Hoe maak ’n prinses met ’n vrat?

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Makamuki0/Pixabay)

Deur dr. Wilhelm von Ludwig

Ons sit met ʼn netelige situasie. Tradisionele sprokies leer ons dat jy vir jouself ʼn prins kan losslaan as jy ʼn padda soen, maar volgens oorlewering kan jy ook vratte kry as jy selfs net aan die slymerige kalant raak. Hoe nou gemaak?

Vratte is van die vroegste tye bekend. Beide die Grieke en die Romeine het vratte van die vel asook die genitalieë beskryf. Die oorsaak van vratte is egter in misterie gehul tot 1907, toe wetenskaplikes bepaal het dat virusse verantwoordelik is.

Voor hierdie tyd, het die vrat egter in die donker hoekie van bygelowe en fantasie geleef. Behalwe vir paddas, was selfs hoenders in ʼn stadium onder verdenking gewees. Die plaasprinsesse wat die henne vir eiers moes ondersoek, het blykbaar gereeld vratte op hulle wysvingers gekry.

Omdat die oorsaak van vratte onbekend was, het goeie behandeling ook soos ʼn trol onder die brug weggekruip. Soveel so dat dokters in die 1800’s geglo het dat besnydenis die klein harde, growwe nodule kan voorkom. ʼn Klompie prinse was seker goed die hoenders in toe hulle agterkom die behandeling het gefaal.

In die tussentyd het die boererate ook begin vermeerder. Amerikaners het tydens die koloniale tydperk geglo dat jy van vratte kan ontslae raak as jy dit onopsigtelik vryf aan ʼn man wat ʼn buite-egtelike kind het. Dan sou die vrat as’t ware oorspring na die vent. Natuurlik was hierdie raat slegs bedoel vir vratjies van die ledemate.

Die Menslike Papillomavirus (MPV) is ʼn groep van meer as tweehonderd verskillende virusse wat verantwoordelik is vir alle vratte asook sommige kankers. Sommige van hulle veroorsaak die gewone vratjies wat algemeen is onder kinders, en veral op die knieë en elmboë voorkom, terwyl ander verantwoordelik is vir die vratte in slymvliese (genitalieë, slukderm en ander). Vratte van die laasgenoemde area kan ook verander in kanker soos servikale kanker. Velkanker kan dikwels soos vratte lyk, veral as dit by ouer mense voorkom. Ek vermoed dit is hoekom die heks in die sprokies altyd ʼn “vrat” op haar neus het. Of dalk het sy as ʼn jong meisie die verkeerde padda gesoen?

ʼn Entstof teen MPV is sedert 2006 reeds beskikbaar en dit het daartoe gelei dat Australië een van die eerste lande sal wees om servikale kanker geheel en al uit te roei. So ʼn entstof stel dan die liggaam se immuunstelsel bloot aan die virus se genetika en gevolglik weet die liggaam waarvoor om uit te kyk. Dit is min of meer dieselfde rede waarom die meeste kinders se vratjies in hulle tienerjare spontaan verdwyn. Die liggaam het deur die jare die vratjies se abnormale genetika geïdentifiseer en uiteindelik ʼn aanval geloods om daarvan ontslae te raak.

Baie van ons boererate het dieselfde beginsel onwetend nagevolg. “Krap vrat, ent bloed op aartappelplant,” lui een en “Maak die vratjie aan bloei en vryf ʼn mieliepit daaroor” raai ʼn ander aan en “Sny die oudste een af en smeer vingerpolmelk aan,” sê nog een. Al hierdie rate het die vrat se abnormale genetika aan die bloed, en gevolglik die liggaam se immuunstelsel, blootgestel.

Volgens ʼn Duitse bygeloof moet jy ʼn padda tydens volmaan aanraak om van vratte ontslae te raak. Miskien is dit waar die antwoord vir ʼn prinses lê. As dit nie werk nie kan sy dit altyd vir die maan blaas alvorens die Suid-Afrikaanse weergawe.

Dr Wilhelm von Ludwig (Foto verskaf)

Deesdae is krioterapie, oftewel om die vratjies te vries, die gewildste in praktyk. Tydens dié proses vorm ʼn blaas tussen die vrat en die onderliggende weefsel, wat dan veroorsaak dat die vrat los raak en af val. Ander bewese middels is sure soos salisielsuur en roompies wat die genetika van die vrat vernietig.

Ongelukkig kan menige dokter getuig van hardnekkige vratjies wat maar net nie wou reageer nie. Dit is op hierdie punt wat ons die towerfee, oftewel die dermatoloog, se hulp inroep. Sy kan dan lasers en lemmetjies gebruik om die prinses weer beeldskoon te maak. Mense is egter nie baie gelukkig as hulle vir ʼn eenvoudige vrat na ʼn spesialis gestuur word nie, so dikwels is dit die laaste sien van die pasiënt. Ek vermoed hulle val terug op boererate totdat die vratjie uiteindelik genoeg gehad het van vreemde konkoksies.

Net soos die sprokies, het die boererate ook gemoderniseer en ʼn gemaklike plek op sosiale media gevind. Miskien is hierdie ʼn gepaste plek om my eie hand aan ʼn boereraat te probeer:

“Vir hardnekkige vratjies: Aftreksel van ʼn slegte ekonomie gemeng met ses maande se petrolprysstygings. Vryf hierdie mengsel aan die vrat en stuur die pasiënt na die dermatoloog. Die vrat sal spontaan afval voor die datum van die konsultasie.”

  • Wilhelm von Ludwig is ʼn algemene praktisyn wat in Polokwane praktiseer. Volg hom op TikTok of Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.