Kies breinkos vir beter gemoed

(Foto: Ella Olsson/Unsplash)

Met geen einde in sig vir die Covid-19-pandemie nie, ondergaan ons emosionele veerkragtigheid ʼn strawwe langtermyntoets. Die tempo waarteen spanning, angs en depressie die hoogte inskiet, is wêreldwyd ʼn bron van kommer. Dit word grootliks veroorsaak deur mense se reaksie op dramatiese veranderinge in omtrent elke aspek van hulle lewens.

Volgens die Suid-Afrikaanse Dieetkunde-vereniging (Adsa) is daar ʼn groeiende bewustheid dat ons nou net soveel op geestelike welstand as op fisieke gesondheid moet fokus.

Wanneer dit kom by die instandhouding van ons liggame en die voorkoming van siektes, speel voedselkeuses natuurlik ʼn belangrike rol. Onlangse navorsing het ook dieper gedelf in die rol van voeding op ʼn mens se geestesgesondheid.

Kelly Scholtz, ʼn geregistreerde dieetkundige en woordvoerder van Adsa, sê daar is beduidende skakels tussen voeding en geestesgesondheid wat met spesifieke voedingstowwe en die uitwerking daarvan op die brein verband hou.

“Dieetbenaderings kan aanvullend saam met behandeling gebruik word om geestesgesondheidskwessies op te los,” sê Scholtz.

“Dit kan byvoorbeeld makliker wees om dieetaanpassings te maak as om sosiale situasies of ander bronne van spanning, in die geval van depressie en angs, reg te stel.”

Daarom sluit geestesgesondheidswerkers toenemend ʼn gesonde dieet in as een van die noodsaaklike stappe om gemoedsversteurings te hanteer. Voeding kan verder ʼn rol speel in die beskerming van geestesgesondheid gedurende tye van sowel akute as chroniese stres.

Net soos wat  ʼn gesonde dieet jou geestelike welstand kan verbeter, is die teendeel ook waar.

(Foto: Tamas Pap/Unsplash.)

“Swak voedselkeuses kan moontlik tot gemoedsversteurings lei en word deur kossoorte soos suikerige kosse en drankies, sowel as maaltye of versnaperinge wat meestal uit verfynde koolhidrate bestaan, veroorsaak. Dit is omdat ʼn mens se bloedsuiker- en insulienvlakke styg en dan ineenstort.”

Diëte met ʼn tekort aan voedingstowwe soos vitamien B12 en folaat kan jou kwesbaar maak vir die ontwikkeling van depressie. Om maaltye oor te slaan, kan ons moeg en swak laat voel, en hou die brein honger vir die energie wat ons nodig het om helder te dink en te konsentreer.

Daar is ook ʼn verband tussen jou dermgesondheid en breinfunksie, wat belangrik is vir geestesgesondheid omdat ontwrigtings in die brein se normale vrystelling van “goedvoel”-hormone soos serotonien, vermy moet word.

Die verhouding tussen kos en geestesgesondheid is egter nie so eenvoudig nie. Kgadi Moabelo, nog ʼn Adsa-woordvoerder en geregistreerde dieetkundige, sê fisieke gesondheid en geestelike welstand is onlosmaaklik verbind.

“Wanneer ons goed eet vir ons liggame, eet ons onvermydelik ook goed vir ons verstand.”

Dit kan kenmerkend wees van ʼn persoon wat depressie, angs, gemoedsversteurings of psigiatriese siektes ervaar om fokus te verloor wanneer voedselkeuses gemaak moet word. Verkeerde kosbesluite vererger nie net hulle geestesgesondheidstoestand nie, maar kan ook ʼn negatiewe uitwerking op hul fisieke gesondheid hê.

Volgens Moabelo is daar heelwat studies wat oorgewig en vetsug met geestesgesondheidsversteurings verbind, veral depressie, asook angs, bipolêre versteuring, post-traumatiese stresversteuring (PTSD) en aandagafleibaarheid (ADD). Oorgewig en vetsug word dan ook aan kardiovaskulêre siektes en diabetes gekoppel.

“Dit maak dit noodsaaklik vir ʼn dieetkundige om deel van ’n multidissiplinêre span te wees wat pasiënte help om voedingsuitdagings wat fisieke en geestelike gesondheid kan verbeter, te hanteer.”

Argieffoto: Pixabay

Hoe spanning jou eetpatrone beïnvloed

Moabelo verduidelik dat spanning tot ʼn verhoogde produksie van ghrelin, die sogenaamde “hongerhormoon”, lei en veroorsaak dat jy ooreet. Stres het soms ook tot gevolg dat jy minder aktief is.

“Die ontwikkeling van stresverwante psigiatriese versteurings soos PTSD en depressie het ʼn uitwerking op eetgewoontes. Dit beïnvloed jou eetlus en lei tot swak voedselkeuses waar hoëvet-maaltye met ʼn lae nutriëntwaarde en soetgoed bo vrugte en groente verkies word.”

Eetgewoontes vir beter geestesgesondheid

Scholtz wys daarop dat soos met die meeste gesondheidstoestande, daar geen enkele voedsel of voedingstof is wat geestesgesondheidstoestande kan voorkom of genees nie.

“ʼn Algehele fokus op goeie voeding sal gesondheid in alle opsigte ondersteun. Hoewel die Mediterreense dieet geestesgesondheid optimaliseer en in sommige gevalle selfs kliniese depressie behandel, is daar ander gesonde tradisionele diëte wat soortgelyke resultate het.

Volgens Scholtz is die sleutelkenmerke van hierdie diëte die klem op volvoedsel (“whole foods”), spesifiek volgraankos, groente, vrugte, peulgewasse en gesonde vette van neute, sade, vis en olywe.

(Foto: Dan Gold/Unsplash)

Voedselwenke

Scholtz en Moabelo deel die volgende aanbevelings om geestesgesondheid deur middel van kos te onderhou:

  • Eet ʼn verskeidenheid kossoorte: Die beste manier om voedingstekorte te vermy wat gemoedsversteurings kan veroorsaak of geestesgesondheidstoestande kan vererger, is om elke dag verskillende kossoorte te eet. Dit is ook belangrik om gereelde maaltye en gesonde versnaperinge te eet om brein- en liggaamsenergievlakke te handhaaf.
  • Eet elke dag groente en vrugte: Dit is noodsaaklike bronne van die vitamiene en minerale wat ons nodig het vir optimale funksionering van ons brein en liggame. ʼn Voedingryke dieet sluit ʼn minimum van vyf groente en vrugte elke dag in.
  • Kies koolhidrate verstandig: Vermy verfynde koolhidrate en kies volgraanvariëteite soos volgraanbrode, pasta en bruinrys.
  • Fokus op veselryke kos: Dermgesondheid, wat ʼn invloed op breinfunksionering het, word onderhou deur hoëveselvoedsel te eet. Groente, vrugte, peulgewasse (soos boontjies, lensies of kekerertjies) en volgraan-kossoorte is belangrike bronne van vesel.
  • Kies gesonde vette: Kies gesonder plantolies, soos neute, sade, olyfolie of kanola-olie en avokado’s, in plaas van dierevette. Omega-3-vetsure is veral belangrik vir breingesondheid, en dit word gevind in sekere neute, sade, olierige vis (soos sardyne, tuna of salm) en sommige gefortifiseerde eiers of suiwelprodukte.
  • Proteïen van hoë gehalte is belangrik: Aminosure, die boustene van proteïene, word deur die brein gebruik om gedagtes en gevoelens te reguleer. Ons daaglikse dieet moet proteïene insluit, en gesonde bronne hiervan is maer vleis en pluimvee, vis, soja-gebaseerde voedsel, neute, sade, peulgewasse, eiers en suiwel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.