of beroerte ondervind, aanmoedig om hul vrese oor Covid-19 eenkant te skuif en dringend mediese hulp by die naaste noodafdeling te kry.”

Diegene met chroniese toestande soos hartsiektes en diabetes word boonop as hoërisikogevalle vir Covid-19 beskou en kan ernstig siek word. Dieselfde geld vir kardiovaskulêre siektes.

“Om hul gevaar te verminder om ernstige Covid-19 op te doen, is dit uiters belangrik dat Suid-Afrikaners met chroniese harttoestande verseker dat dit in oorleg met hul dokter behoorlik bestuur word. Alles moontlik moet gedoen word om nie net hul hart te beskerm nie, maar ook hul algemene gesondheid,” sê Singh.

ʼn Hartaanval vind plaas wanneer een van die are vernou of ʼn bloedklont die vloei van suurstofryke bloed na die hartspier belemmer. “Vroeë behandeling van ʼn hartaanval en beroerte is uiters belangrik. As dokters normale bloedsomloop betyds na die hart kan herstel, word skade aan die hartspier beduidend verminder en lewens gered.”

Singh, ook Suid-Afrika se eerste kardio-onkoloog (ʼn kardioloog met ʼn spesifieke belangstelling in en kennis oor die uitwerking van kankerbehandeling op die hart), sê pasiënte wat kankerbehandeling ondergaan, moet ook hul kardiovaskulêre risiko’s laat assesseer.

Hy sê in sommige gevalle kan kankerbehandeling die gevaar van ʼn ernstige Covid-19-infeksie verhoog.

Simptome van ʼn hartaanval

Singh sê ʼn hartaanval begin dikwels met matige simptome wat nie geweldig pynlik is nie. Talle mense ondervind ʼn drukkende gevoel in die bors.

Soek dadelik mediese hulp indien jy langer as twee minute:

  • Druk of pyn in die middel van die bors ervaar.
  • Borspyn het wat versprei na die skouers, nek of arms.
  • Ernstige borspyn, swakheid, lighoofdigheid, floutes, sweet, naarheid of asemnood ondervind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

18 Miljoen sterftes per jaar net agv hartkwale!!!!!!!!!!!!! En al hierdie gemors met Covid 19, al die hoopla oor 450 000 sterftes…………… en dan weet ons nie eers hoeveel van hierdie 450 000 sterftes is WERKLIK Covid 19 sterftes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.