Kweek gewoontes wat jou immuniteit bou

(Foto: Argief)

“Om planne te beraam om jou immuniteit ʼn hupstoot te gee het ʼn groot gier tydens die Covid-19-pandemie geword. Tog kan die idee wetenskaplik misleidend wees en gebruik word om produkte of behandelings mee te verkoop.”

Só sê dr. Yashica Khalawan, ʼn mediese dokter en algemene praktisyn wat spesialiseer in voorkomende medisyne.

Khalawan sê daar is maar min produkte wat jou immuunstelsel ʼn hupstoot kan gee en dat verbruikers op hulle hoede moet wees vir misleidende advertensies.

“Fokus eerder op deurlopende optimale voeding en eetplanne om seker te maak dat die liggaam in ʼn goeie toestand is om ʼn virus te beveg, eerder as om spesiale produkte of behandelings te gebruik in ʼn poging om immuniteit te verbeter.”

Dr. Yashica Khalawan (Foto: Verskaf)

Khalawan sê daar is nie tans enige navorsing wat kan bewys dat iets soos ʼn detoks of spesiale produkte jou immuniteit se reaksie op ʼn infeksie of virus kan verander nie.

“Daarom is ’n term soos immune boosting op ʼn produk misleidend. Daar is niks wat ʼn mens kan doen, anders as om ʼn gesonde dieet te volg, genoegsame voedingstowwe in te neem en ʼn gesonde leefstyl te handhaaf om jou immuunstelsel te ondersteun nie.”

Khalawan sê ʼn multivitamien is ook dikwels net ʼn mors van geld, omdat jy die vitamienes deur middel van jou dieet inneem en dan die oortollige vitamienes natuurlik uitspoel. Die hoeveelheid vitamiene in ʼn multivitamien wat uiteindelik deur jou liggaam geabsorbeer word, is baie skraps.

Die enigste uitsonderings wanneer dit by vitamiene kom, is vitamien C, sink en vitamien D.

Khalawan stel voor jy probeer selfs met dié vitamiene om dit eerder deur jou dieet in te neem.

Rooivleis en peulgewasse is uitstekende bronne van sink en sitrusvrugte, aarbeie en spinasie kan genoeg vitamien C aan die liggaam voorsien. In Suid-Afrika is dit ook maklik om genoeg vitamien D in te neem met die son wat lekker sterk skyn – anders bevat produkte soos eier en salm ook vitamien D.

“Dit is meestal net as jy ʼn tekort aan een van hierdie vitamiene het dat jy ʼn aanvulling sal moet gebruik. Anders is ʼn gesonde dieet voldoende.”

Kinders

Eetgewoontes onder volwassenes behoort maklik beheerbaar te wees, maar wanneer dit by kinders kom weet elke ouer dis nie so maklik en voor die hand liggend nie.

Khalawan sê ʼn multivitamien vir ʼn kind kan wel ʼn goeie oplossing wees, veral as jy met ʼn kieskeurige eter te doen het.

“’n Multivitamien sal in hierdie geval werk omdat dit nie altyd maklik is om kinders gesond te laat eet nie. Dan is dit makliker om vir hulle ʼn eetbare pilletjie wat soos ʼn lekkertjie lyk te gee om seker te maak hulle kry genoeg voedingstowwe in.

“Dit is ook belangrik om jou kinders te leer om basiese gesondheidsprotokol gereeld toe te pas, soos om hulself skoon te hou en om hul hande te was. So sal jy help dat die immuunstelsel nie te veel verswak as gevolg van ʼn virus nie.”

Laastens is die uiters belangrik om jou kind gesonde slaappatrone te leer.

“Goeie en genoeg slaap is uiters belangrik. Heelwat navorsing is al gedoen wat ʼn sterk immuunstelsel en goeie slaap met mekaar verbind en bevestig. Maak seker jou kind skaal tyd voor elektroniese toestelle af voordat hy of sy gaan slaap, gaan betyds bed toe en slaap elke nag lank genoeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duskolos ·

Ek stem grootliks saam met dr Khalawan dat daar min dinge beter vir immuniteit is as ‘n gesonde, gebalanseerde bord regte kos, dus nie geproseseerde, fabrieks-vervaardigde kos nie. Dit is egter gewoon onwaar dat daar geen navorsing is wat sogenaamde ontgiftiging (detoxing) ondersteun as dat dit immuniteit kan versterk nie. Ek noem ‘n enkele voorbeeld: Dr Valter Longo is ‘n internasionaal-erkende sel-bioloog wat navorsing oor sel-veroudering en outofagie doen. ‘n Voorbeeld van sy navorsing is die 2014-artikel ‘Prolonged Fasting Reduces IGF-1/PKA to Promote Hematopoietic-Stem-Cell-Based Regeneration and Reverse Immunosuppressio’, waarin aangetoon word dat verlengde periodes van vas (wat ‘n effektiewe manier van ontgiftiging is) die witbloedseltelling verminder, en dit dien weer as sneller vir die liggaam se immuunstelsel om nuwe witbloedselle te genereer wat bevorderlik is vir immuniteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.