Hou ’n ogie op jou gesondheid

Of jy terug is by die werk, nog in jou tuiskantoor swoeg of aanlyn studeer of skoolgaan, beskerm jou oë teen digitale oogstremming. (Foto: iStock)

Die koronaviruspandemie het sy tol op alle aspekte van die samelewing geëis, ook ons ooggesondheid. Ouers het maande lank van die huis af gewerk en kinders en studente het op hul beurt ure aanlyn aan skoolwerk en studies bestee.

Die skade van dié buitengewone hoeveelheid skermtyd sal dalk nie nou al duidelik wees nie, maar met Oogsorgbewustheidsmaand wat van 21 September tot 18 Oktober in Suid-Afrika gevier word, behoort ons opnuut ’n ogie op dié onmisbare orgaan te hou. ’n Gereelde oogondersoek kan letterlik jou lewe red.

Volgens die eerste wêreldverslag oor visie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, is daar 2,2 miljard mense met gesiggestremdheid of blindheid ter wêreld, met meer as een miljard gevalle wat voorkom kon word of nog behandel moet word, waaronder ver- of bysiendheid, gloukoom en katarakte.

Bevorder optimale ooggesondheid

  • Kyk na jou gewig. Die handhawing van ’n gesonde gewig verminder die waarskynlikheid om tipe 2-diabetes te ontwikkel, ’n belangrike oorsaak van blindheid by volwassenes.
  • Voedingstowwe soos sink, selenium, vitamien B1, C en E, luteïen en omega 3-vetsure kan help om ouderdomsverwante oogprobleme soos katarakte en makulêre degenerasie te voorkom.
  • Benewens dié aanvullings, kan jy smul aan kos soos:
    • Neute, bone en eiers;
    • vis ryk aan omega 3-vetsure soos salm en tuna;
    • sitrusvrugte; en
    • groen blaargroente soos spinasie.

Verminder digitale oogspanning

Of jy terug is by die werk, nog in jou tuiskantoor swoeg of aanlyn studeer of skoolgaan, beskerm jou oë teen digitale oogstremming deur:

  • Gereeld van die skerm af weg te kyk en ’n draai buite te gaan stap;
  • ’n armlengte van jou rekenaarskerm te sit;
  • oorhoofse lig te verminder om die weerkaatsing (“glare”) van die skerm te verminder; en
  • die teksgrootte op jou rekenaar of selfoon te vergroot sodat jy nie jou oë op skrefies hoef te trek om die baas se boodskap te lees nie.

Tien dinge wat jou oë oor jou gesondheid sê

Dit is meer irriterend as kommerwekkend, maar ’n oog wat onbeheersd spring, kan ’n teken van spanning wees en dat jy meer rus moet kry. (Foto: iStock)

Dis nie net die vensters van die siel nie, maar ons oë verklap ook heelwat oor ons algemene gesondheid:

  • Dit is meer irriterend as kommerwekkend, maar ’n oog wat onbeheersd spring, kan ’n teken van spanning wees en dat jy meer rus moet kry.
  • Wasige of dowwe sig kan wees as gevolg van ’n katarak of makulêre degenerasie, maar kan ook dui op ’n ernstiger siekte soos diabetes. ’n Oogarts kan diabetes tydens ’n ondersoek opmerk op grond van onreëlmatighede op jou retina.
  • Hoewel ’n wit ring om die iris gewoonlik met veroudering gepaard gaan, kan dit ook dui op hoë cholesterol en trigliseriede, wat ’n risiko vir hartsiektes of beroerte kan beteken.
  • Onbehandelde hoë bloeddruk beskadig die bloedvate in jou retina. Hoewel jy dit nie in die spieël sal sien nie, kan ’n oogkundige moontlike hoë bloeddruk só identifiseer en dalk jou lewe red.
  • As jy hard of gereeld oor jou oë vryf, veroorsaak dit dat jou ooglede losser word, wat nie net plooie veroorsaak nie, maar blootstelling aan lug vermeerder en droë oë vererger. Die grootste sondaar vir jeukende oë is seisoenale allergieë.
  • Het jy al klein spikkels of kolletjies gehad wat in jou gesigsveld beweeg? Hoewel dié “oogdrywers” algemeen is, moet dit nie geïgnoreer word nie. Dit kan ’n teken wees van ’n retina wat geskeur is of los raak.
  • Sommige mense ontwikkel ’n gelerige vlek of bult op die wit deel van die oog. ’n Klein persentasie hiervan is ’n voorteken van kanker, maar dui meestal op te veel tyd in die son. Daarom word spesifieke lense aanbeveel om jou oë teen sonskade te beskerm.
  • As die wit dele van jou oog soos ou vergeelde papier lyk, het jy ’n dieperliggende gesondheidsprobleem soos geelsug. Dit is redelik skaars by volwassenes (soms word babas met geelsug gebore), maar dit is meestal te wyte aan ’n infeksie soos hepatitis, alkoholverwante lewersiekte of iets wat die galbuise blokkeer, soos galstene of kanker.
  • Te veel skermtyd en lugversorging veroorsaak dat ons oë droog raak en begin traan. Ironies is tranerige oë ons oë se natuurlike manier om korte mette van droë oë te maak.
  • Rooi oë word veroorsaak deur oogmoegheid, allergieë, deur te lank kontaklense te dra of algemene ooginfeksies. Aanhoudende rooi, bloedbelope oë kan egter dui op ’n ernstiger oogtoestand soos gloukoom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.