Klim uit jou gemaksone vir ’n gesonder lewe

Die leefstyl-sjef Izelle Hoffman (Foto: Facebook)

Wat kry jy as jy blitsvinnige Jaguar-motors, Land Rovers wat enige bult kan aanpak, en wonderlike, gesonde kos kombineer? ʼn Dag waar jy die lewe behoorlik voluit leef natuurlik!

Die leefstyl-sjef Izelle Hofmann het Dinsdag ʼn geleentheid aangebied waar sy mense gemotiveer het om so goed na hul binneste om te sien as wat hulle na hul geliefde kar omsien.

“Land Rover en Jaguar verskaf gehalte motors wat die ekstra myl sal stap om jou veilig op die pad te hou. So ook moet jy kwaliteit brandstof in jou lyf sit om jouself gesond en veilig te hou,” sê sy.

Hoffman is gebore met aangebore heupdisplasie. Sy het al 14 heupoperasies ondergaan en is oortuig dat sy haarself gesond gemaak het en gesond hou deur die kos wat sy eet.

Sy plaas groot klem op anti-inflammatoriese produkte en die minimale gebruik van suiwel en suiker. Sy maak kosse van natuurlike produkte en geurmiddels. “Hoe varser hoe beter,” sê sy.

Jaguar en Land Rover Centurion werk saam met Hoffman om die boodskap oor te dra.

By die moderne Jaguar Land Rover Experience in Johannesburg het die span draaie met die mees gevorderde Jaguar-motors gery op die dinamiese hanteringsbaan en ook op die glybaan geleer om die kar te laat tol om dan weer beheer oor die kar te verkry.

Die Land Rover- hindernisbaan het ook gesorg vir hope pret (en gille) soos wat dié bekwame motors moeiteloos die styl bulte en verskeie terreine kafdraf. Later is die span se veldry-vernuf op ʼn hindernisbaan in die bos getoets.

Hoffman het haar kenmerkende lae-GI en anti-inflammatoriese disse voorberei met kosse soos komkommer-en-uieslaai, ʼn quinoa-gereg, groenboontjies-en-brokkoli en Marokkaanse hoender en kekerertjies.

Hoffman het onlangs ʼn resepteboek saam met die sangeres Karlien van Jaarsveld uitgegee en is ook tans besig om aan haar eie resepteboek te werk. Dié boek behoort vroeg in 2020 op die rakke te wees.

Vir meer inligting oor Hoffman besoek haar Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae