Hou jou bloeddruk in toom

Hoë bloeddruk is een van die hoofoorsake van sterftes wêreldwyd. (Foto: iStock)

Hoë bloeddruk is een van die hoofoorsake van sterftes wêreldwyd – meer as 13% van alle sterftes kan hieraan toegeskryf word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf byna 18 miljoen mense jaarliks aan harttoestande, met hoë bloeddruk wat die grootste sondebok is. Boonop kon 80% van dié sterftes deur gesonde eetgewoontes en 30 minute se oefening per dag voorkom word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Hartstigting sterf 225 Suid-Afrikaners daagliks weens hartaanvalle of beroertes. Altesaam tien mense in Suid-Afrika sterf elke uur aan ’n beroerte. Een uit elke vyf Suid-Afrikaanse sterftes word deur toestande verwant aan hoë bloeddruk of hipertensie veroorsaak, terwyl een uit elke vier Suid-Afrikaners hoë bloeddruk het. Maar wat is hoë en lae bloeddruk presies?

Hoë bloeddruk

’n Mens word met hoë bloeddruk gediagnoseer indien jou bloeddruk, nadat dit vir ’n tydperk gemonitor is, meestal hoër as normaal is. ’n Normale bloeddruklesing vir ’n gesonde volwassene is 120/80 of laer.

Die eerste syfer is jou sistoliese bloeddruk – die druk in jou are wanneer jou hart klop (en die hartspier saamtrek). Die tweede syfer is jou diastoliese bloeddruk, oftewel die druk in jou are tussen hartkloppe (wanneer die hartspier rus en met bloed gevul word).

Bloeddruk verhoog as jy oefen of stres ervaar, en verlaag wanneer jy rustig is of slaap. Daarom moet dit oor ’n paar maande gereeld gemeet word om te bepaal of jy inderdaad hoë (óf lae) bloeddruk het.

Wat veroorsaak hoë bloeddruk?

  • Familiegeskiedenis
  • Vetsug
  • Hoë cholesterolvlakke
  • Te veel alkohol
  • Rook – elke keer as jy ’n sigaret aansteek, styg jou bloeddruk en bly vir tot ’n uur daarna hoog
  • Voorbehoedmiddels, steroïede soos kortisoon en anti-inflammatoriese middels
  • Te veel sout
  • Diabetes
  • Chroniese niersiekte
  • Te min oefening

Gevolge van hoë bloeddruk

  • Indien dit nie behandel word nie, verswak die hart, wat weer tot moegheid, kortasemheid en geswelde enkels kan lei.
  • Die bloedvate na die hart, brein, oë, niere en bene vernou gouer.
  • Vernoude vate kan hartaanvalle, beroertes, blindheid, nierskade en ander lewensgevaarlike gevolge inhou.

Wat is lae bloeddruk?

As jou bloeddruk 90/60 of laer is, het jy lae bloeddruk. Jou bloeddruk word beïnvloed deur die tyd van die dag, stresvlakke, oefening en jou fiksheidsvlak, die temperatuur en die laaste maaltyd wat jy geëet het.

Lae bloeddruk kan die sekondêre gevolg van ’n onderliggende siektetoestand wees. Lae bloeddruk veroorsaak dat minder suurstof deur jou liggaam versprei word, wat op die lang termyn neurologiese probleme kan veroorsaak as jou brein nie genoeg suurstof kry nie.

Wat veroorsaak lae bloeddruk?

  • ’n Afname in bloedvolume weens trauma, ontwatering of ernstige inwendige bloeding
  • Anafilakse (’n dodelike allergiese reaksie)
  • Diabetes, Addison se siekte en ’n onderaktiewe skildklier
  • Hartprobleme soos hartversaking en ’n hartaanval
  • Medikasie soos sekere antidepressante, hartmedikasie en medikasie vir Parkinson se siekte
  • ’n Gebrek aan vitamien B12 of foliensuur
  • Swangerskap
  • Septiese skok (weens ernstige infeksie)

Gevaartekens

Lae bloeddruk is gevaarlik wanneer jy ook die volgende simptome ervaar:

  • Naarheid
  • Dowwe sig
  • Moegheid
  • Vinnige, vlak asemhaling
  • Koue, klam en bleek vel
  • Lighoofdigheid of duiseligheid
  • Floute
  • Neusbloeding
  • Ontwatering
  • Ongewone dors

Bloeddruk verhoog as jy oefen of stres ervaar, en verlaag wanneer jy rustig is of slaap. Daarom moet dit oor ’n paar maande gereeld gemeet word om te bepaal of jy inderdaad hoë (óf lae) bloeddruk het. (Foto: iStock)

Tien bloeddrukwenke

Hoë bloeddruk:

  1. Volg ’n gebalanseerde dieet ryk aan vesel, vrugte, groente en laevetsuiwelprodukte. As jy oorgewig is, is jou bloedsirkulasie swakker, wat meer stres op jou gewrigte, beenstruktuur en hart plaas. So skud eerder daardie ekstra vetjies af.
  2. Beperk jou soutinname. Vermy southappies, wegneemetes, soppoeier, souse en verwerkte vleis.
  3. Stadig met die sopies. Vroue behoort nie meer as een drankie per dag en mans nie meer as twee drankies per dag te drink nie. Alkohol kan ’n mens se bloeddruk laat styg en kniehalter die werking van bloeddrukmedisyne.
  4. Oefen Navorsing het bewys dat 30 minute se draf, stap, fietsry of swem jou hartgesondheid ’n hupstoot gee. Kardiovaskulêre oefening verbeter bloedsirkulasie, longkapasiteit en die doeltreffendheid van jou hart.
  5. Die gebrek aan ’n goeie nagrus is ook nadelig vir jou bloeddruk. Probeer daarom om minstens ses ure slaap per nag in te kry.

Lae bloeddruk:

  1. Meer water. Ontwatering is ’n algemene oorsaak van lae bloeddruk. Probeer om minstens agt glase water per dag te drink.
  2. Eet minder, meer gereeld. Moenie ’n maaltyd oorslaan of te veel op een slag eet nie. Eet eerder kleiner porsies, vyf of ses keer per dag.
  3. Vermy eerder alkohol omdat dit jou kan laat ontwater, wat jou bloeddruk verder sal laat daal. Kaffeïen kan wel jou bloeddruk laat styg, maar moet altyd matig gebruik word.
  4. Sit kruisbeen. Dit sal jou bloeddruk verhoog. As jy met hoë bloeddruk worstel, moenie kruisbeen sit nie. Staan ook stadig op om lighoofdigheid of floute as gevolg van lae bloeddruk te verhoed.
  5. Sekere medisyne kan lae bloeddruk in die hand werk. As jy chroniese medikasie gebruik, bespreek jou lae bloeddruk met jou dokter.

Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en laat jou bloeddruk gereeld nagaan. In baie gevalle is bloeddrukskommelings die gevolg van ’n onderliggende siektetoestand. Daarom is dit belangrik dat jou dokter die oorsaak daarvan bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.