Kweek gewoontes vir ʼn gesonde leefstyl

Argieffoto (Foto: Marvin Meyer/Unsplash)

Jou nuwejaarsvoorneme is neergeskryf en jy is hoopvol om daardie lys so gou moontlik kaf te draf. Sommige mense streef na beter balans, terwyl ander mense die een ná die ander artikel met wenke vir gesonde leefstylgewoontes op Pinterest lees.

Die reis na ʼn gesonder leefstyl kan egter oorweldigend wees, maar as jy dit in kleiner stappe opbreek, word dit meer hanteerbaar.

Een gewilde metode om gesonde gewoontes te kweek word die “21/90-reël” genoem. Dit is so eenvoudig soos om vir jouself ʼn persoonlike doelwit te stel wat jy binne 21 dae moet bereik. Teen dag 21 sou daardie doelwit ʼn gewoonte geword het. Sodra jy ʼn gewoonte gevorm het, gaan jy voort om dit vir nog 90 dae te doen en so word dit deel van jou leefstyl.

Die metode behels verder dat jy die 90 dae verder in jou eie 3-dag-reël deel. Fokus op en volg ʼn spesifieke gewoonte vir drie dae. Dan stel jy ʼn nuwe gewoonte in terwyl jy met die vorige een aanhou. Die fokus moet op volhoubaarheid wees, en daarom word die 3-dag-stappe gevolg.

Volgens ʼn mediaverklaring deur Intercare, ʼn gesondheidsorgsentrum in Pretoria, kan jy ʼn gesonder leefstyl kweek deur ʼn paar klein veranderinge aan te bring.

Drink genoeg water

Water is noodsaaklik vir ʼn gesonde lewe aangesien elke sel, weefsel en orgaan in ons liggame water benodig. Dit beïnvloed jou liggaamsfunksies, van jou hart tot jou spiere en selfs jou brein. Drink baie skoon water; dit sal jou help om beter en minder traag gedurende die dag te voel.

Eet natuurlike voedsel

Fokus op heel, natuurlike kosse en bly weg van verwerkte voedsel af. Hierdie gewoonte sluit in om daagliks meer vrugte en groente, maer proteïene en gesonde vette te eet. Jy sal meer vesel, vitamiene en voedingstowwe uit volvoedsel kry. Wanneer jy inkopies doen, dink daaraan in terme van bestanddele – jy wil nie kosse eet wat vol bestanddele gepak is wat jy nie kan uitspreek nie.

Eet ʼn gesonde ontbyt

Studies toon dat die oorslaan van ontbyt met verhoogde stres, angs, depressie en moegheid verbind word.

Ontbyt skop jou metabolisme aan die gang, gee jou die energie wat jy nodig het om dinge gedoen te kry, en help jou om te fokus. Deur ʼn goed gebalanseerde ontbyt met vesel en maer proteïene te eet, sal jy langer versadig bly en hope energie hê.

Oefen en raak aktief

Gereelde oefening help om gewig te beheer, asook om gesonde bene, spiere en gewrigte te handhaaf, en dit verminder ons risiko van hoë bloeddruk, hartsiektes en diabetes.

Oefening hoef nie ʼn ysterman-ervaring te wees nie. Iets so eenvoudig soos ʼn vinnige stap van 30 minute kan wondere vir jou gesondheid verrig. Vul dit aan deur die trappe by die werk of by die huis te neem of gaan stap vir 10-15 minute tydens middagete. Die belangrikste ding is om oefening te kry wat jy geniet, nie iets wat ʼn beproewing is nie.

Slaap genoeg

Gebrek aan slaap beïnvloed ons bui en kan lei tot ooreet, lomerigheid, moegheid, gebrek aan fokus en vergeetagtigheid. Die gevolge van slaaptekort kan veel verder strek as die bekende en moontlik langdurige uitwerking op jou brein. Ontwikkel die gewoonte om genoeg te slaap – dit is soms nie hoe lank jy slaap nie, maar hoe doeltreffend jy slaap.

Vermy dit om te eet terwyl jy iets anders doen

As jy eet terwyl jy televisie kyk, op ʼn selfoon of elektroniese toestel doenig is of werk, besef jy nie wat en hoeveel kos jy verorber nie. Deur net op jou kos te fokus, stel jy jouself in staat om bewus te wees van wat jou liggaam wil hê en nodig het. Baie mense ervaar ook dat hulle hierdeur hulle kos meer geniet en meer tevrede is met wat hulle geëet het.

Beplan jou inkopies

Beplan jou inkopies met ʼn begroting en ʼn lys van benodigdhede en hou daarby. Sonder ʼn noukeurige plan sal dit makliker wees om impulsief te koop. Buitendien, as jy nie ongesonde kos koop nie, sal jy dit nie kan eet nie.

Moenie jou gesondheidsorg afskeep nie

Jaarlikse mediese en tandheelkundige ondersoeke kan lewensgevaarlike siektes help opspoor. Vroeë opsporing en behandeling kan jou lewe red. Om chroniese siektes goed te versorg is net so belangrik om ʼn gesonder jy te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.