Klein treë, groot gesondheidsvoordele

Kou stadiger (Foto: iStock)

Om skielik enorme aanpassings aan jou eetgewoontes te maak, is vir baie mense vreesaanjaend en genoeg om die naaste sjokoladestafie van die rak af te gryp vir energie. Tog kan ’n mens met behulp van klein aanpassings aan jou dieet nuwe gesondheidswip in jou stap sit. Hier’s tien wenke:

Kou stadiger

Navorsing toon dat hoe vinniger ’n mens eet, hoe meer eet ’n mens én hoe vinniger tel jy gewig op. Jou eetlus, hoeveel jy eet en wanneer jy versadig voel, word deur hormone beheer wat ’n sein na die brein stuur om te sê dat jy versadig is. Dié sein neem sowat 20 minute om die brein te bereik, dus is stadiger eet die antwoord om minder kalorieë in te neem, meer te kou, en gevolglik met ’n vietser lyf te spog.

Kies volgraan pleks van verfyn. (Foto: iStock)

Volgraan pleks van verfyn

Deur net jou keuse van brood te verander, maak ’n reuseverskil. Kies volgraan- pleks van verfyndegraanbrood. Volgraanbrood is propvol vesel, minerale soos sink, yster, magnesium en mangaan, en vitamien B. Boonop verminder dit die risiko vir tipe 2-diabetes, kanker en hartsiektes.

Kies Griekse jogurt. (Foto: iStock)

Kies Grieks

Vervang jou normale jogurt met Griekse jogurt. Laasgenoemde bevat twee keer meer proteïene en baie minder koolhidrate en laktose as normale jogurt. Verder laat dit ’n mens langer versadig voel. Dit is ook die ideale peuselhappie saam met neute of muesli, en doen, soos jy weet, wondere vir jou tande en bene.

Drink genoeg water.(Foto: iStock)

Wys met water

Navorsing het al telkemale die gesondheidsvoordele daarvan bewys om genoeg water te drink. Dit bevorder gewigsverlies deurdat dit bydra om meer kalorieë te verbrand. ’n Glas water voor of tydens ete is nie ’n ouvroustorie nie. Dit sal help dat jy gouer versadig voel en jou keer om minder ongesonde, suikerryke drankies soos koeldrank te drink. Oorweeg gerus ook vonkelwater as alternatief.

Aartappels is een van die gewildste bygeregte, maar die manier waarop dit voorberei word, bepaal die gesondheidsvoordele al dan nie. (Foto: iStock)

Aartappel-alternatief

Aartappels is een van die gewildste bygeregte, maar die manier waarop dit voorberei word, bepaal die gesondheidsvoordele al dan nie. Ruil jou skyfies eerder vir ’n gebakte of gekookte aartappel. ’n Gebakte aartappel van 100 g bevat slegs 93 kalorieë teenoor die 333 kalorieë wat in dieselfde hoeveelheid skyfies skuil. Boonop bevat oliegebraaide kos soos skyfies transvette wat sleg is vir jou gesondheid.

Eet jou groente as voorgereg. (Foto: iStock)

Groente eerste

Eet jou groente as voorgereg, dit wil sê aan die begin van die maaltyd wanneer jy op jou hongerste is. Navorsing het getoon dat die eet van groente voor ’n koolhidraatryke maaltyd voordelig vir jou bloedsuikervlak is. Deur eers jou groente en dán stysel te eet, laat dit jou gouer versadig voel en verlangsaam die snelheid waarteen koolhidrate in die bloed opgeneem word. Dit is veral nuttig vir mense met diabetes om hul bloedsuiker in toom te hou.

Hoewel ’n yskoue glas lemoensap darem maar lekker is, het navorsers bevind dat daar baie meer voordele daarin lê om vrugte rou te eet. (Foto: iStock)

Kou eerder as drink

Hoewel ’n yskoue glas lemoensap darem maar lekker is, het navorsers bevind dat daar baie meer voordele daarin lê om vrugte (rou) te eet as om sap te drink. Die natuurlike suiker in vrugte word stadiger verteer en keer dat jou bloedsuikervlak skielik die hoogte in skiet. Onthou ook dat vrugtesap nie noodwendig enige vrugte bevat nie. Baie sap bestaan uit konsentraat en hope suiker, terwyl vrugte hope vesel, vitamiene en antioksidante bevat wat hartsiektes, diabetes en kanker keer.

Loop lig voordat jy sogenaamde dieetkos in jou inkopiemandjie laai. (Foto: iStock)

Dergelike dieetkos

Loop lig voordat jy sogenaamde dieetkos in jou inkopiemandjie laai. Die fantastiese verpakking ten spyt, dié beloftes van “vetvry”, “lae vet”, “vet verminder” of “lae kalorieë” beteken bloot die vetinhoud is verlaag, maar dikwels met suiker en ander bestanddele vervang wat meer kalorieë as hul volvet-ouboet bevat.

Maak ‘n plan om genoeg te slaap. (Foto: iStock)

Knip ’n uiltjie

Dié bed is dalk al hol geslaap, maar die belangrikheid van ’n goeie slaaproetine kan nie genoeg beklemtoon word nie. ’n Slegte nagrus versteur nie net jou eetpatroon nie, maar verhoog eetlus en lei gevolglik tot ’n hoër kalorie-inname wat die skaal se naald laat klim. Die risiko vir inflammasie en hartsiektes verhoog, en jou metabolisme, konsentrasie en produktiwiteit trek aan die kortste ent.

Jy’s my swart koffie …

Koffie is nie verniet een van die gewildste drankies nie. Dit hou veel meer voordele in as om jou krag vir die dag te gee. Volgens navorsing is dit ’n uitstekende bron van antioksidante en verminder jou risiko vir tipe 2-diabetes, lewersiektes en breinkragverswakking. Die sleutel: swart, sonder suiker.

Bykomende bronne: healthline.com; webmd.com; healthshots.com

Die sleutel van ‘n gesonder koppie koffie is drink dit swart en sonder suiker. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.