Hospice Centurion: ‘Mense wil tuis sterf’

Annette Reed is die bestuurder van Hospice Centurion. (Foto: Centurion Hospice/Facebook.)

Haar stylvolle uitrusting met stewels en al het haar ’n hele R65 uit die sak gejaag. Annette Reed, bestuurder van Hospice Centurion, snuffel gereeld in hul winkel op die terrein op soek na winskopies.

“Hier koop jy enigiets van ’n haai in ’n bottel tot ’n ontwerperstrourok,” vertel sy. Uit die Hospice-winkel wat ook ’n boekwinkel insluit en op skenkings van die publiek staatmaak, verkry hulle 90% van hul broodnodige inkomste as ’n niewinsgewende organisasie.

Mites

Annette gesels oor mites, toekomsplanne en kreatiwiteit rondom geldinsameling vir die Hospice Centurion wat allesbehalwe ’n tweedehandse diens is.

“Baie mense het ’n weerstand teen Hospice en dink dat as jy by ons betrokke raak, dit ’n doodsvonnis is.

“As mense die woord ‘Hospice’ hoor, dan dink hulle die dood wag hulle in. Hulle besef nie wat palliatiewe sorg alles behels nie,” sê sy.

“Ons sien nie net na sterwendes om nie, maar ook na diegene met lewensbedreigende en lewensbeperkende siektes soos om skielik in ’n rolstoel te beland.

“Daar is ’n verskil tussen ’n hospies en palliatiewe sorg. ’n Hospies is ’n gebou of plek waar mense met terminale siektes gehelp word. Palliatiewe sorg is ’n omvattende en holistiese diens wat tuisversorging en psigososiale ondersteuning insluit.

“Palliatiewe sorg kan begin van die oomblik af dat demensie of orgaanversaking by iemand gediagnoseer word. Dit gaan dus nie net oor kankerpasiënte nie. Dit hou ook nie op as die pasiënt sterf nie, want ons loop ’n pad met die familie deur die rouproses.”

Hospice Centurion het hoogs opgeleide personeel wat mense tuis besoek, maar hulle gaan binnekort hul gebou in ’n hospitaal omskep soos wat die geval by Sun Gardens is. Tuisbesoeke sal voortduur. Baie mense verkies dit om eerder tuis as in ’n hospitaal te sterf.

Hulle beskik oor opgeleide palliatiewe- en wondversorgingsusters wat in beide gevalle ’n jaar langer as ander susters opgelei word asook versorgers. Pasiënte wat by hulle registreer, word weekliks besoek sodat hulle kan vasstel of hul medikasie nog werk, of hulle skoon is en of hul geestestoestand nog reg is.

“Dis tragies dat talle mense nie oor die vermoë beskik om na hul geliefdes om te sien nie. Die ou tannie kan nie meer die oom omdraai nie of die kinders is ver. Eensaamheid is die grootste euwel van ons tyd.

“Ons hou nie op om vir die pasiënte te baklei nie, maar as ’n pasiënt in die terminale fase is, neem ons die behandeling weg. Ons gee nie chemoterapie of verskaf binneaarse behandelings nie. Ons laat die pasiënte natuurlik sterf, maar alles word volgens etiese kodes gedoen.

“Dis ons doelwit om vir die pasiënt tot aan die einde ’n lewe van gehalte te gee en hom of haar met die sterwensproses te begelei.

“Gehalte beteken dat jy nie eensaam of bevrees is nie, dat jy tussen jou mense is asook pynvry. Ons werk met ’n puik span maatskaplike werkers, sielkundiges en dokters saam.

“Daar is egter groot uitdagings in Suid-Afrika as gevolg van ons gesondheidsorg en geen staatshulp vir palliatiewe pasiënte nie. Maar dit beteken nie dat as jy Hospice toe kom, maar nie ’n mediese fonds het nie, die gehalte nie dieselfde as elders is nie. Ons vra net nooit ’n pasiënt vir geld nie.”

Die Centurion Hospice vier jaarliks melktertdag waar bekendes soos die Grafsteensangers al opgetree het. (Foto: Verskaf.)

Kreatiwiteit

Om deesdae te oorleef, moet almal meer kreatief as voorheen wees.

Benewens hul jaarlikse damestee, het Hospice Centurion al talle verbeeldingryke planne uitgedink om die pot aan die kook te hou; soos hul jaarlikse melktertdag waar bekendes soos die Grafsteensangers al opgetree het en die voorlees van kinderboeke op Zoom tydens die inperking in samewerking met Henk Viljoen en NB-Uitgewers. Dit was gratis, maar mense kon donasies aan Hospice gee.

Daarbenewens beplan hulle ’n modevertoning gedurende die tweede fase van die grendeltyd in die Lente waar die modelle gebruikte uitrustings uit hul winkel gaan dra.

“Dit werk nie werklik om dit digitaal te doen nie. Ons sal die loopplank L-vormig uit die winkel laat kom, en stoele meters uitmekaar plaas. Ons het genoeg ruimte hier. Die koffiewinkel kan vir die versnaperings sorg.”

Van die klere wat aan hulle geskenk is, sluit selfs aandrokke in wat deur bekendes soos Henja Schaap en Dennis Lloyd ontwerp is, asook juwele.

“Baie mense wil nie gebruikte goed dra nie. Maar ek is ’n hersirkuleer-fanatikus en ek maak byvoorbeeld komberse met oorskietwol wat uit die Hospice kom, asook halfgebreide klere wat ek uitrafel en dan in blokkieskomberse omskep. Nou beplan ek om dik garing uit weggegooide wit T-hempies te maak en matjies daarvan te hekel.

Annette sê sy besef hulle sal aktiewer bemarking ten opsigte van fondse moet doen.

Cenurion Hospice het ‘n wonderlike winkel waar jy enige iets teen ‘n appel en ‘n ei kan koop. (Foto: Centurion Hospice/Facebook.)

Winkel

Hulle verkoop iets van alles. Hier kan jy huishoudelike goed, meubels, tuingereedskap, kuns en musiekverwante goed, stokou tydskrifte en die fynste koppies en pierings teen ’n appel en ’n ei koop.

Enigeen kan ook vyf dae per week van 08:00 tot 16:00 daar kom inkopies doen en tuisgebakte kaaskoek by die koffiewinkel (wat deur Hospice verhuur word) geniet terwyl die kinders in die tuin onder die bome baljaar.

En dan is daar die boeke. Die wonderlike boeke in die boekwinkel waar Annette “die helfte van haar salaris blaas.”

“Ek glo mense wat nie lees nie, het ’n halwe lewe.”

“Daarom nooi ek ondersteuners om hul oorskietgoed Hospice toe te bring. Ons kan dit gebruik.

“Niks wat ek in die winkel verkoop, is belasbaar nie, maar as mense byvoorbeeld suurstoftoerusting aan my skenk, kan ek aan hulle ’n belastingsertifikaat gee.”

Annette vertel dat hulle destyds die grond van die stadsraad van Tshwane gekry het op voorwaarde dat hulle dit vir palliatiewe en prepalliatiewe pasiënte en aanverwante aktiwiteite gebruik.

Sy is in haar skik met die feit dat hulle die Covid-19-pandemie tot dusver goed oorleef het.

“Ons moes aan die begin van Maart al ons nienoodsaaklike uitgawes net voor die inperking sny, maar het van die staat se werkloosheidsversekering gebruik gemaak. Dis hoekom ons nou in die wonderlike posisie is dat ons weer ’n binnenshuise pasiënteenheid kan oopmaak.

Dis vir pasiënte wat nie tuis versorg kan word nie, wat hul laaste dae by die Hospice moet deurbring of vir mense wat chemoterapie ontvang het en verswak is en dan by ons bly tot hulle weer op hul voete kom. Ons kan ook na pasiënte omsien wat Covid-19 gehad het en ná hul herstel nog te swak is om tuis versorg te word. So was daar al gevalle van een vrou wat amper verlam en ’n ander een wat heeltemal verlam was nadat hulle Covid opgedoen het. Hiervoor het ons tans 9 beddens, maar daar sal uiteindelik 16 wees.

Die Centurion Hospice het vroeër vanjaar in die afsonderingstydperk ‘n skenking van die WeCan-projek ontvang. (Foto: Centurion Hospice/Facebook.)

Gehalte

Die gehalte van hul sorg is hoog. Hulle is lede van die Hospice and Palliative Care Association (Sahpca) wat die oorhoofse liggaam is.

“Ons sal beslis meer personeel met die uitbreidings benodig. Die susters moet empatie hê en hulle moet nie net vir ’n salaris werk nie. Daar sal ook meer palliatiewe susters aangestel moet word en dis moeilik om hulle in die hande te kry.

“Die Hospice is ook baie goed met die behandeling van bedsere wat in die terminale fase van mense se lewe voorkom.”

Ondanks die gehaltesorg wat pasiënte by hulle kry, hoef hulle nie te betaal as hulle nie kan nie. Ten opsigte van dié wat wel kan, is dit ’n ander saak.

“Mense kan hier teen R500 per dag kom lê – baie minder as in hospitale. Pasiënte se versorging asook doktersbesoeke word deur mediese fondse gedek.”

Sy glimlag trots. “Ons is nie ’n liefdadigheidsorganisasie nie. Ons is ’n gewone maatskappy, maar ons gee aan die gemeenskap terug.

“Die Hospice Centurion is ’n bestemming van jou keuse. Jy moet kies om hierheen te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.