Holistiese benadering tot skoonheid met dié kursusse

Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie

Wat begin het as ʼn veld wat grotendeels gefokus was op mooimaak en goed-voel, het oor dekades ontwikkel in een van die vinnigste groeiende bedrywe ter wêreld met ʼn fokus wat veel wyer strek as net skoonheid.

Alhoewel grimering, hand- en voetbehandelings en massering steeds ʼn groot deel van die behandelings insluit, het die veld só uitgebrei dat die fokus nou meer val op resultaatgedrewe behandelings en ʼn holistiese benadering tot die behandeling van kliënte. Vandaar ook die ontwikkeling van die veld in Somatologie.

Somatologie is ʼn multidissiplinêre studie van die menslike liggaam en vereis ʼn wetenskaplike benadering tot die vel en liggaam. Die eindresultaat is lank nie meer slegs om lekker te ontspan by die salon nie, maar ook om resultaatgedrewe behandelings te doen wat ʼn impak op die kliënt se welstand en spesifieke toestand het.

Die tipe behandelings wat deesdae in salonne en mediese estetiese klinieke gedoen word, is baie meer gespesialiseerd as jare gelede en het ook ʼn uitwerking op die dieper lae van die vel. Daarmee saam kom natuurlik ook ʼn groter risiko vir komplikasies. Dit is dus baie belangrik om seker te maak die somatoloog is gekwalifiseerd en opgelei om die behandeling te kan doen. Dit is ook uiters belangrik vir ʼn somatoloog om oor die nodige probleemoplossingsvaardighede te beskik om reg op te tree indien daar ʼn komplikasie ontstaan. Meeste komplikasies ontwikkel as gevolg van onkunde.

Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie

In die bedryf is daar verskillende vlakke van opleiding en dit is belangrik om te verstaan hoe dit verskil, aangesien elkeen ʼn baie spesifieke rol in die bedryf vertolk. Eenjaar-kwalifikasies fokus baie meer op praktiese vaardighede, waar ʼn driejaar-kwalifikasie in Somatologie daarop fokus om die somatoloog die nodige teoretiese agtergrond te gee om veilige en resultaatgedrewe behandelings te kan bied. Dit is veral relevant as ons kyk na meer gevorderde behandelings soos chemiese afskilfering.

ʼn Somatologie-kwalifikasie bied ook vir jou verskeie internasionale werksgeleenthede by spa’s en op internasionale passasierskepe, aangesien die Suid-Afrikaanse gekwalifiseerde somatoloog hoog in aanvraag is as gevolg van hul uitgebreide kennis en vaardighede. 

Studente wat ʼn Somatologie-kwalifikasie behaal, kan ook verder spesialiseer in vel-estetika met ʼn groter fokus op mediese estetiese behandelings. So ʼn terapeut sal saam met ʼn mediese praktisyn werk met die fokus op gevorderde tegnieke en tegnologie.

Behandelings wat deur die somatoloog in ʼn mediese estetiese praktyk gedoen word, sluit in:

  • Laser- en IPL-behandelings vir teenveroudering en haarverwydering
  • Gevorderde chemiese afskilfering
  • “Microneedling”
  • Aknee-behandelings
  • Behandeling van pigmentasie

Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie

Waar kan ek dit studeer?

Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie

Isa Carstens Akademie is in 1978 gestig, en met 42 jaar in die bedryf is hulle Suid-Afrika se mees gerespekteerde en gesogte skoonheidsakademie. Isa Carstens Akademie se kursusse is geakkrediteer deur die Raad van Hoër Onderwys en het kampusse in Pretoria en Stellenbosch.

Die Akademie bied die volgende geakkrediteerde kursusse aan:

  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Diploma in Somatologie
  • Gevorderde Program in Vel-estetika

Akkommodasie is by albei kampusse beskikbaar.

Besoek die Isa Carstens Akademie se webwerf vir meer inligting en woon een van ons opedae by. Beperkte plekke is steeds beskikbaar vir 2021-aansoeke.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Gesondheid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae