Koppe stamp allermins ’n grap

Bob Saget in 2019. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Die nuus van die Amerikaanse komediant Bob Saget (65) se dood vroeër vanjaar het die wêreld aangegryp. In Februarie is berig dat geen misdaad vermoed word en geen dwelms of alkohol betrokke was nie, en dat sy dood weens ’n kopbesering was. Medici het gevolglik ’n beroep op mense gedoen om alle kopbeserings as ernstig te beskou.

Val van die bed of ’n leer of trappe af, gly in die bad of op ’n (nat) vloer is die algemeenste oorsaak van traumatiese breinbeserings, veral by ouer volwassenes en kinders. Ander oorsake sluit in motorongelukke, geweld en sportbeserings.

Saget se dood, asook die viering van Wêreldbewustheidsdag vir Kopbeserings op 20 Maart, laat die kollig opnuut op dié noemenswaardige oorsaak van sterftes en gestremdheid wêreldwyd val. Hoewel beskikbare data hieroor beperk is, word die jaarlikse voorkoms van traumatiese breinbeserings wêreldwyd op meer as 20 miljoen geraam.

 Wat is ’n kopbesering?

’n Kopbesering is ’n breë term om enige soort besering aan die brein, skedel of kopvel te beskryf. Dit kan wissel van ’n ligte stamp of kneusing tot ’n traumatiese breinbesering. Algemene kopbeserings sluit in harsingskudding, skedelfrakture en kopvelwonde.

’n Geslote kopbesering is enige besering wat nie jou skedel breek nie. ’n Oop (penetrerende) kopbesering is wanneer iets jou kopvel en skedel breek en jou brein binnedring. Dit is moeilik om net deur waarneming te bepaal hoe ernstig ’n kopbesering is. Sommige ligte, oppervlakkige kopbeserings bloei baie, terwyl ernstige(r) beserings soms glad nie bloei nie.

 Hoofsoorte kopbeserings

  1. Hematoom

’n Hematoom is ’n versameling of stolling van bloed buite die bloedvate. Dit kan baie ernstig wees as ’n hematoom in die brein voorkom. Die stolling kan daartoe lei dat druk in jou skedel opbou, wat op sy beurt kan veroorsaak dat jy jou bewussyn verloor of permanente breinskade opdoen.

  1. Bloeding

Daar kan onbeheerde bloeding (hemorrhage) in die spasie rondom jou brein wees, wat subaragnoïdale bloeding genoem word; of bloeding in jou breinweefsel, naamlik intraserebrale bloeding. Subaragnoïdale bloeding veroorsaak dikwels hoofpyn en braking. Die erns van intraserebrale bloeding hang af van hoeveel bloeding daar is, maar enige hoeveelheid bloed kan eindelik veroorsaak dat druk opbou.

  1. Harsingskudding

Harsingskudding vind plaas wanneer die impak op die kop ernstig genoeg is om ’n breinbesering te veroorsaak. Daar word vermoed dat dit die gevolg is van die brein wat teen die harde skedelwand stamp. Die verlies aan liggaamsfunksie wat met harsingskudding verband hou, is gewoonlik tydelik, maar herhaalde harsingskudding kan tot permanente skade lei.

  1. Edeem

Enige breinbesering kan lei tot edeem, of swelling. Baie beserings veroorsaak swelling van die omliggende weefsels, maar dit is ernstiger wanneer dit in die brein voorkom. Jou skedel kan nie uitsit om die swelling te akkommodeer nie en dit lei tot die opbou van druk in die brein, wat veroorsaak dat die brein teen die skedel druk.

  1. Skedelfraktuur

Anders as die meeste bene in die menslike liggaam, het jou skedel nie beenmurg nie. Dit maak die skedel baie sterk en moeilik om te breek. ’n Gebreekte skedel kan nie die impak van ’n hou of slag absorbeer nie, wat dit meer waarskynlik maak dat daar ook skade aan die brein sal wees.

  1. Diffuse aksonale besering

Dié soort besering aan die brein veroorsaak nie bloeding nie, maar beskadig die breinselle. Die skade aan die breinselle lei daartoe dat hulle nie kan funksioneer nie. Dit kan ook lei tot swelling, wat meer skade veroorsaak. Hoewel dit nie so sigbaar is soos ander kopbeserings nie, is dit een van die gevaarlikste tipes kopbeserings wat tot permanente breinskade en selfs die dood kan lei.

(Foto: iStock)

Ken die simptome

Simptome van ’n geringe kopbesering sluit in:

  • hoofpyn;
  • swelling of ’n knop weens ’n stamp of kneusplek;
  • ’n klein, vlak snywond aan die kopvel;
  • lighoofdigheid;
  • moegheid of lusteloosheid;
  • ’n draaiende sensasie;
  • ligte verwarring;
  • naarheid; en
  • ’n tydelike gesuis (tinnitus) in die ore.

Die simptome van ’n ernstige kopbesering sluit die simptome van geringe kopbeserings in, asook die volgende:

  • verloor bewussyn;
  • aanvalle (seizures);
  • braking;
  • balans- of koördinasieprobleme;
  • ernstige disoriëntasie;
  • ’n onvermoë om die oë te fokus;
  • abnormale oogbewegings;
  • ’n verlies aan spierbeheer;
  • spraakprobleme;
  • aanhoudende hoofpyn of hoofpyn wat vererger;
  • geheueverlies;
  • veranderinge in bui; en
  • bloed of helder vloeistof wat uit die oor of die neus vloei.

Kry dadelik mediese hulp indien die persoon sy of haar bewussyn verloor en deurmekaar of gedisoriënteerd voorkom.

(Foto: iStock)

Kopbeserings by kinders

Selfs geringe kopbeserings by kinders is angswekkend. Hoewel die wonde gewoonlik klein is, benodig sommige kopbeserings onmiddellike mediese sorg.

Bel ’n ambulans as die kind:

  • nie asemhaal nie;
  • bewussyn verloor;
  • ’n aanval gehad het;
  • moeilik is om wakker te kry;
  • onduidelik praat of verward optree;
  • wankelrig loop;
  • nie krag in die arms of bene het of hul nek soos gewoonlik kan beweeg nie;
  • bloeding aanhou; en
  • ’n duik in die skedel of baie swelling het.

Raadpleeg jou dokter as die kind:

  • jonger as 2 jaar oud is;
  • van nekpyn kla;
  • aanhou huil;
  • steke vir ’n oop wond benodig;
  • verskeie kere opgegooi het;
  • vloeistof het wat uit die oor of neus vloei;
  • wasige visie het;
  • van erge hoofpyn kla;
  • tekens van geheueverlies en/of verwarring toon;
  • ’n geskiedenis van breinbeserings het;
  • hoër as 1 m ver geval het; en
  • teen die kop getref is deur ’n voorwerp wat teen ’n hoë spoed beweeg.

Hoe word dit gediagnoseer?

Benewens bloedtoetse en x-strale is die vernaamste tegnologie wat vir diagnose ingespan word die volgende:

  • Rekenaartomografieskandering (RTS, ook genoem ’n CT- of CAT-skandering). Dit is ’n kombinasie van X-strale en rekenaartegnologie wat horisontale of aksiale beelde (dikwels genoem skywe) van die liggaam neem. ’n CT-skandering toon gedetailleerde beelde van enige deel van die liggaam, insluitend die bene, spiere en organe.
  • Elektroënkefalogram (EEG). Dis ’n prosedure wat die brein se deurlopende elektriese aktiwiteit aanteken deur middel van elektrodes wat aan die kopvel geheg is.
  • Magnetieseresonansbeelding (MRB, oftewel MRI). Dié diagnostiese prosedure gebruik ’n kombinasie van groot magnete, radiofrekwensies en ’n rekenaar om gedetailleerde beelde van organe en strukture binne die liggaam te neem.

Bykomende bronne: medicalnewstoday; webmd.com; healthline.com; hopkinsmedicine.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.