Jou gesondheid het ’n appeltjie te skil

Suid-Afrika het volgens Statista in 2018-’19 sowat 856,6 duisend ton vars appels geproduseer. (Foto: iStock)

Appels, waarvan daar meer as 7 500 variëteite bestaan, is soos pere en pruime deel van die roosfamilie. Daar is al amper net soveel studies oor appels gedoen as die aantal variëteite. Kenners is dit eens dat die grootste gesondheidsvoordele daarin lê om dié supervrug vars en heel te eet, pleks van vooraf gesny, verwerk of versap.

Sewe sappige argumente vír appels

  • Perfekte peuselhappie – Een medium appel bevat ongeveer 80 kalorieë, proteïen, natuurlike suiker en geen vet, natrium of cholesterol nie. Spoel net af en eet sonder om skuldig te voel!
  • Kameraad teen kanker – Navorsing het bevind dat appels jou teen sekere soorte kanker beskerm, waaronder bors-, serviks-, long-, kolon- en prostaatkanker. Die antioksidante beskerm ook jou selle teen skade wat kan lei tot hartsiektes en beroerte.
  • Figuurvriendelik – Tweederdes van ’n appel se voedingswaarde is in die skil opgesluit. Navorsers sê dié veselryke vrug hou nie net jou spysvertering op dreef nie, die 3 g vesel in elke appel laat jou langer versadig voel. In een studie het vroue wat drie appels per dag geëet het baie meer gewig verloor as dié wat nie appels geëet het nie.
  • Breinbelang – Die plantpigment kwersetien beskerm die brein teen skade wat bydra tot neuro-degeneratiewe siektes soos alzheimersiekte en Parkinson se siekte. Daar is ook bevind dat mense met gematigde tot ernstige alzheimersiekte wat een koppie appelsap per dag gedrink het, ’n 27%-verbetering in gemoed- en gedragsimptome getoon het.
  • Pantser jou pankreas – Die pankreas speel ’n belangrike rol in die verwerking van suiker in die bloedstroom. Die flavonoïede in appels help om die selle in die pankreas gesond te hou en verminder die risiko vir tipe 2-diabetes. In een studie van nege jaar het mense wat een of meer appels per dag geëet het, ’n 28%-kans gehad om tipe 2-diabetes vry te spring teenoor diegene wat dit nie geëet het nie.
  • Asemrowend – Appels het natuurlike anti-inflammatoriese en antihistamien-eienskappe, wat beteken dat dit help om asma en ander asemhalingsprobleme soos brongitis en emfiseem hok te slaan. Een studie het bevind dat vroue wat appels gedurende hul swangerskap geëet het, ’n verlaagde voorkoms van asma en hygasem by hul kinders op vyfjarige ouderdom aangemeld het.
  • Verdedigingsvrug – Appels speel dalk tweede viool teenoor lemoene wat vitamien C betref, maar bevat steeds 10% van die vitamien C wat jy daagliks nodig het. Dit tesame met die oplosbare vesel wat jy van die vrug se pektien kry, maak dit die ideale verdedigingsmeganisme teen kieme wat die immuunstelsel teiken. Dit hou boonop jou ingewande gesond en laat goeie bakterieë gedy.

Ons Golden Delicious-appels, wat ’n kwart van Suid-Afrika se appeluitvoere verteenwoordig, is veral gesog in die Verenigde Koninkryk en Europa. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.