Fisioterapie speel ʼn belangrike rol in die herstelproses van mense wat met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is. Dit help nie net met beweging van spiere wat lank rustend was nie, maar ook met die herstel van die longfunksie wat deur die virus aangetas word.
Covid-19 het die afgelope jaar ’n omvangryke ingryping in ons almal se lewens veroorsaak. Indien ons nie self siek geword het nie, het die meeste van ons waarskynlik ’n familielid, vriend, kollega of kennis gehad wat met die koronavirus gediagnoseer was of selfs weens die virus gesterf het.
Soos medici meer leer oor die virus, word dit duidelik dat die herstelproses meer gekompliseerd is as wat aanvanklik vermoed is en dat die uitwerking van Covid-19 lank ná ʼn pasiënt se hospitaalbesoek kan voortduur.
Van die probleme waarmee post-Covid-pasiënte sukkel, is onverstaanbare moegheid, kortasem word met minimale inspanning, sukkel om te konsentreer, hoofpyne, onvermoë om oefening te doen, borskaspyn, hartkloppings, ʼn aanhoudende droë hoes, verlies van smaak en reuk, slegte slaapgewoontes en depressie.
Dawn van den Heever, ʼn fisioterapeut van Kemptonpark, sê fisioterapie kan post-Covid-pasiënte help deur middel van asemhalingsoefeninge, beklopping van die longe, beweging van spiere, deur die pasiënt vir lang tye op hulle maag te laat lê, aanmoediging en advies.
“Wanneer ’n pasiënt ’n fisioterapeut besoek, word die longkapasiteit en -funksie, suurstofopname, hartklop en spiere ondersoek. Daar word dan op ’n behandelingsplan besluit,” sê Van den Heever.
Sy sê die behandeling van die pasiënt sal afhang van die probleme en kan byvoorbeeld asemhalingsoefeninge, beklopping van die longe, spesifieke oefeninge vir swak spiere, uithou-oefeninge om jou longkapasiteit te verbeter en om die hart se fiksheid terug te kry, insluit.
Van den Heever sê een van die belangrikste goed wat ʼn post-Covid-pasiënt kan doen, is om op sy of haar maag te lê.
“Die belangrikheid van hierdie ‘prone lying’-posisie (op jou maag) kan nie genoeg beklemtoon word nie.
“Wanneer jy op jou maag lê, is jou hart onder die longe en dan is daar meer spasie vir die longe om asem te haal. Wanneer pasiënte op hulle rug lê, word die longe vasgedruk deur gravitasie en die organe. Die voorste deel van die long kry meer lug as die agterste deel, en gravitasie veroorsaak dat bloed na die agterste deel van long beweeg en nie na die boonste deel wat juis lug in het nie.
“Wanneer die pasiënt egter op sy maag gedraai word, kry die agterste deel van die longe ook ventilasie. Daar is dan ’n beter verhouding van luginname in die voorste en agterste dele van die long, verbeterde liggaamsbeweging en die verwydering van sekrete (slym) wat lei tot beter suurstofopname.”
Van den Heever sê dit is uiters belangrik dat pasiënte wat sukkel ná hospitalisasie so gou as moontlik by ’n fisioterapeut uitkom. Afhangend van die toestand kan selfs slegs twee of drie sessies met ʼn fisioterapeut help.
Die terapie sluit ook behandeling van moegheid, asemhalingsprobleme, verswakking, verlamming en ander spierpyne in. Die pasiënt word ook geleer om sy aktiwiteite te kontroleer sodat die hart nie uitgeput word nie.
“Fisioterapeute is baie goed opgelei en kan die pasiënte uitstekende advies gee wat die post-Covid-ervaring minder onaangenaam kan maak.”