Hier is raad vir hooikoors

(Foto: Pixabay)

Sukkel jy met ʼn aanhoudende nies en moegheid? Jy is dalk een van die sowat 11,4 miljoen hooikoorslyers in Suid-Afrika wat in die warmer maande met hoë stuifmeelvlakke aan die toestand “insneezia” ly.

Boonop is vanjaar ʼn besondere slegte hooikoorsjaar, en dit beteken daar sal soveel meer stuifmeel in die lug sirkuleer. Dié fyn poeier irriteer ʼn hooikoorslyer se oë en lugweg as dit deur die neus of mond ingeasem word.

Sowat 30% van Suid-Afrikaners sukkel met hooikoors en baie van hulle ondervind veral probleme in die namiddag en aand, wat selfs ook hul slaappatrone kan versteur.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, verduidelik dat “insneezia” ʼn kombinasie tussen slapeloosheid (insomnia) en niessimptome is.

“Hoë stuifmeelvlakke word gewoonlik geassosieer met dae wanneer temperature warmer is en plante meer stuifmeel vrystel, maar navorsing oor die laaste paar jaar het getoon dat verhoogde konsentrasies van sekere stuifmeel ook in die aand hoog is,” sê Jennings.

Sy sê “insneezia” is gewoonlik die gevolg van stuifmeel wat opstyg in die dag en dan terug grond toe val wanneer die temperatuur in die aand daal.

Sekere tipes stuifmeel vind eers hul pad na die lug in die namiddag as gevolg van hul grootte, en sekere plante stel bloot stuifmeel eers later in die dag vry.

“Baie studies dui daarop dat hooikoors die primêre rede is vir onderbroke slaap in die aand en moegheid in die dag.”

Onderbroke slaap beïnvloed sowat 88% van kinders en tussen 48% en 63% van volwassenes wat met hooikoors sukkel. Baie slaap gaan dus verlore in die nege maande wat plante stuifmeel vrystel.

Jennings sê dit is ʼn mite dat hooikoors slegs in die lente voorkom.

“Suid-Afrika se stuifmeelseisoen verskil van provinsie tot provinsie. Die seisoen begin gewoonlik in Augustus en afhangend van waar jy woon, kan dit tot April/Mei aanhou.”

Jennings waarsku dat stuifmeeltellings vanjaar veral hoog is in Gauteng, Kaapstad en Bloemfontein. Sy stel die volgende voor om simptome te verlig:

  1. Neem ʼn antihistamien ten minste drie ure voor jy bed toe gaan.
  2. ʼn Neussproei kan help om die slymvliese van jou neus te beskerm teen fyn stuifmeel.
  3. Hou vensters toe en gebruik eerder lugverkoeling.
  4. Stort en was jou hare net voordat jy gaan slaap om te voorkom dat stuifmeel daaraan vassit en jou slaap versteur.
  5. Was beddegoed en kussingslope gereeld. Stofsuig ook vloere en matte weekliks.
  6. Lugreinigers kan help om allergene weg te hou.
  7. Dra ʼn masker en sonbril wanneer jy buite oefeninge doen.

Vir meer inligting oor hoe om allergieë te hanteer, besoek www.allergyexpert.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eend Bessinger ·

Ja nee. Ek sal my moet voorberei vir ‘n swaar nies-seisoen. Ek nies al klaar weer sekere tye vir ‘n vale… Asjoe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.