Kalsium gee vrouegesondheid stukrag

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Internasionale Vrouegesondheidsdag word reeds vir meer as 30 jaar op 28 Mei gevier. Op dié dag kom vroue en gesondheidsorganisasies wêreldwyd byeen om bewustheid oor vroue se gesondheid en regte te skep. Dié dag het veral ten doel om sosiale en geslagsongelykheid aan die groot klok te hang.

Een van die talle gesprekspunte is vroue se reproduktiewe gesondheid. Hoewel dit ʼn bekende feit is dat vroue veral meer kalsium tydens swangerskap benodig, het talle studies bevind dat vroue as ʼn reël ʼn wakende oog oor hul kalsiuminname moet hou omdat hulle ʼn hoër risiko as mans het om siektetoestande soos osteoporose te ontwikkel.

Trouens, die kans om osteoporose (brose bene wat maklik breek) te ontwikkel, is vier keer groter vir die skoner geslag. Die voordele van ʼn verhoogde kalsiuminname strek egter veel verder as sterk bene en skitterwit tande. Dit is ook nie iets waarmee jy tot jou oudag moet wag nie – inteendeel, dis juis die klein gesondheidstreë wat ons van jongs af gee, wat ons in ons hersfjare teen allerlei kwale kan beskerm, meen gesondheidskenners.

(Foto: iStock)

Tien kalsiumfeite:

  1. Ons liggame kan nie kalsium vervaardig nie, so dit moet deur middel van kos en aanvullings ingeneem word. Kos wat hoog in kalsium is, sluit in suiwelprodukte soos kaas, melk en jogurt; donkergroen groente soos broccoli en spinasie; wit bone; sardiens; en kalsiumverrykte brood, ontbytgraan, soja en lemoensap.
  2. Kalsium en vitamien D is soos vinkel en koljander. Sonder vitamien D kan kalsiumopname nie plaasvind nie. Daarom moet jy kos soos salm en eiergeel by jou dieet insluit. Soms is melk ook met vitamien D verryk. Die son bly een van die beste natuurlike vitamien D-bronne omdat dié vitamien deur die vel vervaardig word as dit aan sonlig blootgestel word.
  3. Kalsium sorg vir sterk tande en digte bene, maar die liggaam benodig ook kalsium vir belangrike funksies soos bloedsirkulasie, spierwerking, hormoonvrystelling en om boodskappe van die brein na die res van die liggaam te neem. Indien te min kalsium ingeneem word, word dit uit jou kalsiumopgaartenk – die bene – onttrek.
  4. Verskeie studies toon dat kalsium die simptome van premenstruele sindroom (PMS) kan verlig. Navorsers het bevind dat vroue met PMS onder meer te min kalsium en magnesium inneem.
  5. Sommige mense kry nie genoeg kalsium deur kos in nie. Vir diegene wat laktoseweerstandig of veganiste is, glad nie suiwelgeesdriftiges is nie, te veel proteïene en sout inneem (wat kalsiumuitskeiding aanvuur), is kalsiumaanvullings raadsaam. Aanvullings kan egter met die opname van sekere ander minerale (soos sink en yster) en voedingstowwe, asook die werking van medikasie inmeng, en newe-effekte soos winderigheid, opgeblasenheid en hardlywigheid hê. Raadpleeg altyd jou dokter voordat jy jou winkelwaentjie vol allerlei aanvullings laai.
  6. Soos met alles in die lewe, is die gesegde “te veel van ʼn goeie ding…” ook hier van toepassing. Hoewel sommige dokters meen dat te veel kalsium die risiko vir hartsiektes verhoog, moet heelwat navorsing nog hieroor gedoen word. Wat ons wel weet, is dat oormatige kalsium tot nierstene, en in uiterste gevalle, kalsium in die bloedstroom (hiperkalsemie), kan lei.
  7. Hoeveel van dié mineraal behoort ons in te neem? Die aanbevole daaglikse inname vir mans (tot 70 jaar), is 1 000 mg en 1 200 mg vir mans ouer as 70 jaar. Vroue behoort hul kalsiuminname vanaf 51-jarige ouderdom van 1 000 mg tot 1 200 mg te verhoog (dus twee dekades vroeër as mans). Die boonste limiet is 2 500 mg vir volwassenes tot en met 50 jaar, waarna dit afneem tot 2 000 mg vir diegene ouer as 51 jaar. Kinders tussen 9 en 18 behoort 1 300 mg per dag in te neem.
  8. Waarom is kalsium so belangrik tydens swangerskap? Jou liggaam doen alles moontlik om die groeiende baba te voed, selfs deur van die kalsium in jou bene vir die kleinding te gee. Sommige studies toon dat kalsiumaanvullings preeklampsie en premature geboortes voorkom. Vroue wat borsvoed benodig ook meer kalsium. Navorsing toon dat tussen 3% en 5% van beenmassa tydens borsvoeding verlore kan gaan. Deur genoeg kalsium in te neem, kan dié beenmassa binne 6 maande ná borsvoeding gestaak is, herwin word.
  9. Terwyl sommige studies toon dat kalsium die risiko vir sekere soorte kanker (soos kolorektale kanker en borskanker) kan verlaag, toon ander dat ʼn oormatige kalsiuminname moontlik mans se risiko vir prostaatkanker kan verhoog.
  10. Navorsing toon voorts dat kalsium ʼn rol speel om die liggaam teen diabetes en hoë bloeddruk te beskerm. Dit help voorts met bloedstolling. Hoe minder kalsium ʼn mens inneem, hoe meer paratiroïedhormoon produseer die liggaam. Dit verhoog die hoeveelheid vet wat geberg word. Kalsiuminname en kaloriebeheer loop dus hand aan hand indien jy gewigsverlies voor oë het en cholesterol in toom wil hou.

Bykomende bronne: Healthline, NIH, Mayo Clinic, Medical News Today en WebMD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.