Kyk uit vir die gevaartekens van uitbranding

(Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

Deur Celeste Labuscagne

As onderwyser hoor jy dikwels “Jy moet dit stadiger vat en rus, jy gaan uitbrand” of “As ʼn mens hoor, is jy besig om te werk. Is jy nie bang jy gaan uitbrand nie?”

Liewe onderwyskollega, wat is jóú antwoord hierop? My antwoord was tot ʼn kort rukkie gelede ʼn onomwonde “Nee, uitbranding bestaan nie”.

Hierdie antwoord het egter ʼn paar weke gelede radikaal verander nadat my dominee my gebel het en uiters besorgd wou weet wat met my een vriendin, wat ook in die onderwys is, fout is.

Kollegas, hoofde en onderwysdepartement – hierdie is ʼn wekroep vir almal in die onderwys. Alhoewel onderwysers nog altyd aan baie spanning onderworpe was, kan die omstandighede waarbinne onderwysers tans te midde van die Covid-19-pandemie moet funksioneer, reguit op uitbranding afstuur. Die pandemie veroorsaak talle onsekerhede, ʼn dubbele werkslas en lei selfs tot werksverliese, wat weer tot chroniese spanning kan lei.

Volgens dr. Craig Dike is daar ʼn verskil tussen uitbranding en stres. Die verskil lê veral in die simptome of “gevaartekens” wat geopenbaar word. Die infografika hier onder dui die verskille in hierdie gevaartekens aan. Hieruit is dit duidelik dat ʼn persoon wat aan uitbranding ly baie ernstiger simptome ervaar as iemand wat onder spanning verkeer. Die simptome, soos gelys, is egter die minder gevaarlike simptome.

Navorsing dui ook daarop dat die sentrale senuweestelsel en brein negatief deur uitbranding beïnvloed word. Daar is ook al hoe meer bewyse dat uitbranding ʼn persoon se kognitiewe funksie kan oorweldig, en dat daar gevolglik spesifieke veranderinge in die anatomie en funksionering van die brein kan plaasvind. Hierdie invloede kan verreikende gevolge vir die individu sowel as die skool inhou.

(Grafika: Solidariteit Skoleondersteuningsentrum)

ʼn Persoon wat aan uitbranding ly, kan uiteindelik ook ernstige sielkundige probleme ondervind. Sodanige persone sal nie net aan depressie begin ly nie, maar in sommige gevalle hulself aan die samelewing begin onttrek. Hulle kan so ernstig geaffekteer word dat medikasie nie meer die probleem sal kan beheer nie en mediese verlof selfs hulle voorland mag word. In ernstiger gevalle word persone selfs op vervroegde pensioen geplaas aangesien hulle vermoë om sinvol te werk afgeneem het. Die wil om “aan te gaan en aan te hou” neem drasties af sodat hulle net nie meer kans sien om te werk nie.

Ernstige fisieke probleme kan in baie gevalle van uitbranding ondervind word. Die rede hiervoor is dat die immuunstelsel tydens uitbranding uitgeput raak. Persone is dan meer vatbaar vir siektes soos griep, verkoue en selfs outo-immuunsiektes. In ernstiger gevalle kan persone selfs simptome soos borspyn, hartkloppings, kortasem, gastro-intestinale pyn, lighoofdigheid en floutes ervaar. Persone wat aan uitbranding ly, mag ook spierpyne ondervind, tot op die punt waar dit vir sodanige persone moeilik raak om selfs net te loop.

Uitbranding onder onderwysers is ʼn feit, maar jy kan dit voorkom.

Dit is belangrik om te besef dat uitbranding nie ʼn skielike episode gaan wees nie. Uitbranding gebeur geleidelik. Ons beleef almal dae wat ons oorweldig, moedeloos, vasgevang en energieloos laat. Menige van ons het al hierdie emosies ervaar, en veral tydens hierdie pandemie (en gevolglike inperking). Die gevaarligte begin egter flikker wanneer jy élke dag hierdie negatiewe emosies ervaar. Dit is belangrik om te besef dat deurdruk nie in hierdie geval noodwendig ʼn moontlikheid is nie. Jy moet rustig raak, asemhaal en van rigting verander om jouself deur hierdie situasie te bestuur.

Wanneer ʼn persoon met uitbranding gekonfronteer word, is daar ʼn drie-stap-strategie wat gevolg kan word. In ʼn artikel deur Smith, Segal en Robinson (2020) op helpguide.org word hierdie proses as die “Three R approach” beskryf. Ons kyk kortliks na wat hierdie benadering behels:

 Herken (recognise). Herken die simptome en tekens van uitbranding.

 Omkeer (reverse). Maak die skade wat aangerig is ongedaan deur die regte ondersteuning te kry en jou spanning (stres) te leer beheer.

 Veerkragtigheid (resilience). Bou weer jou veerkragtigheid teenoor stres of emosionele druk op deur aandag en tyd aan jouself te bestee. Belê in (goeie ou) gesonde fisiese en emosionele welstand.

Dit is belangrik om te onthou dat wanneer jy met uitbranding moet saamleef, probleme vir jou onoorkombaar lyk en jou lewe bleek en doelloos mag voorkom. Dit is dan juis nie die tyd om jouself van die samelewing af te sonder en te onttrek nie. Sosiale kontak is in hierdie geval die teenvoeter vir hierdie negatiewe gevoelens wat jy ervaar. Onder hierdie omstandighede is dit belangrik om met kundige persone oor jou ervaring te praat. Sodanige persoon moet ʼn goeie luisteraar wees, en veral ʼn luisteraar wat jou nie sal oordeel nie. Jy kan egter nie van sodanige persoon verwag om die snellers van jou stres te elimineer nie.

Wenk 1: Reik uit

In hierdie tyd sou dit wenslik wees om na ʼn gesinslid uit te reik en om meer sosiaal met jou kollegas by die werk te verkeer. Dit kan jou veral beskerm teen die uitbranding wat jy as gevolg van jou werksomstandighede mag ervaar. Dit is ook belangrik om in hierdie tyd so min as moontlik kontak met negatiewe persone te hê, of om hul selfs heeltemal te vermy. Negatiewe mense kan in hierdie tyd jou gemoed nog verder die modder intrek. Oorweeg dit selfs om nuwe vriende te maak – wie nie waag nie, wen nie.

 Wenk 2: Neem voorraad van jou prioriteite

Uitbranding is gewoonlik ʼn teken dat jy te veel hooi op jou vurk het. Probeer om jouself nie met werk te oorlaai (of te laat oorlaai) nie. Stel grense en maak seker dat jy en ander mense hierdie grense respekteer. Dit is ook belangrik dat jy tyd maak om weg te kom van oormatige tegnologiegebruik, asook van neerdrukkende werksomstandighede. Skuif alle sosiale media en jou selfoon vir ʼn uur per dag opsy. Jy moet ook seker maak dat jy genoeg slaap inkry, aangesien onvoldoende slaap tot ongewenste onverstandige denke mag lei.

Wenk 3: Maak oefening ʼn prioriteit

Dit is belangrik om elke dag ten minste 30 minute aan oefening te bestee. Dit sal jou aandag van jou negatiewe gedagtes aflei en jou dwing om op jou liggaamsfiksheid te konsentreer. Oorweeg dit ook om by ʼn stapgroep aan te sluit en stap veral oor naweke saam met die groep. Jy kan selfs nog meer avontuurlustig wees deur vir jou ʼn bergfiets aan te skaf en by ʼn sosiale fietsrygroep aan te sluit. Dit mag jou aangenaam verras oor hoe goed dit jou siel sal voed. Jy kan na hartelus met groeplede gesels terwyl jy die natuur om jou geniet en waardeer.

 Wenk 4: Eet gesond

ʼn Gesonde dieet is nie net voordelig vir jou lyf nie, maar ook vir jou gemoed. Bly weg van suiker en verfynde koolhidrate, aangesien hierdie tipe koolhidrate tot ʼn skielike val in jou bloedsuikervlakke kan lei. Dit is nie net liggaamlik katastrofies nie, maar jou gemoed sal ook hieronder ly. Eet so organies as moontlik en bly weg van preserveermiddels, ongesonde vette en te veel kaffeïen!

Rook is ook nie ʼn oplossing vir ʼn negatiewe gemoedstoestand nie, aangesien nikotien ʼn stimulant is wat verhoogde angsvlakke tot gevolg mag hê. Alkohol moet ook met matigheid voor oë gebruik word. Dit het ʼn kortstondige kalmerende effek, maar daar is bewyse dat angsvlakke toeneem wanneer die effek van alkohol uitgewerk het.

Indien jy hierdie wenke toepas en jy steeds nie verbetering in jou gemoedstoestand ervaar nie, is dit raadsaam om professionele hulp in te win. Maak ʼn afspraak by ʼn sielkundige of by jou dokter. Uitbranding is ʼn ernstige saak en dit is lewensbelangrik om die korrekte hulp in te win voordat die skade onomkeerbaar is.

 Kyk na jouself. Ons jeug het jou as onderwyser nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Ek weet nie hoe enigeen ‘n onderwyser kan wees nie. Ek onthou hoe ons as kinders was en ek hoor vandag se kinders is NOG erger. En deesdae mag jy hulle nie meer teen die rugby-pale ophang as hulle stout was nie. Nee, nou het almal mos “menseregte”.

Anyway, hoop jy voel beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.