Hierdie honde kan Covid-19 uitsnuffel

Honde word nou in talle lande opgelei om Covid-19 te help identifiseer. (Foto: Patrick Hendry
/Unsplash.)

Hoe ruik ʼn virus? As honde kon praat, sou hulle vir ons kon sê en die meeste spog boonop met ʼn 100% suksessyfer.

The Conversation berig dat daar ʼn internasionale span is, onder leiding van Dominique Grandjean van die Franse Nasionale Veeartseny-skool in Alfort, wat sedert Maart honde oplei om die spoor van die Covid-19-virus uit te snuffel.

Hierdie opsporingshonde word met behulp van sweetmonsters geleer om mense te identifiseer wat met die virus besmet is. Tot dusver het talle van dié vierpotige speurders met ʼn suksessyfer van 100% die positiewe monster tussen ʼn reeks negatiewe monsters geïdentifiseer.

Honde word tans ook in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Chili, Argentinië, Brasilië en selfs België vir die werk opgelei. Die VAE wil die snuffelhonde op verskillende lughawens ontplooi om die verspreiding van Covid-19 in dié lande te beheer.

ʼn Skerp neus

Die navorsers het gevind dat honde self mense met Covid-19 wat nog asimptomaties is en nie positief vir die virus getoets is nie kan opspoor.

Die gemiddelde hond het ongeveer 220 miljoen reukreseptore in die neus, maar die navorsers is nog nie heeltemal seker wat die honde ruik as hulle Covid-19 vind nie. Hulle reken wel die honde spoor ʼn spesifieke profiel van vlugge organiese verbindings in die monsters op, wat ʼn komplekse mengsel is, eerder as net individuele verbindings.

Sweet word vir die monster gebruik aangesien dit nie Covid-19 kan oordra nie en ʼn verminderde risiko vir besmetting inhou wanneer dit gehanteer word.

‘n Duitse herdershond ontvang opleiding in die program op Covid-19 op te spoor. Die program word onder die leiding van prof. Dominique Grandjean en Clothilde Julien van die Alfort Veeartseny-skool in Frankryk aangebied. (Foto: The Conversation.)

Australië lei ook nou honde op

Australië hoop om binnekort die land se eie span speurhonde te hê wat Covid-19 kan uitruik.

ʼn Span professionele afrigters is tans besig om honde op te lei in verskeie streke van dié land en hulle gebruik veral Duitse herdershonde in die opleiding.

Volgens Susan Hazel en Anne-Lise Chaber van die Universiteit van Adelaide word daar tans met die land se gesondheidsowerhede onderhandel om voldoende sweetmonsters vir die opleiding te versamel.

“Ons kry ook duisende negatiewe monsters om seker te maak die honde spoor nie ander virusinfeksies soos gewone verkoue of griep op nie. In ander lande het die honde hierdie toetse met vlieënde vaandels geslaag.”

Hazel en Chaber meen die honde in Australië sal in scenario’s gebruik kan word waar hulle mense op lughawens en staatsgrense kan help ondersoek, maar hulle kan ook help om personeel te monitor wat daagliks in bejaardesorggeriewe en hospitale werk sodat hulle nie herhaaldelik getoets hoef te word nie.

Dit neem ses tot agt weke vir ʼn hond wat steeds opgelei is om ander reuke op te spoor om te leer om Covid-19, ook bekend as SARS-CoV-2, te vind. ʼn Hond wat nog geen vorige opleiding ontvang het nie kan binne drie tot ses maande opgelei word om die virus uit te snuffel.

(Foto: Christopher Stark/Unsplash.)

Kan honde die virus versprei?

Daar is tans twee gevalle in die wêreld waar honde vermoedelik deur hul eienaars met Covid-19 besmet is, maar die honde het nie siek geword nie.

Hazel en Chaber sê die jongste eksperimentele navorsing toon dat dié virus nie in honde se liggame kan repliseer nie. Kortweg beteken dit dat hulle nie self ʼn bron van infeksie kan wees nie.

Om die moontlike risiko van oordrag na mense sowel as honde selfs verder te verminder, laat die apparaat wat gebruik word om die honde mee op te lei, geen direk kontak tussen die hond se neus en die sweetmonsters toe nie.

Die hond se neus gaan in ʼn kegel van vlekvrye staal in met die sweetmonster wat daarin agter in ʼn houer staan. Die hond kan die vlugtige reukverbindings ruik maar het geen fisieke kontak met die monsters nie.

Verder word al die honde wat opgelei is om Covid-19 op te spoor gereeld nagegaan en getoets vir teenliggaampies en tot dusver is geen van die speurhonde besmet nie.

“Nou, en in die toekoms, sal dit belangrik wees om gevalle te identifiseer waar die honde ʼn vals positief gelewer het. Ons hoop ook dat navorsing kan help om te wys watter vlugtige reukverbindings spesifiek met die ʼn Covid-19-infeksie verbind kan word.

“Hierdie kennis kan ons help om die proses van ʼn Covid-19-infeksie te begryp, en dit kan ook in die toekoms gebruik word om ander siektes met die hulp van honde op te spoor.”

Honde se reukvermoë is ʼn klein wonderwerk op sy eie. Hulle word reeds gebruik om hipoglukemie by diabete op te spoor, en kan mense waarsku wat op die punt is om ʼn epileptiese toeval te kry, terwyl ander reeds gebruik word om sommige kankersoorte te vind.

Die navorsers wat tans met honde werk in die opleiding om Covid-19 te identifiseer glo die honde se vermoë om die virus in veral asimptomatiese mense te vind kan die speelveld in die stryd teen die infeksie heeltemal verander.

“Hulle potensiaal in die bekamping van pandemie is slegs nog een van die vele voorbeelde van hoe honde ons lewens verryk,” sê Hazel en Chaber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.