Hoeveel plastiek het jy vandag geëet?

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Dit is dalk ’n bekende feit dat ons elke week sowat 5 g, oftewel die gewig van ’n kredietkaart, se mikroplastiek onbewustelik inneem, maar het jy geweet dat dié klein stukkies plastiek, wat 5 mm of kleiner is, nie alles deur die liggaam uitgeskei word nie?

Daar word beraam dat meer as 70 miljoen ton mikroplastiek sedert ongeveer 1950 in die oseaan gestort is weens industriële vervaardigingsprosesse en dat plastiekproduksie, ondanks ’n toenemende omgewingsbewustheid wêreldwyd, teen 2040 gaan verdubbel.

Plastiekdeeltjies is letterlik oral om ons: in die oseaan, in die lug, in die sneeu van die Himalajabergreeks, en selfs in menslike plasentas. Tandepasta, sonskerm, chemikalieë en verpakking bevat alles plastiek. Hoewel studies tot dusver aangedui het dat mikroplastiek nie tot die dood, of regstreekse vergifting of voedselvergiftiging lei nie, is daar toenemende bewyse van die potensieel skadelike uitwerking daarvan op die menslike liggaam.

Navorsers het onlangs vir die eerste keer stukkies plastiek in pasiënte se longe gevind. Vorige studies het mikroplastiek in menslike stoelgang en lykskouingsmonsters geïdentifiseer, maar dit is die eerste keer dat wetenskaplikes plastiekdeeltjies ontdek wat in die longe van lewende pasiënte vasgesteek het.

’n Span navorsers by die Hull York- mediese skool in die Verenigde Koninkryk (VK) het die longweefsel van 13 pasiënte ontleed wat operasies ondergaan het. Hoewel dit dalk ’n relatief klein steekproef is, het 11 van die 13 pasiënte (85%) se weefselmonsters mikroplastiek bevat!

Luidens dié studie, wat in die joernaal Science of The Total Environment gepubliseer is, was die mees algemene deeltjies wat gevind is polipropileen, wat in plastiekverpakking en pype gebruik word, en PET, wat in water- en koeldrankbottels gebruik word.

Studies wat mikroplastiek in menslike stoelgang gevind het, het bewys dat dié besoedeling by die voordeur inkom en by die agterdeur uitgaan, maar dit was nie genoeg om werklik die gevaarligte oor die gesondheidsrisiko’s van mikroplastiek te laat flikker nie. Die ontdekking van mikroplastiek in longe asook in menslike bloed het egter bevestig dat dit ’n groter gevaar vir ons gesondheid inhou as waarvan ons tot dusver bewus was.

(Foto: iStock)

In Maart vanjaar is berig dat wetenskaplikes die bloedmonsters van 22 anonieme skenkers, almal gesonde volwassenes, ontleed en plastiekdeeltjies in 17 (77%) gevind het. Soos in die longstudie in die VK, het navorsers aan die Vrije Universiteit van Amsterdam PET-plastiek en polipropileen, maar ook poliëtileen (waaruit plastiekinkopiesakke gemaak word) in skenkers se bloed gevind.

Prof. Dick Vethaak, ’n ekotoksikoloog aan dié universiteit in Nederland, het aan The Guardian gesê hoewel die navorsing uitgebrei gaan word, is dit duidelik dat plastiekdeeltjies deur die liggaam vervoer word én hier agterbly.

“Vorige studies het getoon dat daar tien keer meer mikroplastiek in die stoelgang van babas in vergelyking met volwassenes voorkom en dat babas wat met plastiekbottels gevoed word, miljoene mikroplastiekdeeltjies per dag inneem.

“Die groot vraag is wat gebeur werklik in ons liggaam? Word die deeltjies na sekere organe vervoer en is hierdie vlakke hoog genoeg om siektes soos kanker te veroorsaak? Ons sal dringend en baie meer navorsing moet doen om agter die kap van die byl te kom,” het Vethaak gesê.

’n Gesamentlike studie deur Universitat Rovira i Virgili in Barcelona, Spanje en die Saarland-universiteit in Duitsland wat verlede jaar in die wetenskapjoernaal PNAS gepubliseer is, het bevind dat plastiekdeeltjies aan die buitewand van rooibloedselle bind. Dit belemmer dié selle se vermoë om suurstof te vervoer.

Plastiekdeeltjies is ook al in die plasentas van swanger vroue gevind, en ’n 2020-studie met swanger rotte, gepubliseer in die joernaal Particle and Fiber Toxicology, het bevind mikroplastiekdeeltjies beweeg vinnig deur die fetusse se longe tot in die hart, brein en ander organe.

Navorsers aan die Mediese Universiteit van Wene het op hul beurt ondersoek ingestel na maniere hoe plastiek sy weg tot in die menslike liggaam vind. Deel van hul bevindings was: Deur die aanbevole hoeveelheid water – 1,5 tot 2 liter per dag – uit plastiekbottels te drink, sal 90 000 plastiekdeeltjies per jaar in jou liggaam beland. Kraanwater los egter nie dié probleem op nie. Die studie het getoon diegene wat dieselfde hoeveelheid water uit die kraan gedrink het, het elke jaar ongeveer 40 000 plastiekdeeltjies ingeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.