Kollageen kan jou vel, bene en spiere help

Kollageen is die nuutste aanvulling op almal in die skoonheidswêreld se lippe, maar soos met enige ander nuwe tendens is dit belangrik om nie net blindelings te glo wat vir jou vertel word nie, maar om ook jou eie navorsing daaroor te doen.

Kollageen is die proteïene wat verantwoordelik is vir die vel se elastisiteit. Die menslike liggaam produseer kollageen natuurlik, maar met verloop van tyd begin die produksie daarvan afneem. Dit is dan wanneer mense begin kyk na kollageenaanvullings wat ons by diere kry.

Kollageenaanvullings is beskikbaar in die vorm van pille, tablette en poeiers en is vrylik beskikbaar vir aanlyn aankope en in winkels.

The Harvest Table se kollageen (Foto: Verskaf)

Katherine Clarke, eienaar van die aanlyn winkel The Harvest Table wat kollageen verkoop, sê kollageen is die belangrikste strukturele proteïen wat sorg dat jou bindweefsel, insluitend jou vel, ligamente en bene, gesond bly.

Kollageen bevat 19 aminosure en het meer gram proteïene per kilojoule as die meeste ander proteïenbronne.

“Soos ons ouer word, neem kollageenproduksie af, wat swakker gewrigte en langer hersteltydperke tot gevolg het. Maar dit hoef nie ʼn bekommernis te wees nie, sommige kollageenprodukte is ʼn smaaklose poeier wat jy in jou koffie of smoothie kan inmeng,” sê Clarke.

Wetenskaplikes het nog nie al die veronderstelde voordele ondersoek nie, wat beteken dit is maklik vir skoonheidsbloggers of verkoopspersone om jou te oortuig van iets wat nie waar is nie. Daar is byvoorbeeld nog geen bewyse dat dit voordelig is om kollageen aan jou vel te smeer nie. Navorsing is wel al gedoen oor die inname daarvan.

Die volgende voordele van kollageen is wel al deur wetenskaplike studies bewys:

Vel

In ʼn studie vir die Journal of Medical Nutrition and Nutraceuticals het vroue ʼn mengsel van vitamiene, minerale, hialuronsuur en kollageen gedrink. Die studie het bevind dat vroue wat dié mengsel gedrink het ʼn merkwaardige verskil in die diepte van hul plooie kon sien. Dié deelnemers se velhidrasie en -elastisiteit het ook verbeter.

Nog ʼn studie deur Skin Pharmacology and Physiology het bevind dat vroue wat agt weke lank kollageenaanvullings gedrink het, ʼn verbetering in elastisiteit- en bevogtigingsvlakke in hul vel kon sien.

Gewrigte

Een studie het bevind dat die inname van kollageenaanvullings kan help met gewriggesondheid en pyn in die gewrigte. Hierdie studie het ook bevind dat dit kan help om beendigtheid te help herstel vir mense met osteoporose.

Spiere

ʼn Klein studie, wat 53 mans ondersoek het, het bevind dat kollageen ʼn toename in spiermassa kan aanhelp wanneer dit met gereelde oefening gepaard gaan. Die studie het aangevoer dat die kollageenaanvullings die proteïene wat verantwoordelik is vir spiermassa help stimuleer het.

Meer navorsing is wel nodig om hierdie studie aan te vul.

Bene

Daar is navorsing wat daarop aanspraak maak dat kollageenaanvulling kan help om beendigtheid te herstel.

Die studie het bevind dat vroue wat ʼn mengsel van kollageen- en kalsiumaanvullings vir ʼn jaar lank gedrink het, laer vlakke van die proteïen wat verantwoordelik is vir die afbreek van beendigtheid, in hul bloed gehad het.

Verdere studies is wel nodig om te bewys dat kollageen ʼn uitwerking op beter beendigtheid het.

Hart

In ʼn klein studie van 30 mense is kollageenaanvullings ses maande lank geneem. Die studie het bevind dit kan lei tot ʼn merkwaardige afname in aarvernouing en ʼn ook ʼn afname in die vlakke van slegte cholesterol.

Die afname in aarvernouing is goed vir jou hart, maar verdere studies is nodig om die navorsing te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelm ·

Dit laat jou ook langer leef, maak jou slimmer, maak jou ryker, maak jou meer gewild, genees enige siekte en laat jou mooi sing, laat jou hare mooi welig groei, en enige iets anders op hierdie aarde waaraan jy kan dink. Dis voorwaar wonderlik. Kom nou Maroela, ek is gewoond aan beter van julle af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.