Jou emosionele welstand kan ly onder Covid-19

Argieffoto (Foto: Engin Akyurt/Pixabay)

Hou jy jou emosionele gesondheid so mooi dop soos jy die moontlikheid van algemene koronavirussimptome dophou?

Die Covid-19-pandemie het ʼn impak op alle aspekte van die lewe, naamlik finansies, sosiale verhoudings, onderwys, fisiese gesondheid en veral psigiese gesondheid – ʼn aspek wat tot op hede nie veel aandag geniet het nie. Die realiteit is dat die impak van hierdie pandemie nog vir jare deel van mense se lewe gaan wees.

Daarom gaan Solidariteit hierdie week toewy aan die versorging van jou emosionele welstand in hierdie nuwe post-Covid-era. Hierdie week dra ons die emosionele welstand van ons gesondheidswerkers op die hart, wat insluit die uitdaging om daagliks beskermende drag (PPE) te moet aantrek, bemoediging aan ons gesondheidswerkers asook informatiewe artikels om jou goed toe te rus vir gesonde emosionele welstand.

Pretoria FM en PPE-uitdaging

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, geklee in volle PPE-drag as deel van ʼn bewusmakingsaksie ten opsigte van die goeie en moeilike werk wat ons gesondheidspraktisyns elke dag doen (Foto verskaf)

Solidariteit begin die week met ʼn inligtingsessie op Pretoria FM waar dr. Jerrie Bezuidenhout, ʼn psigiater van Vista-kliniek, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die impak van Covid-19 op jou emosionele welstand bespreek.

Op 6 April het die mediese span van Solidariteit en dr. Hermann ʼn dag lank in volle PPE-drag gewerk en het ook die oggendspan by Pretoria FM uitgedaag om in die glaskas in volle PPE-drag uit te saai.

Vista-kliniek vertel meer oor die psigiatriese-siektes-tsunami

Psigiatriekenners voorspel dat die Covid-19-pandemie tot ʼn tsunami van emosionele en psigiatriese probleme gaan lei. Die kenners reken dat gevalle van angsversteuring, depressie, selfdood en selfs posttraumatiese stresversteuring wêreldwyd gaan toeneem as gevolg van die probleme wat veroorsaak word deur die inperkingsmaatreëls, die vrees vir die virus en gevolge van die virussiekte.

Faktore soos self-isolasie en kwarantyn affekteer mense se normale aktiwiteite, roetines en werksaamhede, wat weer tot ʼn toename in eensaamheid, angs, depressie, slaapversteurings, alkohol- en dwelmmisbruik of selfdoodneigings kan lei (WGO, 2020c).

Miljoene mense wêreldwyd het in die afgelope jaar hul werk verloor. Die gebrek aan inkomste lei tot verdere probleme en onsekerheid wat ook depressie, angs en selfdoodneigings kan veroorsaak of vererger. Die ekonomiese uitkring-effek is dat die mense dan ook kan sukkel om hulp te kry vir hul psigiatriese siektes, wat die impak van sulke siektes dan verder verleng en vererger.

Wit Strik gaan op toer

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand se Wit Strik toer na Vista-kliniek in Centurion (Foto verskaf)

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand het as eerbetoon vir gesondheidswerkers op Maandag 1 Februarie ʼn groot wit lint van 180 meter om Unitas-hospitaal in Centurion gespan as simbool van dankbaarheid teenoor die land se gesondheidswerkers.

Duisende mense het hul boodskappe van dankbaarheid vir die gesondheidswerkers daar gaan neerpen.

Die stryd teen Covid-19 duur steeds voort, en daarom wil Solidariteit aan elke gesondheidswerker erkenning gee en hulle eer: “Gesondheidswerkers is die hedendaagse helde van Suid-Afrika. Hulle werk ongelooflike ure onder moeilike omstandighede en word buite verhouding aan die virus blootgestel. Hulle verdien dus ons buitengewone steun. Ons wil dankie sê aan elkeen wat ten spyte van hierdie pandemie elke dag hul gesinne verlaat om na ons s’n om te sien,” sê dr. Hermann.

Die Wit Strik gaan ook nou op toer in Gauteng!

Midvaal-hospitaal in Vereniging en Vista-kliniek in Centurion kry ook nou hulle eie Wit Strik en die gemeenskap kan hul boodskappe vir die gesondheidswerkers ook nou by hierdie gesondheidsinstellings gaan neerskryf.

Welstandbarometer

Solidariteit Helpende Hand se welstandbarometer se doel is om mense by te staan in die werkherstelproses tydens en ná die Covid-19-krisistyd. Hierdie welstandbarometer is deel van Solidariteit se omvattende Werkherstelprogram. Deur middel van die barometer kan persone ʼn breë gevoel kry oor hoe dit met hul finansiële, werk-, emosionele en geestelike welstand gaan.

Die barometer is bloot ʼn basiese aanduider van welstand. Indien nodig moet professionele hulp bekom word: https://welstand.solidariteit.co.za/welstandsbarometer/

Hou Solidariteit en Vista-kliniek in Centurion se sosiale media dop vir meer inligting, video’s, aksies en artikels:

Solidariteit se Facebook-blad: https://www.facebook.com/solidariteit
Vista-kliniek se Facebook-blad: https://www.facebook.com/VistaClinic

Watter impak het die pandemie op ons emosionele gesondheid? Kyk hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.