Hoe behandel jy jou niere?

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Robina Weermeijer)

Meer as twee miljoen mense wêreldwyd ontvang tans behandeling vir nierversaking deur middel van dialise of ʼn nieroorplanting.

Daar is egter veel meer mense wat behandeling benodig, maar wat weens ʼn gebrek aan toegang tot mediese hulp uiteindelik sterf.

Suid-Afrika het van hoogste syfers van eindstadium nierversaking ter wêreld en ook relatief min orgaan- en weefseloorplantings in vergelyking met ander lande. Mediese personeel en die publiek het ook nie genoegsame feitelike inligting wat die proses van orgaan- en weefseloorplantings betref nie en dit een van die bydraende faktore wat lei tot die lae oorplantingsyfers.

Suid-Afrika is een van 12 Afrikalande wat nieroorplantings doen en die enigste land in Afrika wat gebruik maak van oorgaanskenkers vir oorplantings.

Nie al die pasiënte wat eindstadium nierversaking het kwalifiseer vir ʼn oorplanting nie en diegene wat wel op die waglys kom vir ʼn oorplanting, kan ongeveer 12 tot 15 jaar wag vir ʼn nier op die O-bloedgroep lys.

Weens ʼn tekort aan skenkers wat organe agterlaat vir oorplanting word al hoe meer oorplantings gedoen van lewende skenkers. ʼn Skenker kan ʼn familielid (lewende, verwante skenker), ʼn vriend (lewende, onverwante skenker) of ʼn altruïstiese skenker (vreemdeling) wees. Die skenker ondergaan verskeie mediese toetse om seker te maak dat hy of sy gesond is om die operasie te ondergaan en met een nier te kan funksioneer.

Paul Nel het in Junie vanjaar sy nier aan sy dogter, Tanya, geskenk. Tanya lei aan ʼn genetiese siekte wat veroorsaak het dat sy op die ouderdom van 18 eindstadium nierversaking ontwikkel het. Paul het nie gehuiwer om te toets of hy in staat sal wees om ʼn skenker te wees nie.

Die oorplanting is egter twee keer uitgestel; eers weens Tanya se fistula wat nie meer gewerk het nie en ʼn tweede keer weens Covid-19. Beide pa en dogter vaar baie goed ná hul onderskeie operasies.

Tanya is nou in staat om op haar studie te fokus en tyd deur te bring saam met vriende en familie. Paul sê die oorplanting en die positiewe impak wat dit op hulle familie het, het al sy verwagtinge oortref.

“Tanya was altyd moeg en dialise het haar erge hoofpyn gegee. ʼn Vakansie as gesin of selfs net ʼn naweek weg het fyn beplanning geverg om seker te maak dat Tanya dialise kon ontvang,” sê Paul.

Agt goue reëls vir niergesondheid

(Foto: iStock)

ʼn Mens dink nooit regtig aan jou niere en die funksie wat dit verrig tot die dag wat dit nie meer werk nie. Jy kan tot 90% van jou nierfunksie verloor voordat jy enige simptome wys of agterkom iets skort.

World Kidney Day, ʼn wêreldwye bewusmakingsveldtog het agt goue reëls saamgestel om na jou niere om te sien.

1.Monitor en beheer jou bloeddruk:

Ontwikkel die gewoonte om te weet wat jou bloeddruk is. Hoë bloeddruk kan jou niere beskadig en lei tot chroniese nierversaking wat moontlik kan lei tot eindstadium nierversaking. Jou ideale bloeddruk is 120/80; indien jou bloeddruk hoër is as dit wanneer dit op twee verskillende dae gemeet word, raadpleeg jou geneesheer. Die dokter sal raad gee hoe om jou leefstyl en of dieet aan te pas.

2. Kry jou bloedsuikervlakke onder beheer:

Baie diabete ontwikkel eindstadium nierversaking en daarom is dit baie belangrik om gesonde bloedsuikervlakke te handhaaf en jou nierfunksie gereeld te laat toets. Indien dit vroegtydig gediagnoseer word kan die ontwikkeling na eindstadium nierversaking vertraag en selfs verhoed word.

3. Fisieke aktiwiteite:

Die volgende is maar net ʼn paar voordele van ʼn aktiewe leefstyl:

  • help om ʼn ideale/gesonde liggaamsgewig te behou;
  • verlaag jou bloeddruk;
  • verlaag risiko van chroniese nierversaking.

4. Gesonde gebalanseerde dieet en liggaamsgewig:

Die voordele van ʼn gesonde dieet is vanselfsprekend. Dit kan die volgende leefstylverwante siektes voorkom: diabetes, hartsiektes en ander chroniese siektes verwant aan eindstadium nierversaking. Jy plaas minder stres op jou organe deur ʼn gesonde gewig te handhaaf.

Verminder jou soutinname na vyf tot ses gram per dag (een teelepel). Geprosesseerde kos en verwerkte kos bevat baie sout. Dit is dus beter om vars bestanddele te gebruik vir jou maaltye.

5. Drink genoeg water:

Jou niere sal jou ewig dankbaar wees omdat jy na hulle omsien. Deur genoeg water te drink help jy jou lyf om ontslae te raak van oormatige minerale soos natrium, kalium en fosfate wat jou organe kan beskadig. Die ideale hoeveelheid vloeistof wat jou liggaam benodig word beïnvloed deur hoe aktief jy is, die klimaat waar jy woon, of jy swanger is en of jy borsvoed. Bespreek die geskikte hoeveelheid vloeistofinname met jou dokter.

6. Moenie rook nie en hou op indien jy wel rook:

Rook veroorsaak dat daar minder suurstofdraende bloed na jou niere en ander organe vloei wat funksionering beïnvloed. Wanneer jou niere nie optimaal funksioneer nie, kan dit nie ontslae raak van oortollige gifstowwe en minerale nie.

7. Vermy die gebruik van oor-die-toonbank anti-inflammatoriese medikasie:

Indien jy oor-die-toonbank nie-steroïde anti-inflammatoriese medikasie (soos ibuprofen) op ʼn gereëlde basis gebruik kan jy jou gesondheid op die spel plaas en moontlik chroniese nierversaking ontwikkel. Bespreek hoe om jou pyn te behandel en bestuur met jou dokter en steeds jou niere te beskerm.

8. Laat toets jou nierfunksie gereeld indien jy in enige van die hoë-risiko groepe val:

Jy word gesien as hoë risiko om eindstadium nierversaking te ontwikkel indien jy enige van die volgende het:

  • Diabetes
  • Hoë bloeddruk
  • ʼn Familiegeskiedenis van niersiektes
  • Vetsug

Ongelukkig kan eindstadium nierversaking nie genees word nie, maar dit kan verhoed word en die verloop na eindstadium nierversaking kan bestuur word. Maak seker dat jy die agt goue reëls volg om na jou niere om te sien. Die twee boontjies (niere) sal jou ewig dankbaar wees.

Nasionale Nierbewusmakingsweek word van 6 tot 10 September gevier en bied die ideale geleentheid om kwessies rondom niergesondheid en nieroorplantings aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

My twee “boontjies” gee al probleme vandat ek 20 is. Ek het 2 x “nier/blaas-omleidings” gehad omdat die ‘pypies’ wat van my niere na my blaas toe gelei het, ‘verkeerd’ ingeplant het en vervang moes word. Toe raak ek verskriklik vet en kry diabetes, hoë cholesterol, hoë bloeddruk en al daai “oumens siektes” op 36 … en nou wag ek net dat my niere finaal inkonk (tans het ek gesamentlik sowat 60% nierfunksie).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.