Hou jou gehoor veilig en gesond

Een uit elke vyf mense ly reeds aan gehoorverlies en nog meer loop die risiko om permanente gehoorverlies op te doen, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Dié organisasie skat ook dat meer as ʼn miljard studente hul gehoor op die spel plaas weens slegte gewoontes wat studente se gehoor negatief beïnvloed.

Om bewusmaking vir dié onsigbare epidemie te skep, het die WGO Wêreldgehoordag op 3 Maart in 2015 geskep.

De Wet Swanepoel, ʼn professor in oudiologie by die Universiteit van Pretoria, sê onbehandelde gehoorprobleme kan ʼn stelselmatige maar omvattende uitwerking hê op iemand se sosiale en emosionele welstand.

“Dit word selfs met depressie, hospitalisering en ʼn kognitiewe afname in volwassenes geassosieer. Boonop is die grootste risikofaktor vir demensie in die middeljare gehoorverlies,” sê Swanepoel.

Hier is drie maniere om na jou gehoor (en jou brein) om te sien:

  1. Luister veiliger

Aangesien daar geen kuur vir gehoorverlies is nie, is dit altyd beter om voorkomend op te tree wanneer dit by jou gehoor kom. Die algemeenste oorsaak van gehoorverlies is as gevolg van permanente skade aan die gehoororgaan, en dit kan nie oorkom of omgedraai word nie.

Die alomteenwoordige kultuur van tegnologie, en studente se gebruik van oorfone, is byvoorbeeld ʼn groot risiko vir jongmense reg oor die wêreld.

In ʼn onlangse studie is bevind dat een in elke sewe kinders tussen die ouderdomme van nege en elf reeds vroeë tekens van gehoorverlies het as gevolg van oortollige geraas. Dié tekens kan lewenslange gevolge hê.

Die WGO stel voor dat veilige luistergewoontes wat maklik geïmplementeer kan word, gekweek word.

Eerstens, draai die volume af, verkieslik na onder 60% van die maksimum. Gebruik ook oorfone wat goed pas, of verkieslik eerder geraasonderdrukkende oorfone.

Tweedens, beskerm jou ore teen harde klanke deur oorpluisies te dra of weg te beweeg van die bron van die harde klanke, byvoorbeeld luidsprekers, af.

Laastens, beperk die tyd wat jy aan raserige aktiwiteite bestee, insluitend die daaglikse gebruik van oorfone of luidsprekers. Neem ook kort luister-breuke tussenin.

  1. Gaan gereeld vir ʼn ondersoek

Dit is interessant dat dit gewoonlik nie die persoon met gehoorverlies is wat sy eie probleem agterkom nie, maar eerder ʼn lewensmaat of kinders wat dit uitlig.

Aangesien mense wat met gehoorverlies sukkel harder moet probeer om mense te hoor en om gesprekke te volg, sukkel hulle ook dikwels met moegheid. Tinnitus en ʼn aanhoudende luiklank in die ore, is ander algemene simptome van gehoorprobleme.

Die Universiteit van Pretoria het moeite gedoen om gehoorondersoeke vrylik beskikbaar vir die publiek te maak met die hulp van ʼn Hear XGroup-app om vinnig jou gehoor by die huis te toets.

Dié app is gratis en doen ʼn vinnige 2 minuut lange gehoortoets. As jy ʼn gehoorprobleem het, skakel gerus jou ook jou naaste gehoorspesialis.

  1. Kry so gou as moontlik behandeling

Wanneer dit by ʼn gehoorprobleme kom, is dit altyd beter om vroeër eerder as later daaraan aandag te gee.

Studies dui ook al meer op die skakel tussen gehoor en breinwelstand en dit dui aan dat hoe beter jou gehoor is, hoe beter is dit vir jou brein.

Gelukkig lewe ons in ʼn tyd waar tegnologie gevorderd is en waar gehoorbehandeling minimaal en kragtig kan wees om gehoor te verbeter. Met die regte ondersteuning en behandeling hoef mense met gehoorverlies niks te mis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Net jammer dat gehoortoetse en apparate so onbeskostigbaar is. Nie almal kan dit bekostig nie. Al het jy n mediesefonds word alles nie gedek nie.

koos10 ·

Ek is oortuig dat alle mans wat militere opleiding voor 1994 ontvang het in SA, wel gehoor probleme het. Ek is een van hulle. In die tyd was GEEN gehoor beskerming ontvang tydens skiet oefeninge nie. en nou 30 plus jare later sit ek semi doof en weet nie hoe die saak verder te neem nie!

J ·

Die passasiers in baie taxi’s en busse word aan super harde musiek blootgestel … iemand moet daardie mense beskerm teen gehoorskade.

Motorfietse en ander raserige voertuie oorskry die ‘geraas’ regulasies by verre sonder dat iemand teen hulle optree. Dit lyk asof die polisie en verkeersbeamptes geen benul het van ‘geraas’ regulasies nie.

Kom ons vat hulle vas!

OW ·

Jy is heeltemal reg AJ.Die Polisie en Metro Polisie het nie ‘n benul van die geraasregulasies nie want hulle mag dit nie toepas nie.Hier in Gauteng mag slegs die “Environmental Health Practitioners” die genoemde regulasies toepas.(Gauteng Noise Regulations)Nog nooit gesien dat raserige voertuie en motorfietse getoets word nie.Die regulasies maak wel voorsiening daarvoor.Ander geraas klagtes soos musiek geraas,”compressors”en opwekkers word ook deur genoemde beamtes hanteer.Kla by die munisipaliteite en vra vir die EHP’S

Eish ·

Ek is een van die 20% wat gehoorverlies het. My gehoorverlies is agv my gene. Alhoewel so baie mense sukkel met gehoorverlies, is die mense in die algemeen glad nie ingestel op gehoorgestremtheid nie. Mense praat met jou sonder om vir jou te kyk, mense praat onduidelik of sag. Ek moet erken dat die gehoorverlies party keer baie voordelig is…. as my kinders die woorde “moet” en “koop” in een sin gebruik is geen gehoorstuk sterk genoeg nie ;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.