Hoe gemaak met pandemiemoegheid?

Foto ter illustrasie. (Foto: Alexander Dummer/Pexels)

Deur Maretha Botes

Pandemiemoegheid is ‘n realiteit wat al hoe meer mense in die gesig staar. Voos, moeg, keelvol en soms sommer rebels, want genade tog, hoe lank nóg? Kenners waarsku egter dat roekelose gedrag van pandemiemoeg-mense die Covid-19-siklus aan die gang hou.

Die lewe tydens ‘n pandemie is tot barstens toe vol met take wat beheer en breinkrag verg, en daarom is dit nie juis vreemd dat daar al meer van geestelike uitbranding gepraat word nie. Ons is voortdurend besig om by nuwe reëls en beleide aan te pas. Alles – jou werk, om inkopies te doen en vakansies te beplan – is anders as wat ons voorheen aan gewoond was. Dit behels nuwe reëls en protokol, en verg ook ‘n sekere mate van kognitiewe beheer om gepas op te tree. En vir baie van ons beteken die nuwe realiteit ook dat ons nou meer as ooit te vore multifunksioneel moet wees (multi-tasking) tussen werk, kinders en ander prioriteite. Hoewel ons al ‘n jaar lank maskers dra, sosiale afstand handhaaf, hande ontsmet en probeer om nie in groot groepe te kuier nie, raak die take al hoe meer van ‘n rompslomp.

Anschel Pietersen, maatskaplike werker in privaat praktyk en deel van die Vita Nova-beradingsentrum, sê ons kon ons tot ‘n mate emosioneel en fisiek voorberei vir die aanvanklike grendeltydperk in Maart verlede jaar. Dié tyd is egter verleng en weer verleng en nou is die duur van die inperking onbepaald. Dit lei tot uitbranding vir reëls en perke wat die pandemie-inperkings stel, sê sy. Mense raak verveeld, gefrustreerd en laks. Dit lei tot roekelose gedrag, wat tot ‘n toename in positiewe Covid-19-getalle kan lei.

Ook baie ouers wat die afgelope jaar tuis werk en verminderde sosiale interaksie ervaar het, beleef die inperking as negatief.

“Dis is so dat al hoe meer mense geïsoleer is in hul huis, of beperk rondbeweeg, met al hoe minder insette van die buitewêreld. Dit álles het ‘n effek op normale funksionering en ons emosionele welstand. Dan praat ons nog nie van tuis werk, kinders tuis onderrig en die chaos weens roterende skoolroosters nie. Al die dinge plaas ekstra druk op ouers,” sê Anschel.

Kinders en pandemiemoegheid

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Anschel sê kinders kry soms swaarder as volwassenes.

“Kinders het ‘n ingebore behoefte tot ligaamlike kontak, speel, buite wees, sosialisering met portuurgroepe en interaksie met ander mense. Al hierdie dinge is van groot belang om optimaal te ontwikkel en groei. Dis juis dié fasette wat ontneem word van ons kinders in ‘n pandemie soos ons s’n. Kinders is ook ingestel op die nieverbale kommunikasie wat ons liggaamstaal en gesigsuitdrukkings weergee. Omdat ons nou maskers dra, kan baie van hierdie kommunikasie nie gelees word nie. Daar vind nou meer misverstande tussen kinders en ander plaas.”

Volgens Anschel neem angstigheid onder kinders, kleuters en tieners toe, en in praktyk neem hulle verhoogde vlakke van angs waar.

“Selfs babas wat gedurende die pandemie gebore is, ervaar ‘n baie meer geïsoleerde leefstyl en ly soms meer aan skeidingsangs of angs in die teenwoordigheid van ander mense. Ek kan dink dat hierdie fenomeen ook ‘n invloed sal hê op kinders soos hulle ontwikkel.”

Kinders, veral kleuters en laerskool-ouderdom kinders, kan nie hul emosies verbaliseer soos volwassenes nie. Dus kan frustrasie, eensaamheid en angs alles manifesteer as emosionele uitbarstings, woede-uitbarstings, destruktiewe gedrag of isolasie.

“Ouers se gemoedstoestande beïnvloed ook tot ’n groot mate ons kinders se emosionele welstand, dus as ouers aan uitbranding, eensaamheid, depressie of angs lei, kan dit oorspoel na ons kinders,” voeg sy by.

“Vir my het dit begin voel of ek kan skreeu elke keer as daar ‘n boodskap van die skool af kom dat ons vir drie dae sluit om die skool te ontsmet. Wéér tuisskool vir drie dae, wéér werk en skoolwerk en kosmaak en ál die ander goed juggle,” sê Ronelle Conradie (45), ma van twee pre-tieners en een kleuter.

“Ek het regtig soos ‘n tipe kluisenaar begin voel, maar meer ‘n kluisenaar in my kop, want tog het ek soms mense gesien en uitgegaan om inkopies te doen en so aan. Met skool-uitkomtyd is almal daar, maar niemand is “daar” nie. Ma’s en pa’s sit almal in hul motors opgesluit en min lig meer hul kop om te groet (gewoonlik op die selfoon besig). Voor die poskantoor staan mense opmekaar in rye en wag vir hul maatskaplike toelaes. In die middedorp is die maskers af en geen sosiale afstand word gehou nie. Ek self was op ‘n stadium regtig net moeg. My werk het agter geraak, want ek het eenvoudig nie breinkrag gehad om behoorlik aandag te gee nie. My man het my uiteindelik aangemoedig om in die oggend te begin stap. Ek neem die honde saam. Ek het ook ‘n punt daarvan begin maak om ten minste een keer ‘n week ‘n vriendin te bel en te gesels. Ander kere gaan drink ons ‘n ‘veilige’ koffie. Maar ek het besef ek móét konneksie hou, anders gaan ek in ‘n geestelike penarie beland.”

(Foto: Sofia Alejandra/Pexels)

Tekens dat jy en die gemeenskap waarin jy beweeg, pandemiemoeg is:

  • Daar is ‘n afname in die getal mense wat maskers dra, en veilige sosiale afstand word nie meer gehandhaaf nie;
  • Jy ervaar angs wanneer jy verby iemand stap wat nié ‘n masker dra nie;
  • Jy voel moeg, al het jy genoeg geslaap;
  • Jy voel gedemotiveerd en of dat die lewe nie juis meer sin maak nie;
  • Jy raak maklik geïrriteerd met geliefdes; of
  • Jy voel depressief en geïsoleer.

Dr. Barbara Louw, ‘n lewensafrigter van Pretoria, gee dié wenke:

  • Lees saam met jou kinders stories;
  • Vertel stories – maak stories op;
  • Leer ’n nuwe stokperdjie of twee;
  • Werk ’n eetplan uit en laat die kinders toe om saam nuwe resepte uit te toets. As jy net ’n toebroodjie in die huis het, sny die brood op ’n nuwe manier;
  • Kyk of daar iemand is wat julle as ’n gesin kan bemoedig;
  • As iemand in jou gesin of vriendekring gesterf het, laat elkeen toe om op hul eie manier te rou;
  • Beperk die hoeveelheid tyd wat kinders blootgestel word aan negatiewe nuus; en
  • Kyk na jou emosionele en geestelike welstand, sodat jou gesin nie ook nog met ’n kwaai seerkopbrombeer hoef saam te leef nie.

Hoe kan ek ander mense om my ondersteun wat lyk of hulle hierdeur gaan? Barbara sê dis belangrik om:

  • Kontak te hou;
  • Jou woord te hou. As jy onderneem om iets te doen, doen dit;
  • Opbouende brokkies nuus te deel;
  • Vir en saam met die persoon te bid;
  • Kitsoplossings te vermy. Moedig hulle aan om berading te kry wanneer nodig;
  • Wees net die suster, broer, vriend of kind wat hulle nodig het. Jy hoef nie alles vir almal te wees nie; en
  • Wees eerlik oor wat jy (ook) deurgaan en soek saam oplossings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Die pandemie sal aanhou totdat ons almal werkloos en dakloos is. En dan ewe skielik sal COVID “verdwyn”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.