Hoofpyn of migraine: Wat is die verskil?

(Foto: iStock)

Moet jy byna elke dag ’n pilletjie of pakkie poeier sluk om te keer dat jy nie jou kollegas of kinders oor die kole haal nie? Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie beïnvloed hoofpynversteuring, wat hoofpyn en migraine insluit, ongeveer 50% van alle volwassenes.

Volgens dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park, maak die druksensasie en pyn wat ’n mens in die kop ervaar dit soms moeilik om tussen ’n tradisionele hoofpyn en migraine te onderskei.

“Die onderskeid is egter baie belangrik aangesien dit die oorsaak, behandeling, die uitskakeling van potensieel ernstige toestande en die voorkoming van toekomstige episodes beïnvloed,” sê hy.

Hoofpyn

Hoofpyn veroorsaak pyn in die kop, gesig of boonste deel van die nek en kan wissel in hoe gereeld dit voorkom en hoe erg dit is. Die pyn kan wissel van lig tot ernstig, en kom gewoonlik aan weerskante van die kop voor. ’n Hoofpyn kan van ’n paar minute tot ’n week lank duur.

Volgens Lombard is die algemeenste soort hoofpyn ’n spanningshoofpyn. “Snellers vir hierdie soort hoofpyn sluit emosionele spanning, spierspasma en angs in. Hoofpyne kan egter baie ander gedaantes aanneem. Drie van die vernaamstes sluit troshoofpyne, sinushoofpyne en donderslaghoofpyne in.”

Troshoofpyn

Troshoofpyn (“cluster headache”) is erg pynlik en kom gewoonlik in siklusse aan die een kant van die kop voor.

Sinushoofpyn

Sinushoofpyn word dikwels met ’n migraine verwar en loop hand aan hand met sinusinfeksiesimptome soos koors, ’n toe neus, hoes, kongestie en ’n druksensasie op die voorkop en wangbene.

Donderslaghoofpyn

Hierdie soort hoofpyn (“thunder clap”) is ernstig, ontwikkel gewoonlik baie vinnig en reageer nie op konvensionele pynstillers nie. ’n Donderslaghoofpyn vereis onmiddellike mediese aandag aangesien dit op ’n ernstige onderliggende probleem soos breinbloeding, ’n aneurisme of beroerte kan dui.

Ken jy die verskil tussen ‘n hoofpyn en migraine. (Foto: iStock)

Migraine

Volgens Lombard is migraine ’n uiters pynlike hoofpynversteuring. “Migraine, wat ’n chroniese toestand is, veroorsaak gewoonlik meer intense en byna verlammende simptome as hoofpyn en maak die uitvoer van selfs gewone dagtake moeilik. Sommige soorte migraine veroorsaak egter nie hoofpyn nie.

“Naarheid, pyn agter slegs een oog of oor, flitsende ligte, lig- en klanksensitiwiteit, tydelike verlies aan visie en braking is van die vernaamste simptome. Hoewel ’n migraine gewoonlik slegs een kant van die kop beïnvloed, kan dit wel aan albei kante voorkom.”

Volgens hom kan migraine verder verdeel word in migraine met ’n aura óf  sonder ’n aura. “’n Aura verwys na sensasies wat pasiënte kort voor ’n migraine ervaar. Hierdie sensasies sluit in intellektuele afstomping, flitsende ligte, naald-en-speldsensasies in die gesig en hande, en ongewone reuk-, proe- en tassensasies.”

Net soos ander hoofpyne is daar sekere snellers wat migraine kan veroorsaak. Dit sluit emosionele angs, sekere voorbehoedmiddels, alkohol, hormoonverandering en menopouse in.

Wanneer is ’n pilletjie voldoende en wanneer moet jy professionele hulp inwin? Volgens Lombard is daar sekere rooivlagtekens wat onmiddellike mediese hulp vereis.

Rooivlagtekens

  • Hoofpyne wat ernstig begin of skielik ontwikkel
  • Donderslaghoofpyne
  • Hoofpyne wat gepaard gaan met neurologiese tekens soos swakheid, lamheid en verlies aan visie
  • Ernstige nekpyn met of sonder koors
  • Skielike en ongewone hoofpyne ná die ouderdom van 50 jaar
  • Hoofpyne wat erger word as jou liggaamsposisie verander
  • Nuwe of erger hoofpyne by ʼn pasiënt wat ʼn geskiedenis van migraine het.

“As jy nie enige van dié rooivlagtekens ervaar nie, kan jy middels wat jy oor die toonbank kan koop, soos parasetamol, aspirien of ibuprofeen, probeer. Ontspanningstegnieke soos hitteterapie, massering, meditasie en strekoefeninge kan ook help om verligting vir spanningshoofpyne te bring.

“Vir migraine en ander verwante hoofpyne word antidepressante, bloeddrukmedikasie en anti-epileptiese medikasie dikwels voorgeskryf. Indien jy enigsins onseker is, raadpleeg dadelik jou dokter of apteker,” sê Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.