Is jou kolon gesond?

(Foto: National Cancer Institute/Unsplash)

Die kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) raai mense aan om ’n aktiewe, gebalanseerde leefstyl te lei en sê dat sekere leefstylveranderinge kankerrisiko kan verlaag.

Kolorektale of kolonkanker is onder die topdrie‑kankers vir mans en vroue in Suid-Afrika, met kanse van 1 in 77 vir mans en 1 in 132 vir vroue wat gediagnoseer kan word, volgens die Nasionale Kankerregister van 2019. Daar is ook bewyse van al hoe meer jonger mense wat met kolorektale kanker gediagnoseer word. Dit is die tweede mees algemene kanker onder mans na prostaatkanker en die derde mees algemene kanker onder vroue na bors- en servikskanker. Ongelukkig is die simptome nie altyd in die vroeë stadium van hierdie soort kanker sigbaar nie. Wanneer simptome wel voorkom, word dit dikwels van die hand gewys as onverwant of verkeerd gediagnoseer. Talle mense word eers gediagnoseer wanneer die siekte al ver gevorder het.

Kansa se “Colin, die kolontonnel” gee die publiek die geleentheid om op ’n visuele manier meer van kolorektale kanker te leer. (Foto verskaf)

Verder beveel die vereniging aan dat mense sekere leefstylfaktore uitsny wat hulle in gevaar stel vir kanker. Slegte leefstylkeuses kan ’n belangrike rol speel wanneer dit by verhoogte risiko vir hierdie soort kanker kom.

“Ons beoog om die feite op ’n prettige, interaktiewe manier oor te dra. Kansa het in vennootskap met Medtronic ’n kolorektale bewusmakingsvideo uitgereik met die karakters Sizwe en Crystal in die hoofrolle. Dié twee ontdek hoe hulle leefstylkeuses hul kolorektale gesondheid geraak het, en watter simptome hulle nie kan ignoreer nie,” sê Lorraine Govender, Kansa se nasionale bestuurder vir gesondheidsbevordering. Die organisasie se bewusmakingsveldtog wat op kolorektale gesondheid fokus, staan reeds in sy tweede jaar.

Kansa het ook “Colin, die kolontonnel” ontwikkel om aan die publiek die geleentheid te bied om op ’n visuele en tasbare manier oor kolorektale kanker te leer. Die publiek kan deur ’n opblaastonnel van 2 m x 3 m lank loop wat die kolorektale kanaal verteenwoordig en so oor kolorektale kanker leer. Dié tonnel kan van binne en buite by verskeie Kansa-geleenthede beskou word en kan selfs by welweesgeleenthede vir werknemers ten toon gestel word.

“Sizwe, Crystal en Colin help om bewusmaking te skep van die risikofaktore wat uitgesny moet word om die risiko van kolorektale kanker te verlaag, asook die simptome van die siekte, wat heel moontlik baie lewens deur vroeë opsporing red, wanneer die kanker nog behandel kan word. Kansa beveel gereelde siftingstoetse aan, asook bewuswording van jou liggaam en familiegeskiedenis, en om ’n aktiewe en gebalanseerde leefstyl te lei,” sê Govender.

Faktore wat die risiko van kolorektale kanker verhoog, sluit in leefstylfaktore soos ’n gebrek aan gereelde oefening; te min vrugte of groente, laevesel‑hoëvet‑dieet; vetsugtigheid, alkoholmisbruik; die gebruik van tabak en slegte mondhigiëne. Oorerflike sindrome, ’n persoonlike geval of familiegeskiedenis van poliepe (groeisels) of kolorektale kanker; inflammatoriese dermkanaalsiekte; tipe 2-diabetes en bejaardheid is ander risikofaktore.

Kansa het ’n aanlyn leefstyl-risikobepalingsinstrument wat help om leefstylfaktore te identifiseer wat kankerrisiko kan verhoog. Dit maak dan aanbevelings oor hoe om gedrag te verander om kankerrisiko te verlaag. Die toetse kan ook by Kansa se sorgsentrums gedoen word.

Siftingstoetse

Sizwe en Crystal is die twee hoofkarakters in Kansa se kolorektale bewusmakingsvideo. (Foto verskaf)

Dit is belangrik om van familiegeskiedenis rakende kolorektale kanker bewus te wees en om van siftingstoetse gebruik te maak voordat simptome en ongemak ervaar word, aangesien daar geen simptome met die aanvang van hierdie soort kanker is nie.

Vroeë opsporing is uiters belangrik. ’n Kolonoskopie wat by pasiënte met simptome of diegene ouer as 50 jaar deur ’n gastroënteroloog gedoen word, kan voorkankerse poliepe in die kolon opspoor. Indien hierdie poliepe verwyder word, kan dit die kanse vir die ontwikkeling van kolorektale kanker drasties verlaag. As abnormale simptome ervaar word, of indien daar ’n familiegeskiedenis van kolorektale kanker is, kan ’n kolonoskopie op ’n jonger ouderdom aangevra word.

Deur die teenwoordigheid van bloed in die stoelgang te identifiseer, kan kolorektale kanker vroeg opgespoor word. ’n Fekale okkulte toets, teen R100, wat tuis gedoen kan word, is by sekere Kansa-sorgsentrums beskikbaar of stuur ’n e-pos aan [email protected] vir meer besonderhede. As die toets positief is – dit word aangedui deur ʼn sigbare rooi lyn op die toetsstreep – vir bloed in die stoelgang, sal Kansa ’n verwysingsbrief verskaf om ’n kolonoskopie aan te vra.

Stomadiens

Baie pasiënte van kolorektale kanker laat ’n gedeelte van hulle ingewande en/of kolon verwyder en het dan ’n permanente stoma. ’n Stoma is ’n opening op die buik wat met die spysverteringstelsel of urinestelsel verbind word om afval uit die liggaam te verwyder. Dit kan ’n rukkie neem vir ’n pasiënt om aan die stoma gewoond te raak. Dit is dan belangrik om ondersteuning by Kansa te kry.

Kansa se stomadiens het ’n uitstekende reeks van stomaprodukte en bykomstighede, en bied ondersteuning aan pasiënte. Die Kansa Tele-Stoma Ondersteuningsdiens bied aanlyn konsultasies vir stomapasiënte en hulle families om te help met uitdagings of stoma-navrae. Maak ’n afspraak by 0800 22 66 22.

Colin help om bewusmaking te skep van die risikofaktore wat uitgesny moet word om die risiko van kolorektale kanker te verlaag. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.